‘Geen oudits, geen geld’

Sankwasa vat plaaslike rade vas
Die minister sê swak dienslewering kan nie meer net op ’n gebrek aan geld geblameer word wanneer rade versuim om geld in te vorder wat aan hulle verskuldig is nie.
Leandrea Mouers

Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa, het ’n strenger benadering tot munisipale finansies aangedui en gewaarsku dat rade staatsbefondsing kan verbeur indien hulle nie geouditeerde finansiële state indien of die invordering van inkomste versterk nie.

Sankwasa het gesê swak dienslewering in baie dorpe en die hoofstad kan nie langer uitsluitlik aan ’n tekort aan befondsing toegeskryf word wanneer rade nie inkomste invorder wat hulle toekom nie.

Sy toespraak is namens hom deur Erongo se goewerneur, Nathalia /Goagoses, by die opening van die Vereniging van Plaaslike Owerhede in Namibië (ALAN) se kongres verlede week op Walvisbaai voorgelees.

“Plaaslike owerhede word dikwels gekritiseer vir swak dienslewering, insluitend paaie vol slaggate, rommel en toegegroeide strate. Die gewone verdediging is ’n gebrek aan fondse. 

“Al kan dit verstaanbaar wees, word dit selfondermynend wanneer rade versuim om inkomste in te vorder wat aan hulle verskuldig is,” het Sankwasa gemaan.

Die minister het sy opdrag herhaal wat plaaslike owerhede verplig om water, elektrisiteit en ander munisipale dienste aan regeringsinstellings, staatsbeheerde entiteite en besighede wat versuim het om uitstaande rekeninge te vereffen, op te skort.

Baie rade ervaar finansiële probleme terwyl aansienlike bedrae geld steeds nie by wanbetalers ingevorder word nie, het hy beklemtoon.

“Hierdie opdrag is bedoel om plaaslike owerhede te help om inkomste te verhoog en kritiek oor swak dienslewering aan te spreek.

“Rade wat versuim om die opdrag toe te pas om dienste weens wanbetaling op te skort, moet nie na die ministerie toe hardloop vir reddingsboeie nie,” het Sankwasa gewaarsku.

Die kongres met die tema, “Empowering Communities: Local Government as Catalyst for People-Centred Development, Inclusion and Social Justice”, het gefokus op die versterking van dienslewering en aanspreeklikheid.

“Burgers moet optrede sien, nie beloftes hoor nie. Woorde moet omsit in skoon water, ordentlike behuising, betroubare afvalbestuur en geleenthede vir lewensbestaan,” het hy gesê.

Die minister het bygevoeg dat plaaslike owerhede staatsubsidies ontvang, maar dat baie rade versuim het om deur oudits rekenskap van hierdie fondse te gee.

“Ek herinner alle burgemeesters en voorsitters van bestuurskomitees daaraan dat my opdrag vereis dat alle plaaslike owerhede hul geouditeerde finansiële state voor die einde van Junie by my kantoor moet indien,” het hy bygevoeg.

“Enige plaaslike owerheid wat nie hieraan voldoen nie, kan nie verwag dat fondse wat vir die 2026-’27-boekjaar bewillig is, uitbetaal sal word nie.”


BEMAGTIGING VAN GEMEENSKAPPE

Sankwasa het ook beleidsmaatreëls aangekondig wat daarop gemik is om toegang tot stedelike grond te verbeter.

“Daar sal nie meer situasies wees waar gedienste grond wat teen lae pryse by plaaslike owerhede verkry is, deur beleggers teen buitensporige winste herverkoop word nie. 

“Net so sal daar nie meer die opveil van grond aan die hoogste bieër deur plaaslike owerhede wees nie,” het hy gesê.

Hy het erken dat baie stedelike inwoners, ondanks 36 jaar van onafhanklikheid, steeds met onvoldoende behuising, swak sanitasie en beperkte toegang tot noodsaaklike dienste te kampe het.

“Ons moet gesamentlik kreatiewe en innoverende maniere vind om ons kiesafdelings te mobiliseer om lewenstandaarde te verbeter,” het hy gesê.

Sankwasa het gesê die regering is in gesprek met die regering se pensioenfonds (GIPF) oor moontlike meganismes om inisiatiewe vir behuisingsontwikkeling deur plaaslike owerhede te ondersteun.

“GIPF het ingestem om ’n aanbieding aan plaaslike owerhede te doen oor moontlike oplossings vir uitdagings van behuising en sanitasie,” het hy gesê.

Die minister het ook gevra vir sterker erkenning en finansiële volhoubaarheid van ALAN, terwyl hy plaaslike owerhede aangespoor het om bedryfsbestuur te verbeter en samewerking met die regering te versterk deur die implementering van bestaande beleid en wetgewing.

Hy het verder groter aanspreeklikheid, deursigtigheid en samewerking tussen plaaslike owerhede, streekrade, tradisionele owerhede, burgerlike samelewingsorganisasies en die private sektor beklemtoon om ontwikkeling te versnel en lewensomstandighede oraloor die land te verbeter.

“Onthou dat ’n politieke posisie tydelik is. Dit word deur die mense gegee en weer weggeneem. Vermy slagspreuke oor harde werk wanneer daar min is om daarvoor te wys,” het Sankwasa gesê.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer