Wyle resident Hage Geingob se aftreehuis op SwakopmundrnFoto Adam Hartman
Wyle resident Hage Geingob se aftreehuis op SwakopmundrnFoto Adam Hartman

Geingob se aftreehuis duurder

Huis by die see aan weduwee oorhandig
Die eiendom van 1 677 vierkante meter is in Swakopmund se welgestelde Vineta-woonbuurt geleë.
Sonja Smith

Die staatsbefondsde woning wat oorspronklik vir voormalige president Hage Geingob se aftrede gebou is, het sy begroting van N$36 miljoen met meer as ’n halfmiljoen dollar oorskry, met die presidensie wat die styging aan bykomende werke toeskryf.

Dokumente wat deur Network Media Hub (NMH) gesien is, toon dat die finale projekuitgawe N$36 711 233 bereik het, wat ’n toename van N$519 593 bo die oorspronklike kontrakwaarde verteenwoordig.

Die uitvoerende direkteur in die presidensie, Mateus Kaholongo, het gesê die oorspronklike kontrakprys van die projek het op N$36 191 639 gestaan voordat dit opwaarts aangepas is.

“Die oorspronklike kontrakprys vir die projek was N$36 191 639,45 en is na N$36 711 233,10 aangepas, wat ’n toename van N$519 593,64 (1,44%) bo die kontrakprys weerspieël,” het Kaholongo gesê.

Volgens hom was die styging gekoppel aan bykomende werk wat nie deur onvoorsiene uitgawes van die projek gedek is nie, asook koste wat verband hou met die verlenging van die projek se voltooiingsdatum.

“Die toename het ontstaan uit bykomende werke wat nie deur onvoorsiene uitgawes gedek is nie, tesame met tydverwante voorlopige kostes en algemene vereistes wat met die verlenging van die beoogde voltooiingsdatum gepaardgaan,” het Kaholongo verduidelik.

Die presidensie het gesê die bykomende uitgawe het die installering van onder meer ’n drukpomp, bykomende elektriese installasies, CCTV- en elektroniese stelsels, die installasie van verwarming-, ventiliasie- en lugversorgingstelsels en koste wat verband hou met die verlenging van die voltooiingstydperk gedek.

Die projek het is op 8 Oktober 2025 voltooi en is amptelik op 17 Oktober 2025 aan die voormalige eerste dame, Monica Geingos, oorhandig.

Kaholongo het bevestig dat Geingos tans op die eiendom woon.

In Julie verlede jaar het NMH berig dat die Wet op Pensioen en Ander Voordele vir Voormalige Presidente van 2012 toelaat dat Geingob se erfgename die huis kan erf, aangesien hy gesterf het voordat hy dit bewoon het. 

Die huis, geleë in Swakopmund se welgestelde Vineta-woonbuurt, staan op ’n erf van 1 677 vierkante meter. Dit beskik oor vyf slaapkamers, ’n gastevleuel met drie slaapkamers, ’n studeerkamer, swembad, twee waghokkies en ’n motorhuis vir vier voertuie, in ooreenstemming met statutêre bepalings.

Die huis sal ook akkommodasie vir personeel insluit, waar onder drie huishoudelike werkers, twee tuiniers, kokke, kelners en  wasgoedpersoneel elk.

Vrae oor die toekoms van die woning het ná Geingob se dood in Februarie 2024 ontstaan terwyl konstruksiewerk nog aan die gang was.

Met betrekking tot die kwessie het Kaholongo gesê die nodige goedkeuring vir die woning was reeds verkry voor die president se afsterwe.

“Ná sy afsterwe, terwyl die projek nog aan die gang was, was dit moontlik vir die gade om eienaarskap te aanvaar en die eiendom te benut,” het hy gesê.

Die presidensie het verder bevestig dat die huis onder ’n retensietydperk tot Oktober 2026 bly.

“Sodra hierdie tydperk eindig, sal die kantoor verantwoordelikheid vir voortgesette instandhouding neem,” het Kaholongo gesê.

Hy het bygevoeg dat sekuriteitspersoneel, ondersteun deur skoonmakers en werkers, intussen aan die eiendom toegeken is.

Volgens die wet moet afgetrede presidente voorsien word van “’n gemeubileerde ampswoning op enige plek in Windhoek of, op versoek van die voormalige president, sodanige behuisingstoelae as wat die kabinet in die plek daarvan mag bepaal, insluitend ’n toelae vir telefoonkoste en water- en elektrisiteitsheffings ten opsigte van ’n woning anders as ’n ampswoning”.

Ander aansprake sluit ’n pensioen, voordele vir die gade en afhanklikes, insolvensiebeskerming en die vrystelling van inkomstebelasting in. Die wet bepaal verder dat ’n voormalige president ’n maandelikse pensioen betaal moet word wat gelykstaande of hoër is as die maandelikse basiese salaris wat hy of sy pas voor sy of haar uittrede uit die amp ontvang het, of 80% van sy of haar opvolger se salaris. 

Dit bly egter onduidelik of salarisgekoppelde voordele steeds van toepassing is in gevalle waar die beoogde begunstigde sterf voordat hy of sy die by die woning intrek.

Geingob is net 11 maande voor die einde van sy tweede en laaste termyn wat op 21 Maart 2025 sou eindig, oorlede. 

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer