14 staatsinstellings gee N$1,2 mjd. terug aan tesourie
Veertien regeringskantore, ministeries en agentskappe het verlede jaar N$1,2 miljard aan die staatskoffers terugbetaal.
Dit volgens ’n ouditverslag deur die ouditeur-generaal, Junias Kandjeke, oor die regering se boeke vir die 2024-’25-boekjaar. Kandjeke het ’n gekwalifiseerde ouditmening aan die regering uitgereik.
Die oudit het bevind onderbesteding het in 2024-’25 op ’n totaal van N$1,2 miljard te staan gekom. Dit is ’n afname van N$187,6 miljoen vergeleke met die N$1,4 miljard van die vorige jaar.
INSTELLINGS
Onder die instellings wat geld wat vir hulle begroot is, terugbetaal het, was die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC), wat N$18,5 miljoen terugbetaal het. Die ACC het al dikwels gekla ’n gebrek aan befondsing is ’n groot struikelblok in sy stryd teen korrupsie.
Die Nasionale Vergadering (NV) het N$23 miljoen minder as sy begroting van N$196 miljoen bestee, terwyl die Nasionale Raad (NR) N$11,4 miljoen van sy toewysing van N$136,6 miljoen aan die staat terugbesorg het.
MINISTERIES
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste – wat reeds vir etlike jare gebuk gaan onder ’n tekort aan klinieke, hospitale, personeel, toerusting en medikasie – het tydens die betrokke boekjaar meer as N$352 miljoen van sy begroting van N$11,3 miljard nie gebruik nie.
In die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming is meer as N$100 miljoen van sy begroting van meer as N$2 miljard nie bestee nie.
By die voormalige ministerie van arbeid, nywerheidsverhoudinge en werkskepping was die onderbesteding – in vergelyking met ander ministeries – (net) N$13,9 miljoen, maar die begroting was ook net N$210 miljoen.
Die ministerie van myne en energie het N$10 miljoen van sy goedgekeurde begroting van N$412,9 miljoen vir die betrokke boekjaar nie bestee nie.
Vir die Nasionale Beplanningskommissie het die onderbesteding op N$8,2 miljoen te staan gekom, uit ’n begroting van N$232,5 miljoen.
Die voormalige ministerie van geslagsgelykheid, armoedeverligting en maatskaplike welsyn het oor ’n goedgekeurde begroting van N$8,1 miljard beskik en N$7,8 miljard bestee, wat op ’n onderbesteding van N$214 miljoen neergekom het.
OORBESTEDING
Aan die ander kant van die muntstuk en waar kantore, ministeries en agentskappe te min geld uit hul onderskeie begrotings bestee het, was die teenoorgestelde die geval by die ministerie van verdediging.
Die ministerie het in die betrokke boekjaar N$7,1 miljard bestee, terwyl dit oor ’n goedgekeurde begroting van N$6,9 miljard beskik het, wat tot ’n oorbesteding van N$252,9 miljoen gelei het.
Dis ’n oortreding van die wet op staatsfinansies wat verbied dat staatsbesteding die bedrag oorskry wat in die begroting goedgekeur is. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie