Droogte dryf Angolese vroue, kinders
Meer as 1 000 Angolese burgers is na raming reeds die afgelope jaar vanuit Namibië na hul tuisland teruggestuur nadat daar vasgestel is dat hulle geen immigrasiestatus in Namibië gehad het nie.
’n Verslag deur Amnestie Internasionaal fokus onder meer op die vraag of vroue en kinders wat ’n algemene gesig op onder meer Windhoek se strate geword het en weens droogte ontheem is, individueel vir beskerming geëvalueer word voordat hulle teruggestuur word.
Die verslag, “The drier it gets, the longer you have to walk, the deeper you have to dig”, het ondersoek ingestel na ontworteling weens droogte in suidelike Angola en die uittog na Namibië tussen Mei 2024 en Mei 2026 ondersoek.
Volgens die verslag wat op 2 September gepubliseer is, beland Angolese inwoners wat die grens na Namibië oorsteek, in ’n leemte in Namibië se immigrasie- en beskermingstelsel. Dit maak sommige kwesbaar vir arrestasie, aanhouding en deportasie, ten spyte daarvan dat hulle op soek is na kos, water en ander basiese lewensmiddele.
Amnestie Internasionaal is veral bekommerd oor hoe Namibiese owerhede vroue en kinders behandel wanneer hulle na hul tuisland teruggestuur word.
Dit verwys na ’n voorval op Opuwo op 4 Junie verlede jaar, toe Namibiese owerhede ongeveer 40 Angolese burgers, insluitend vroue en kinders, by ’n gemeenskapsentrum bymekaargebring het en hulle daarna meer as 100 kilometer na die Ruacana-grens vervoer het.
Volgens die organisasie is hulle aan Angolese owerhede oorhandig sonder individuele sifting, inligting oor asiel- of ander beskermingsopsies, of ’n beoordeling van die risiko’s wat met hul terugkeer op hulle wag.
Amnestie Internasionaal voer aan die afwesigheid van individuele assesserings wek kommer oor kollektiewe uitsetting en die beginsel van non-refoulement, ’n kernkonsep in internasionale reg wat bepaal dat lande nie asielsoekers of vlugteling mag terugstuur na ’n land waar hulle vervolging, marteling of ander ernstige menseregterisiko’s in die gesig staar.
Dit laat ook vrae ontstaan oor die behandeling van kinders, aangesien daar onvoldoende inligting in die openbare domein beskikbaar is om vas te stel of beskermingsmaatreëls – insluitend die beoordeling van die kind se beste belang – in sekere gevalle nagekom is.
DROOGTE
Die uitsetting vind plaas te midde van jare se droogteverwante beweging vanuit suidelike Angola na Namibië, veral die provinsies Cunene, Huíla en Namibe.
Voortgesette droogtes wat deur El Niño vererger is, het ’n ernstige impak op vee- en bestaansboerdery gehad, met gesinne wat oeste en vee verloor en sukkel om water te vind.
Mense het gevolglik Namibië binnegekom op soek na kos, water, weiding, gesondheidsorg en werk, asook vir die ondersteuning van familielede.
Tussen Januarie en Julie 2021 het meer as 7 000 Angolese, hoofsaaklik vroue en kinders, die Namibiese grens oorgesteek ná jare van droogte en voedselonsekerheid. Dit het swanger vroue, vroue wat borsvoed en bejaardes ingesluit.
Die oorgrensbeweging het in die daaropvolgende jare voortgeduur, met ernstige droogtes wat in 2023 en 2024 ervaar is. Die werklike aantal mense wat ontheem is, is egter onbekend, aangesien daar geen omvattende stelsel bestaan om mense wat weens droogte ontheem is, te ontvang, te registreer en te monitor nie.
“Hoe droër dit word, hoe langer moet jy loop, hoe dieper moet jy grawe,” het ’n jong Angolese klimaataktivis aan Amnestie Internasionaal gesê.
Terwyl Angolese paspoorthouers Namibië vir beperkte tydperke sonder ’n visum deur amptelike grensposte kan binnekom, sê Amnestie Internasionaal dit gee hulle nie die reg om in Namibië te werk of vir ’n lang termyn in die land te bly nie. Dit bied ook nie ’n toegewyde beskermingsmeganisme vir diegene wat weens droogte verplaas is nie.
Baie mense uit droogtegeteisterde landelike gemeenskappe het ook nie paspoorte of ander dokumentasie nie en steek die grens via informele roetes oor. Sodra hulle in Namibië sonder ’n vaste immigrasiestatus is, beskik hulle oor min praktiese kanale om hul verblyf te wettig, wat hulle aan moontlike arrestasie, aanhouding en deportasie blootstel, luidens die verslag.
Amnestie Internasionaal sê die vrees vir die afdwing van immigrasie, kan ook sommige mense ontmoedig om toegang tot noodsaaklike dienste te verkry.
Die organisasie het vir die verslag onderhoude met ten minste 167 mense gevoer, insluitend ontheemde Angolese, gemeenskapsleiers, regeringsamptenare, verteenwoordigers van die burgerlike samelewing, akademici en lede van die Verenigde Nasies (VN) se taakspan in Namibië.
Die verslag het melding gemaak van gesinne wat in tydelike skuilings van takke, plastiek en karton woon en aan oorbevolking en onvoldoende toegang tot water en sanitasie blootgestel is.
Volgens die verslag is ongedokumenteerde Angolese hoër hospitaalfooie gehef as Namibiese burgers, wat tot die vertraging van behandeling of die vermyding van gesondheidsorggeriewe bygedra het.
“Ons gaan net wanneer die pyn te veel is, andersins gaan ons net lê en wag,” het een vrou aan Amnestie Internasionaal gesê.
Kinders ervaar ook struikelblokke ten opsigte van onderwys, gesondheidsorg en wettige identiteitsdokumente. Byna geen van die kinders in die gemeenskappe wat deel van die verslag uitmaak, het geboortesertifikate gehad nie, ongeag of hulle in Namibië of Angola gebore is.
BEVRAAGTEKEN
Die Namibiese regering het egter aspekte van Amnestie Internasionaal se bevindinge en metodologie bevraagteken.
Die ministerie van internasionale betrekkinge en handel het gesê die verslag is gepubliseer sonder voldoende vooraf konsultasie of genoegsame tyd vir die regering om inligting te verskaf.
Volgens die ministerie bestuur Namibië migrasie in ooreenstemming met die Grondwet, immigrasiewette, nasionale beleide en sy internasionale en streekverpligtinge.
Dit het beklemtoon die kwessie van die Angolese kinders wat ’n bekende gesig in verskeie dorpe en stede in die land geword het, veral waar hulle by verkeersligte bedel of toeriste volg, word in oorleg met Angola en ander rolspelers getakel.
Volgens Amnestie Internasionaal het die organisasie sy belangrikste bevindinge op 17 Augustus in ’n brief aan die Namibiese regering oorgedra. Die brief het ook aangedui dat enige reaksie van Namibië in die finale verslag ingesluit sou word, mits dit voor 26 Augustus ontvang word.
“Amnestie Internasionaal verwelkom die Namibiese regering se betrokkenheid by die verslag wat op 2 September gepubliseer is. Die organisasie verwelkom ook die regering se verbintenis tot ’n wettige, menslike, volhoubare en waardige benadering ten opsigte van die Angolese vroue en kinders in Namibië," het die organisasie in ’n skriftelike reaksie aan Republikein gesê.
Die organisasie het die hoop uitgespreek dat Namibië se verbintenis tot erkenning van die internasionale beskermingsbehoeftes van Angolese vroue en kinders sal lei, asook volle respek vir en die beskerming en bevordering van hul menseregte.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie