‘Geldskieters moedig lenings aan’

Loonaftrekkings kry die skuld vir kontantlenings
Huishoudelike skuld het teen Desember op N$78 miljard gestaan, met mikrolenings wat N$7,5 miljard hiervan uitmaak.
Staff Reporter

Namibië se finansiële reguleerder sê die land se opgeblaasde kontantleningsmark, wat in Desember N$7,5 miljard bereik het, word deels deur ’n loonaftrekkingstelsel aangedryf wat uitleenrisiko verminder en lenings aanmoedig.

Die Toesighoudende owerheid vir finansiële instellings in Namibië (Namfisa) het verlede week bevestig dat totale huishoudelike skuld teen Desember 2025 op N$78 miljard gestaan het, met die mikroleningsbedryf wat sowat 9% daarvan uitmaak, of ongeveer N$7,5 miljard.

Die loonaftrekkingstelsel dateer uit die staatsdiens se loonreëlings wat in die laat 1990’s en vroeë 2000’s ingestel is.

Dit het sedertdien in Namibië se mikroleningsbedryf ingewortel ná die inwerkingstelling van die Mikroleningswet van 2003.

Namfisa se hoofbestuurder vir markgedrag, Hilka Alberto, het voor die parlement se staande komitee oor ekonomie, nywerheid, openbare administrasie en beplanning in Windhoek gesê die struktuur van die mikroleningsbedryf, veral loongebaseerde lenings, is ’n kerndryfveer van die stygende huishoudelike skuldlas.

Alberto het gesê toegang tot krediet in die mikroleningsbedryf bly aansienlik makliker as in die formele bankstelsel, omdat die loonaftrekkingsmodel wanbetalingsrisiko verlaag deur terugbetalings direk uit salarisse te verseker, veral van staatsamptenare.

“Die struktuur van die stelsel maak dit makliker vir uitleners om krediet toe te staan, omdat terugbetaling in wese by die bron gewaarborg is,” het Alberto gesê.



TOEGANG TOT KREDIET

Alberto het gesê ’n kombinasie van strukturele, gedrags- en markfaktore dryf die skuldlas.

Struktureel, het sy verduidelik, het die loonaftrekkingstelsel toegang tot krediet uitgebrei.

Gedrag beïnvloed  volgens haar leefstylkeuses en beperkte finansiële geletterdheid weer leenbesluite.

Op markvlak druk stygende lewenskoste en krimpende inkomste huishoudings om op krediet staat te maak om te oorleef.

Alberto het verduidelik dat mikroleners, anders as banke, oor die algemeen nie sekuriteit vereis nie en minder streng goedkeuringsprosesse toepas, wat krediet toeganklik maak, veral vir lae-inkomste verdieners.

Alberto het gewaarsku dat evaluerings oor bekostigbaarheid nie konsekwent toegepas word nie, wat die risiko van oormatige skuld verhoog.

Sy sê jy kry sommige uitleners wat behoorlike evaluerings doen, maar ander volg nie die volledige prosedures nie en dit lei daartoe dat verbruikers lenings aangaan wat hulle nie kan bekostig nie.

Alberto het gesê behoorlike evaluerings behoort op ’n lener se diskresionêre inkomste gegrond te wees – die inkomste wat oorbly nadat alle finansiële verpligtinge verreken is – wat vereis dat uitleners betaalstrokies, bankstate en bestaande uitgawes nagaan voordat krediet goedgekeur word.

Namfisa se toesig bly beperk, het sy bygevoeg.

“Ons is nie in staat om na alle uitleners toe te gaan nie, daarom fokus ons op dié wat meer verbruikers raak,” het sy gesê en die beperkings in toesighoudende kapasiteit benadruk.


UITBUITING

Ten spyte van bestaande wette bly daar leemtes in die regulatoriese raamwerk. Alberto het gesê pandjieswinkels, kleinhandelwinkels en ander uitleners val buite die huidige regulering, wat tot ongelyke toepassing lei en verbruikers aan moontlike uitbuiting blootstel.

Namfisa se uitvoerende hoof, Kenneth Matomola, het gesê die reguleerder het 75% van sy strategiese teikens in die 2024-’25-boekjaar bereik, met verdere verbeterings wat beplan is om toesig te versterk.

Alberto het beklemtoon dat beter uitkomste ook ’n gekoördineerde fokus op verbruikersopvoeding en finansiële geletterdheid sal verg om leners te help om ingeligte besluite te neem en die afhanklikheid van krediet te verminder in ’n omgewing waar baie huishoudings reeds onder streng inkomstebeperkings funksioneer.


WETSONTWERP

Die regering ontwikkel ’n wetsontwerp op verbruikerskrediet om alle uitleners onder ’n enkele regulatoriese raamwerk byeen te bring, gapings te vernou en verbruikersbeskerming te versterk, het Alberto gesê.

Die openbare verhoor het plaasgevind sodat die parlement kan evalueer of Namibië se uitleenwette hul doel dien, deur kwessies soos rentekoerse, aftrekkingskodes, fooie, terugbetalingstermyne, praktyke vir skuldinvordering, kapasiteit vir afdwinging en beskermingsmaatreëls vir verbruikers te hersien.

Die adjunkvoorsitter van die komitee, Hilma Iita, het gesê Namibië is ’n grondwetlike demokrasie wat op menswaardigheid, gelykheid en maatskaplike geregtigheid gebou is.

Sy het gesê dit is onaanvaarbaar dat burgers, veral die kwesbaarstes, vasgevang is in skuldsiklusse wat hul waardigheid ondermyn en hul lewensbestaan ontwrig.

Iita het beklemtoon dat te veel Namibiërs onder die gewig van skuld swaarkry – nie skuld wat vir belegging nie, maar skuld wat vir kos, huur en skoolfooie aangegaan is.

Op 28 Augustus 2025 het die ministerie van finansies ’n riglyn uitgereik om diskresionêre loonaftrekkings op die stelsel vanaf 30 November te beëindig en gelas slegs bestaande lenings sou voortgaan, terwyl verpligte aftrekkings soos belasting en pensioenbydraes sou bly.

Die ministerie het aangevoer dat loonaftrekkings wat deur mikroleners gebruik word, nie aan die arbeidswet voldoen nie en uitleners in staat gestel het om behoorlike evaluerings van bekostigbaarheid te omseil.

Die voorgestelde uitfasering is daarop gemik om strenger uitleenpraktyke af te dwing en oormatige skuld te verminder, het die ministerie verduidelik.

In reaksie hierop het mikrolener Entrepo Finance ’n dringende aansoek ingedien om die besluit te betwis. Die maatskappy het aangevoer dat die verwydering van aftrekkingskodes irrasioneel, onreëlmatig en onredelik was. 

Adjunk-regterpresident van die hoërhof, Hannelie Prinsloo, het in November 2025 gelas dat die stelsel moet voortgaan om te funksioneer. Sy het aangedui dat die minister nie met die laai van nuwe aftrekkings moet inmeng nie en dat die stelsel in plek moet bly.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-06-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer