Diamante se glans verdof
Namibië se inkomste uit diamantbelasting en -tantième sal na verwagting met byna 93% tuimel – van N$5,8 miljard in 2023-’24 tot slegs N$414 miljoen in die huidige boekjaar.
Die minister van finansies, Ericah Shafudah, het dié syfers Donderdag tydens haar mediumtermyn-begrotingshersiening in die Nasionale Vergadering bekend gemaak.
Sy het bevestig dat die regering verligting met betrekking tot tantième aan die sukkelende diamantbedryf toegestaan het, ten einde werksgeleenthede en uitvoerverdienste te beskerm.
Die verwagte afname verteenwoordig ’n vermindering van ongeveer N$5,4 miljard in jaarlikse diamantinkomste vergeleke met drie jaar gelede. Terselfdertyd raam die regering ’n kumulatiewe tekort van N$5,3 miljard oor die mediumtermyn-bestedingsraamwerk vir 2024-’25 tot 2026-’27.
Belasting en tantième van mynmaatskappye is ook met N$900 miljoen afwaarts hersien – van N$6,1 miljard na N$5,2 miljard. Dit dra by tot ’n vermindering van N$1,5 miljard in die regering se algehele inkomstevoorspelling, wat nou van N$89,6 miljard na N$88,1 miljard gedaal het.
Shafudah het nie die waarde, die begunstigdes of die duur van die verligtingsmaatreëls vir die diamantbedryf bekend gemaak nie. Sy het gesê die regering beoog om die ekonomie te diversifiseer deur middel van landbou, verwerking wat waarde toevoeg en hernubare energie.
Inkomste uit nie-belastingbronne is intussen afwaarts hersien van N$6,1 miljard na N$5 miljard, hoofsaaklik weens laer mineraal-tantième en dividende van openbare ondernemings.
BEK-EN-KLOUSEER
Die afname in inkomste kom op ’n tydstip waarin ministeries, regeringskantore en -agentskappe ’n bykomende N$13,1 miljard aangevra het om in bestedingsbehoeftes vir die res van die boekjaar te voorsien. Dit terwyl die uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) steeds nie opgelos is nie.
Ekonomiese groei vir 2026 is afwaarts hersien van 3,1% na 2,3%. Intussen word voorgestel dat die totale begrotingstoewysing verhoog word van N$87,9 miljard na N$88,6 miljard, deur middel van hertoewysings en bykomende befondsing vir prioriteitsprogramme.
Algehele uitgawes, insluitend statutêre verpligtinge, is nietemin afwaarts hersien van N$106 miljard na N$105 miljard.
Onder die aanpassings is N$179 miljoen om die uitbreking van BKS in te perk. Dit word gefinansier deur ’n vermindering van 2% in uitgaweperke oor regeringsministeries en -agentskappe heen.
Die presidensie sal N$180 miljoen ontvang, wat N$140 miljoen insluit wat vanaf die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur oorgedra is vir basiese sportgeriewe onder die beheer van streekgoewerneurs, asook N$40 miljoen vir sekuriteitsmaatreëls.
Aan die ministerie van verdediging en veteranesake is ’n bykomende N$100 miljoen toegeken, wat gelykop tussen rantsoene en nutsdienste verdeel is.
Die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling kry N$62 miljoen. Dit sluit N$50 miljoen vir dringende maatreëls teen gronderosie op Rundu en N$12 miljoen vir ’n salarisaanpassing van 5% vir streekraadslede in.
’n Bykomende N$50 miljoen is aan die ministerie van werke en vervoer toegeken om uitstaande verpligtinge ten opsigte van die huur van regeringsgeboue na te kom.
HOSPITALE, SANITêRE PRODUKTE EN INTERNS
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste sal ook N$41 miljoen ontvang vir 456 mediese en tandheelkundige interns.
Aan die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn is N$12,9 miljoen toegewys, waarvan N$5 miljoen geoormerk is vir sanitêre produkte vir kwesbare leerlinge. Die res sal aangewend word vir toelaes vir opvoeders in vroeë kinderontwikkeling.
Die staat se mediese fonds, Psemas, ontvang nog N$535 miljoen, ten spyte daarvan dat die regering erken die huidige finansieringsmodel is finansieel onvolhoubaar.
Shafudah het gesê hervormings sal die langtermyn-bekostigbaarheid van die fonds takel, terwyl strenger toesig en aanspreeklikheid te midde van bewerings van bedrog en misbruik toegepas word.
Die minister het gesê die regering het tussen April en Julie byna N$740 miljoen se verligting met betrekking tot brandstofpryse deur middel van verlaagde brandstofheffings en prysstabiliseringsmaatreëls verskaf. Laer invorderings uit brandstofheffings het tot die hersiene inkomstevoorspelling bygedra.
Intussen is N$1,5 miljard deur die Padfondsadministrasie (RFA) gemobiliseer vir 11 prioriteitspadprojekte. Altesaam N$1 miljard is deur die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) gemobiliseer vir die beplande Windhoek-distrikshospitaal met ’n kapasiteit van 500 beddens.
Aan die regsprekende gesag is N$28,5 miljoen toegewys vir bedryfsbehoeftes, salarisaanpassings en verbeterde sekuriteit vir landdroste.
Nog N$26 miljoen sal aangewend word om uitstaande fakture vir droogtehulp te vereffen.
OPENBARE SKULD
Namibië se openbare skuld sal na verwagting teen die einde van die boekjaar N$201,7 miljard bereik.
Dit is gelykstaande aan 68,7% van die bruto binnelandse produk (BBP).
Rentebetalings sal na verwagting op N$15,4 miljard te staan kom, wat 17,5% van staatsinkomste uitmaak. Dit beteken dat ongeveer N$17,50 van elke N$100 wat ingevorder word, aan rente bestee sal word voordat enige deel van die hoofskuld afbetaal word.
Die begrotingstekort word op N$16,3 miljard, ofte wel 5,5% van die BBP, geraam terwyl staatswaarborge na verwagting N$11,8 miljard sal beloop.
Shafudah het gesê die regering sal maatreëls instel om skuld te stabiliseer en leningskoste te verlaag. ’n Mediumtermyn-inkomstestrategie en ’n skuldbestuurstrategie word teen Februarie 2027 verwag.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie