Tariewe verskil in die verskillende woonbuurte van die hoofstad. FOTO ARGIEF
Tariewe verskil in die verskillende woonbuurte van die hoofstad. FOTO ARGIEF

CoW verdedig styging van tariewe

Elizabeth Kheibes

Stad Windhoek (CoW) het sy besluit verdedig om munisipale tariewe vir die 2026-’27-boekjaar met gemiddeld 4% te verhoog en het die aanpassing doelbewus onder toenemende kostedruk gehou om ’n balans te vind tussen bekostigbaarheid en om noodsaaklike openbare dienste in stand te hou.

Die verhoging sal van toepassing wees op water, heffings en erfbelasting, riool, afvalbestuur, vullisverwydering en die brandweerdienste.

CoW se woordvoerder, Lydia Amutenya, het gesê die aanpassing is nodig om die munisipaliteit se finansiële volhoubaarheid te beskerm, terwyl die ononderbroke lewering van dienste aan inwoners en besighede verseker word.

“Die gemiddelde tariefaanpassing van 4% is goedgekeur om die voortgesette finansiële volhoubaarheid van Stad Windhoek te verseker en om die ononderbroke lewering van noodsaaklike munisipale dienste moontlik te maak,” het Amutenya gesê.

Sy het gesê die verhoging weerspieël die groeiende finansiële druk waarmee die munisipaliteit te kampe het, insluitend inflasie, verouderende infrastruktuur en stygende bedryfskoste. 

“Die aanpassing neem stygende inflasie en die toenemende koste om munisipale dienste te lewer in ag, die instandhouding, rehabilitasie en vervanging van verouderende infrastruktuur, toenemende bedryfskoste, insluitend die aanstelling van bykomende personeel om kritieke vakatures te vul wat dienslewering raak, asook voortgesette belegging om dienste vir inwoners en besighede in stand te hou en te verbeter,” het sy gesê.

Volgens Amutenya het die raad, ten spyte van hierdie druk, die verhoging doelbewus tot gemiddeld 4% beperk. 

“Die raad het die verhoging doelbewus tot gemiddeld 4% beperk om ’n balans te vind tussen bekostigbaarheid vir kliënte en die noodsaaklikheid om betroubare munisipale dienste van gehalte te handhaaf,” het sy bygevoeg.


WOONBUURTE

Die woordvoerder het gesê die tariefaanpassing sal kliënte eweredig raak, met die werklike verhoging wat afhang van eiendomswaardes, kliëntekategorie en die vlak van munisipale dienste wat ontvang word.

Amutenya het verduidelik dat residensiële eiendomme met laer waarde kleiner verhogings sal hê, terwyl eienaars van eiendomme van hoër waarde en kommersiële kliënte groter nominale verhogings kan verwag.

Volgens die stad se beramings sal inwoners in Okuryangava sowat N$63,97 meer per maand betaal, terwyl inwoners van Goreangab na verwagting ’n bykomende N$90,36 sal betaal en dié in Otjomuise ongeveer N$98,20. 

Die geraamde maandelikse verhoging styg tot N$126,87 in Katutura-Sentraal, N$143,43 in Windhoek-Wes, N$201,92 in Pionierspark en N$228,62 in Khomasdal.

Onder die woonbuurte met eiendomme van hoër waarde word verwag dat inwoners in Kleine Kuppe ongeveer N$339,77 meer per maand sal betaal en inwoners in Klein Windhoek N$340,33, Academia N$362,76 en Auasblick N$436,09 meer sal opdok.

Die jongste aanpassing dui op ’n terugkeer na jaarlikse tariefverhogings nadat residensiële kliënte gedurende die 2025-’26-boekjaar van enige verhogings gespaar is.

Historiese tariefdata wat deur die munisipaliteit vrygestel is, toon dat residensiële tariewe vir water, heffings en erfbelasting, riool, afvalbestuur en vullisverwydering verlede jaar onveranderd gebly het, terwyl nie-residensiële kliënte ’n verhoging van 2,5% gekry het.

Voor dit het tariewe in die 2024-’25-boekjaar met 5% gestyg. In 2023-’24 het water, heffings en erfbelasting en riool met 4,5% gestyg, terwyl afvalbestuur en vullisverwydering met 5% toegeneem het. Vir die 2022-’23-boekjaar het water, heffings en erfbelasting en riool ook met 4,5% gestyg, met afvalbestuur en vullisverwydering wat met 5% gestyg het.

Amutenya het gesê die jongste aanpassing is bedoel om te verseker dat die munisipaliteit kan voortgaan om infrastruktuur in stand te hou, kritieke personeelvakatures te vul en betroubare munisipale dienste te lewer, terwyl daar gepoog word om die finansiële las op inwoners so klein moontlik te hou.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer