Geslote kantore, leë beursies

Okahandja se pensioenarisse eis antwoorde
Verskeie bejaardes het nie hul pensioentoelaes ontvang nie, ondanks herhaalde besoeke aan staatskantore op soek na antwoorde.
Aurelia Afrikaner

Vir baie pensioenarisse is die maandelikse staatstoelae meer as net ’n inkomste – dit is die verskil tussen oorlewing en honger. 

Maar vir talle bejaarde inwoners op Okahandja en elders in Namibië is daardie reddingslyn onderbreek, wat baie pensioenarisse vir maande sonder ’n inkomste laat en sommige tot wanhopige maatreëls dwing net om aan die lewe te bly.

Toe Windhoek Express Saterdag Okahandja besoek het, het pensioenarisse hartverskeurende verhale gedeel van gemiste betalings, groeiende skuld en toenemende onsekerheid terwyl hulle probeer verstaan waarom hul toelaes opgehou het. Onder hulle was ’n bejaarde vrou wat gesê het sy het haar pensioen vir drie maande nie ontvang nie. Sonder enige ander bron van inkomste spandeer sy nou haar oggende om deur die dorp te stap en leë bottels, plastiekhouers en skrootmetaal bymekaar te maak, wat sy verkoop om genoeg geld vir kos te verdien.

Wat eens ’n beskeie aftrede was, het ’n daaglikse stryd om oorlewing geword. “Ek staan elke oggend vroeg op om bottels en blikkies op te tel, want ek het geen ander manier om ’n bestaan te maak nie,” het Maria !Oabes (64) gesê.

Sy is nie alleen nie. Verskeie pensioenarisse het aan Windhoek Express gesê hulle is sonder hul toelaes gelaat, ondanks herhaalde besoeke aan staatskantore op soek na antwoorde. Baie het gesê hulle het aan al die vereiste registrasie- en verifikasieprosesse voldoen, net om aangesê te word om te wag sonder ’n duidelike verduideliking of tydlyn vir wanneer betalings sou hervat.

Noami Classen het gesê sy het verwag om drie maande se toelae te ontvang, maar het net N$900 in haar rekening gevind. 

“Daar is vir my gesê aftrekkings is van die lening gemaak, maar niemand kon verduidelik hoeveel afgetrek is of waar die res van die geld heen is nie,” het Classen gesê.

Sy het bygevoeg dat die N$900 onmiddellik gebruik is om ’n Bonlife-betaling te vereffen, wat haar met niks gelaat het om kos te koop nie.

Denias Kotza (65) het bevraagteken wat met die onbetaalde maande sou gebeur as begunstigdes voortaan net vir een maand betaal word. Die onsekerheid plaas pensioenarisse ook onder toenemende finansiële druk.

Baie ontvang steeds eise vir uitstaande betalings op winkelrekeninge, versekeringspolisse en ander finansiële verpligtinge, ondanks die feit dat hulle geen pensioeninkomste het om daardie verpligtinge na te kom nie. 

“Hoe betaal ek as ek skaars enigiets verdien het?” het Classen gevra. 

Ander het gepraat van bejaarde inwoners wat kinders en kleinkinders ten volle deur hul maandelikse pensioentoelaes onderhou. Sonder daardie betalings word hele huishoudings sonder kos of basiese noodsaaklikhede gelaat.


VAN BAKBOORD NA STUURBOORD

Verskeie pensioenarisse het beskryf hoe hulle herhaaldelik tussen verskillende kantore reis op soek na hulp, net om elders heen verwys te word of te hoor dat amptenare self nie toegang tot die nodige stelsels kan kry nie. 

Talle het hul frustrasie uitgespreek oor wat hulle as swak kommunikasie van die owerhede beskryf het. “Ons vra nie vir wonderwerke nie,” het Kotza gesê. 

“Ons wil bloot hê iemand moet vir ons sê wat aangaan, waarheen ons moet gaan en wanneer ons ons geld sal ontvang.”

Pensioenarisse het aan Windhoek Express gesê hulle het herhaaldelik die kantoor van die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn op Okahandja, asook ander staatskantore, besoek op soek na antwoorde. 

“So al die opgevoede mense in hoë posisies, insluitend die kiesafdelingsraadslede, het nie eens daaraan gedink om pensioenarisse ’n kospakkie te gee terwyl hulle vir hul pensioengeld veg nie?” het Kotza gevra. 

Windhoek Express het gevind dat die ministerie se Okahandja-kantoor, wat voorheen by die dorp se inkopiesentrum geleë was, gesluit was. Volgens ’n ontvangsdame by die sentrum is die perseel gesluit weens onbetaalde huur. Hoewel die ontvangsdame geweier het om die bedrag wat verskuldig is bekend te maak, het sy gesê dit was groot genoeg dat die eienaar van die eiendom opgetree het. 

Alle dokumente en kantoortoerusting is binne die kantoor toegesluit en kan eers bereik word sodra die uitstaande huur vereffen is.

“Ek het vir hierdie land vir dekades gewerk,” het Kotza gesê. “Nou dat ek oud is, moet ek vir antwoorde bedel.”

Terwyl die vertragings voortduur, verander frustrasie geleidelik in wanhoop. Die pensioenarisse sê hulle soek nie spesiale behandeling nie, net die tydige betaling van die toelaes waarop hulle staatmaak om met waardigheid te leef. 

Toe Windhoek Express die ministerie se streekkantoor besoek het, was geen amptenare beskikbaar nie. Pensioenarisse wat daar gewag het, het gesê hulle is ingelig dat personeel op ’n rekenaar van Otjiwarongo wag voordat hulle met die verwerking van pensioenverwante sake kan voortgaan.

Vir die vrou wat elke oggend haar trollie deur die strate van Okahandja stoot op soek na bottels, beteken elke gemiste betaling nog ’n dag van bottels soek en optel, eerder as om die rustige aftrede te geniet waarop sy gehoop het.

Haar verhaal het ’n skerp herinnering geword dat agter elke vertraagde pensioenbetaling ’n bejaarde Namibiër staan wie se daaglikse stryd nie meer oor gerief gaan nie, maar oor oorlewing.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-07-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer