EPRA: Nuwe beleggingswet ’n muilband vir ekonomie

Vervang regsekerheid met politieke diskresie
'n Dekade oue en veel gekritiseerde wetsontwerp is glo daarop gemik om Namibië se reëlgebaseerde, markgerigte ekonomiese raamwerk te omskep in 'n permitgebaseerde en gesentraliseerde beleggingsregime wat deur die verantwoordelike ministers beheer word.
Brigitte Weidlich
Die konsepwetsontwerp wat beleggings deur plaaslike en buitelandse sakelui reguleer, en al verskeie kere deur die regering hersien is, versmoor Namibië se ekonomie en dien as ’n afskrikmiddel.

Dit is die gevolgtrekking van ’n nuwe ontleding deur die Namibiese Vereniging vir Ekonomiese Beleidsnavorsing (EPRA), wat vandeesweek aan Network Media Hub (NMH) verskaf is.

Die wetsontwerp op die fasilitering van Namibiese beleggings (NIF), soos die jongste voorlopige weergawe nou genoem word, het selfs strenger regulasies.

’n Vorige weergawe is in 2016 deur die parlement aanvaar, maar die wet het nooit in werking getree nie aangesien dit te veel kritiek ontlok het. Sedertdien het die regering aan nuwe weergawes gewerk.

Volgens EPRA se verslag verteenwoordig die jongste weergawe, wat nog nie aan die parlement voorgelê is nie, “’n fundamentele verskuiwing weg van ’n reëlgebaseerde, markgerigte ekonomiese raamwerk na ’n permitgebaseerde en gesentraliseerde beleggingsregime”.

Daarbenewens het die ministers van internasionale betrekkinge en handel, en nywerheidsontwikkeling, myne en energie verreikende diskresionêre magte.

VERVANG REGSEKERHEID

Sedert president Netumbo Nandi-Ndaitwah haar amp aangeneem het, is die ministerie van internasionale betrekkinge ook verantwoordelik vir handel, en die ministerie van myne en energie vir nywerheidsontwikkeling.

In wese vervang die konsepbeleggingswet regsekerheid met politieke diskresie. Die konsepwet bemagtig ’n enkele minister, dikwels met magte wat dié van die kabinet oorskry, om te besluit wie in watter sektore mag belê, onder watter voorwaardes, vir hoe lank, en of ’n belegging uitgebrei, oorgedra of verkoop mag word.

“Dis ’n staatsbeheerde en hersieningswet vir sektorreservering, ’n wet wat ministeriële diskresie verleen, waaronder (plaaslike en buitelandse) beleggers toestemming moet vra om te belê en op versoek van ’n minister vervolg kan word.

“Die beleggingswet bevorder nie belegging nie, maar polisieer (polices) dit eerder,” luidens die EPRU.

BEPERKTE GELEENTHEID

Die jongste weergawe “sal ook, vreemd genoeg, Namibiese sakelui aan beleggingsbeperkings in hul eie land onderwerp”, volgens die verslag.

Dié toekomstige wetgewing vir beleggers skend glo ook internasionale praktyke en beleggingsriglyne soos aanbeveel deur onder meer die Wêreldbankgroep en kundiges.

“Namibië is ’n klein, kapitaalarm ekonomie met swak binnelandse kapitaalmarkte, ’n nou belastingbasis en een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld.

“Dit kan nie ’n beleggingsregime bekostig wat struikelblokke oprig, diskresionêre magte uitbrei en vyandig teenoor private kapitaal is nie," lui die verslag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer