Ericah Shafuda Foto argief
Ericah Shafuda Foto argief

Byna N$8 miljard vir pensioenarisse

226 000 se beursies dun
Die finansminister meen ’n geleidelike verhoging van toelae vir bejaardes is beter as niks.
Phillipus Josef

Die koste van Namibië se pensioentoelae is besig om vinnig N$8 miljard per jaar te nader.

Dit is ’n syfer wat, volgens die minister van finansies, Ericah Shafudah, deur baie mense onderskat word wanneer daar oor verhogings van die maandelikse toelae gedebatteer word.

Tydens die begrotingsdialoog Woensdag het Shafudah die regering se besluit verdedig om bejaardes se pensioen met N$100 te verhoog en daarop gewys dat die verhoging reeds ’n beduidende las op die nasionale begroting verteenwoordig.

“Daar was N$100 wat geoormerk is om by die pensioen vir bejaardes te voeg, maar wat mense nie weet nie, is dat ons in totaal 226 000 bejaardes in hierdie land het.”

Tans ontvang elke begunstigde N$1 600 per maand saam met begrafnisvoordele, wat die totale jaarlikse pensioenrekening volgens die minister tot ongeveer N$7 miljard opstoot. Met die bykomende verhoging van N$100 verwag die regering dat die koste nader aan N$8 miljard sal styg. “Toe ek N$100 bygevoeg het, was dit reeds N$500 miljoen. So tel dit daarby, dit is amper N$8 miljard,” het Shafudah gesê.

Sy het beklemtoon dat openbare kritiek dikwels die skaal van die program en die aantal begunstigdes wat op die toelae staatmaak, miskyk.

“Mense dink dis net ’n druppel in die oseaan, maar wanneer jy die bedrae bymekaar tel, maak dit ’n verskil,” het sy bygevoeg.

Oor die afgelope dekade het die toelae geleidelik toegeneem namate die regering probeer om kwesbare burgers teen armoede en stygende lewenskoste te beskerm.

Die maandelikse pensioen het in 2016 op N$600 gestaan voordat dit stapsgewys tot N$1 400 verhoog is en later tot N$1 600 in 2024.

Ten spyte van hierdie verhogings het die druk om die pensioen verder te verhoog die afgelope jare toegeneem. In die begroting van 2023-’24 het die toelae van N$1 300 tot N$1 400 per maand gestyg te midde van stygende lewenskoste, wat die algehele maatskaplike welsynsbesteding tot meer as N$10 miljard opgedruk het.

Die begroting van 2024-’25 het die toelae verder met N$200 verhoog, wat maandelikse betalings op N$1 600 te staan gebring het.

In hierdie tydperk het die begroting van die ministerie van geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn tot ongeveer N$8 miljard gestyg het, wat die regering se prioritisering van maatskaplike toelaes weerspieël ten spyte van beperkte fiskale ruimte.

In 2025-’26 is ongeveer N$7,2 miljard vir maatskaplike toelaes geoormerk, met N$3,7 miljard spesifiek toegewys aan pensioene vir bejaardes.

Die tendens benadruk die groeiende afhanklikheid van die toelae, asook die druk wat dit op openbare finansies plaas. Die begroting vir 2026-’27 sit hierdie trajek voort en ondersteun die verhoging van N$100, terwyl dit terselfdertyd bewus bly van breër fiskale beperkings.

Shafudah het beklemtoon dat die maatskaplike sektor nou die grootste deel van staatsbesteding opslurp –ongeveer 62% van die beraamde begroting van N$88 miljard, wat beteken dat selfs geleidelike verhogings noukeurig teen ander nasionale prioriteite opgeweeg moet word.

Vorige leiers, insluitend die wyle president Hage Geingob, het hoër pensioenteikens van N$2 000 tot N$3 000 per maand voorgestel – ’n skuif waaroor die tesourie gemaan het dat dit die pensioenrekening tot bo N$10 miljard per jaar kan opstoot, gelykstaande aan die hele begrotings van groot ministeries soos gesondheid en onderwys.

Die meeste huishoudings voel ’n verhoging van slegs N$100 aan hul sakke, veral met stygende lewenskoste.

Sensusdata toon dat ongeveer 136 000 huishoudings op pensioentoelae staatmaak as hul primêre bron van inkomste, veral in landelike gebiede met beperkte geleenthede om lone te verdien.

Shafudah het afgesluit dat, hoewel die toelae nie al die ekonomiese swaarkry waarmee bejaarde Namibiërs te kampe het, sal oplos nie, die ekstra N$100 ’n betekenisvolle bydrae is – ’n weerspieëling van die regering se poging om maatskaplike ondersteuning met fiskale volhoubaarheid te balanseer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer