August 26 Construction, Blueberg uit tender geskop

Konstruksie van N$200 miljoen vir gesondheidsministerie
Die voorsitter van die raad van August 26 se beheermaatskappy was glo onbewus van die botsende belange.
Nikanor Nangolo

Twee maatskappye wat deur die sakebelange van August 26 Holding Company se raadsvoorsitter, brigadier-generaal Fillimon Shafashike, aan mekaar verbind is, is uit ’n konstruksietender ter waarde van byna N$200 miljoen van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gediskwalifiseer nadat verkrygingsowerhede bevind het dat hul kommersiële verhouding hulle onbevoeg maak om teen mekaar mee te ding.

Die diskwalifikasie het August 26 Construction, ’n filiaalmaatskappy van August 26 Holding Company, en Blueberg Trading Enterprise, ’n private maatskappy waarin Shafashike ’n aandeelhouer en direkteur is, geraak.

Die saak het onder die openbare vergrootglas gekom nadat die leier van Affirmative Repositioning (AR), Job Amupanda bevraagteken het of daar ’n botsing van belange bestaan, nadat die twee entiteite aanbiedinge vir dieselfde tender ingedien het.

In reaksie op die bewerings het Shafashike aan Network Media Hub (NMH) gesê hy het eers bewus geword dat August 26 Construction aan die bodproses deelgeneem het nadat albei maatskappye reeds weens hul kommersiële skakel gediskwalifiseer is.

"Ek was egter nie bewus daarvan dat August 26 Construction vir dieselfde tender gebie het nie. Dit het eers ná die diskwalifikasie onder my aandag gekom," het hy gesê.

Shafashike het bevestig dat hy as voorsitter van August 26 Holding Company dien, terwyl hy ook ’n aandeelhouer en direkteur van Blueberg Trading Enterprise is.

Hy het gesê Blueberg se raad het sy besturende direkteur gemagtig om ’n bod in te dien as deel van die maatskappy se normale sakebedrywighede.


GEEN BETROKKENHEID

Shafashike het gesê August 26 Construction funksioneer onder sy eie onafhanklike raad van direkteure, wat die besluit geneem het om aan die tender deel te neem sonder sy kennis of betrokkenheid.

“Daardie besluit is op filiaalvlak geneem, is nie onder my aandag gebring nie en ek het geen rol daarin gespeel nie,” het hy gesê.

Shafashike het voorstelle verwerp dat die situasie ’n botsing van belange weerspieël, en gesê sy sakebelange is nog altyd aan August 26 Holding Company bekend gemaak en dat hy deurgaans probeer het om te verseker dat Blueberg nie direk met die beheermaatskappy meeding nie.

Hy het aangevoer dat die oorvleueling ontstaan het omdat die bod deur ’n filiaalmaatskappy ingedien is eerder as deur die beheermaatskappy self.

“Die oorvleueling het in hierdie geval op filiaavlak ontstaan, sonder my kennis en geen besluit oor hierdie tender het ooit voor my by August 26 gekom waar onttrekking vereis sou gewees het nie,” het hy verduidelik.

“As so ’n saak aan my voorgelê was, sou ek my belang verklaar en myself onttrek het, in ooreenstemming met goeie korporatiewe bestuur.”

Shafashike het die uitkoms as jammer beskryf, maar gesê hy respekteer die integriteit van die verkrygingsproses, wat daartoe gelei het dat albei maatskappye van die tender uitgesluit is.

- [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer