'n Jong vrou vertoon 'n T-hemp wat gesondheidsbewustheid bevorder tydens 'n uitreikgeleentheid. NRO's hoop Namibië se afgradering na laer-middelinkomste-status sal weer toegang tot internasionale befondsing wat voorheen beperk was, open. Foto ter illustrasie
'n Jong vrou vertoon 'n T-hemp wat gesondheidsbewustheid bevorder tydens 'n uitreikgeleentheid. NRO's hoop Namibië se afgradering na laer-middelinkomste-status sal weer toegang tot internasionale befondsing wat voorheen beperk was, open. Foto ter illustrasie

Afgradering kan deure weer vir NGO's open

Uitgesluit weens vorige ekonomiese status
Namibië se afgradering van die hoër-middelinkomste na laer-middelinkomstestatus deur die Wêreldbank kan die deur vir toegang tot internasionale fondse en hulp vir nie-regeringsorganisies (NGO's) heropen.
Elizabeth Kheibes
Namibië se herklassifikasie deur die Wêreldbank van ’n hoër-middelinkomste- na ’n laer-middelinkomste-land kan nuwe befondsingsgeleenthede meebring vir nieregeringsorganisasies (NGO’s) wat voorheen uitgesluit is weens die land se vorige ekonomiese status.

Die Wêreldbank se 2025/26-inkomsteklassifikasie-opdatering wat op 1 Julie in werking getree het, het Namibië afgegradeer nadat die land se Atlas Bruto Binnelandse Inkomste (BBI) per kapita gedaal het van US$4 870 in 2023 tot US$4 240 in 2024, wat onder die drempel is van US$4 495 vir hoër-middelinkomste-ekonomieë.

Philippe Talavera, direkteur van die Ombetja Yehinga Organisasie (OYO), het aan Netwerk Media Hub (NMH) gesê dat die vorige inkomsteklassifikasie NGO’s se vermoë om geld in te samel, aansienlik beïnvloed het.

“Toe Namibië as ’n hoër-middelinkomste-land geklassifiseer is, het sommige vennote en donateurs hul bedrywighede in Namibië gestaak. Namibië was nie meer ’n prioriteit nie, omdat hulle op laer-middelinkomste-lande gefokus het.”

Talavera het gesê die grootste gevolg destyds was uitsluiting van internasionale aansoeke om voorstelle, wat dit moeiliker gemaak het om vir befondsing aansoek te doen. “Oor die algemeen het dit geldinsameling moeiliker gemaak. Hierdie nuwe herklassifikasie kan die teenoorgestelde uitwerking hê. Dit kan dalk beteken dat sekere vennote wat voorheen nie in Namibië kon werk nie, nou kan terugkeer,” het hy gesê.

Hoewel hy erken dat die verandering dalk nie onmiddellik sal wees nie, het Talavera die hoop uitgespreek dat donateurs se aandag dalk kan terugkeer na Namibië, wat moontlik die omvang en impak van gemeenskapsprojekte kan versterk. “As ons die landskap van potensiële skenkers uitbrei, beteken dit meer geleenthede vir NGO’s en hopelik meer betekenisvolle aktiwiteite op grondvlak.”

'Geen outomatiese toegang'

Ten spyte van die potensiële voordele vir die burgerlike samelewing, het ekonome gewaarsku teen oordrywing van die onmiddellike finansiële voordele vir die regering.

In ’n onderhoud met NMH het Tannan Groenewald, ’n ekonoom wat vertroud is met Namibië se skuldprofiel, gesê die afgradering gee nie outomaties toegang tot konsessionele lenings van instellings soos die Wêreldbank of die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) nie.

“Namibië val tans nie binne die geskiktheidsdrempel vir IDA-ondersteuning [Internasionale Ontwikkelingsvereniging] nie,” het Groenewald gesê. “Geskiktheid hang af van ’n BBI van onder US$1 335 per kapita. Al plaas die afgradering Namibië in die laer-middelinkomste-groep, is dit steeds bo die IDA-vlak.”

Groenewald het egter gesê dat Namibië nou moontlik kwalifiseer vir gemengde finansiering – ’n kombinasie van konsessionele en nie-konsessionele fondse – as gevolg van brose ekonomiese aanwysers, insluitend hoë werkloosheid, verslegtende infrastruktuur en swak groei.

Die Wêreldbank het Namibië ook in sy laagste IBRD-prysgroep (Groep A) geplaas, wat tipies gereserveer is vir brose en konflikgeteisterde lande.

Binnelandse skuld oorheers

Terwyl eksterne finansiering onder die vergrootglas is, het Groenewald daarop gewys dat die meeste van Namibië se skuld, wat in Maart 2025 op 77,5% gestaan het, binnelands is. Slegs 8,3% van die land se totale skuld is gekoppel aan die Eurobond, wat in Oktober betaalbaar is.

“Skulddelging word grootliks beïnvloed deur binnelandse faktore, insluitend die fiskale tekort, inflasie en ekonomiese groei,” het hy gesê.

Hy het ook vrese van die hand gewys dat die herklassifikasie beleggersvertroue sal laat wankel. “Beleggers neem nie besluite uitsluitlik op grond van Wêreldbank-klassifikasies nie,” het hy gesê. “Hulle doen hulle eie ontledings en is reeds bewus van Namibië se strukturele swakhede.”

Hy het bygevoeg dat Namibië reeds jare lank nie by sy hoër-middelinkomste-etiket pas nie, en dat die afgradering eerder ’n bevestiging van die ekonomiese werklikheid is as ’n skielike verandering.

Ten spyte van die moontlike voordele vir NRO’s, het Groenewald gewaarsku teen die idee van die afgradering as ’n bate. “Beleidsmakers moet dit nie as ’n ‘oorwinning’ beskou nie. Dit is ’n waarskuwingsteken dat Namibië diepliggende fiskale en ekonomiese hervormings nodig het.”

Hy het gesê dat ’n oorafhanklikheid van hulp afhanklikheid kan skep. “Die klem moet wees op selfstandigheid: beter doeltreffendheid in openbare finansies, arbeidsmarkhervormings en produktiwiteitsgroei.”

Visie sonder uitvoering

Die afgradering plaas ook weer die kollig op Namibië se vordering met langtermyn ontwikkelingsraamwerke soos Visie 2030.

“Dit is ’n wekroep. ’n Dekade van dalende BBI per kapita wys dat toestande vir die gemiddelde persoon verswak het. Visie is nie uitvoering nie, en die aanwysers bewys dit,” het Groenewald gesê.

Terwyl Namibië sy nasionale ontwikkelingsstrategieë herkalibreer, hoop NRO’s soos OYO dat hernude toegang tot skenkersgeld sal help om kritieke diensleemtes aan te spreek, terwyl ekonome beklemtoon dat enige winste van korte duur kan wees sonder breër strukturele hervormings.

Kommentaar

Republikein 2025-07-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer