Veldbrande raak mens en dier

Beleide, voorkoming die brandpunt
Francoise Steynberg
Midde die verwoestende veldbrande wat 38% van die Etosha Nasionale Park verwoes het, is die Nasionale Bos- en Veldbrandbeleid vir Namibië weer in die kollig.

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het einde September ’n werkswinkel in Windhoek aangebied waartydens ’n konsep-beleidsdokument voorgehou en bespreek is aangaande die strategiese bestuur van veldbrande vir die tydperk 2026 tot 2031.

"Die beleidsdokument is opgestel na aanleiding van ’n soortgelyke konsepbeleid vir veldbrandbestuur vir 2020 tot 2025, wat nooit deur die regering goedgekeur en geïmplementeer is nie," sê die Namibië Landbou-unie (NLU).

STRATEGIEë

"Ongekontroleerde bos- en veldbrande bedreig lewe en lewensbestaan en is ’n hoof-oorsaak van

verwoestyning, skade aan die natuurlike omgewing en verhoogde skadelike gasse."

Die doel van hierdie beleid is om ’n raamwerk vir geïntegreerde brandbestuur daar te stel wat die volgende strategieë behels:

– Om onbeheerde bos- en veldbrande tot die minimum te beperk;

– Om gekontroleerde (voorgeskrewe) brande te bevorder;

– Om geïntegreerde samewerking en deelname in brandbestuur aan te moedig;

– Om nasionale kapasiteit in brandbestuur te verhoog;

– Om kennis te versamel en ’n bestuursisteem vir veldbrande te ontwikkel;

– Om navorsing te doen op veldbrandbestuur en

– Om herstel van geraakte gebiede te bespoedig.

"Die heel belangrikste aspek van brandbestuur is brandvoorkoming. Met die onlangse groot brand in

Etosha en ander dele van die land, het dit duidelik geword dat daar steeds ’n groot gebrek aan kennis

en voorsorg bestaan by baie inwoners van die land rakende die maak van vure. Baie van die

vernietigende veldbrande is die gevolg van individuele nalatigheid," meen die NLU.

"Die voorgestelde beleid plaas dan ook ’n groot premie op openbare opvoeding en bewusmaking" en die vestiging van brandpaaie en beheerde brandstroke vóór die brandseisoen is van kardinale belang. "Die aanskaf of voorsiening van brandbestrydingstoerusting is ook baie belangrik en die regering moet

daarvoor begroot en sorg dat dit beskikbaar gestel word op regeringsgronde en hervestigingsplase.

Verder bepaal die beleid ook dat gemeenskappe gereeld opgelei moet word in die voorkoming en

bestryding van veldbrande."

Die NLU is van \'n mening ’n groot tekortkoming in Namibië is die gebrek aan doeltreffende wetgewing rondom veldbrande: "Namibië het nie brandregulasies soos in Suid-Afrika nie en dit is baie moeilik om mense wat groot brandskade weens nalatigheid veroorsaak, aanspreeklik te hou. In die voorgestelde nuwe Bosbouwet en -regulasies is wel belangrike bepalings rondom die voorkoming en bestryding van veldbrande, maar die wet sloer ook reeds etlike jare in die regering se hande. Daar kan maar net gehoop word dat dit prioriteit by die regering word en dat die konsepwette en beleidsdokumente spoedig goedgekeur en geïmplementeer word."

DIERE MET BRANDWONDE

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Indileni Daniel, het verlede Donderdag bevestig die lewens van slegs een olifant, ses springbokke en drie duikers is in die brand geëis

Intussen het Wildlife Vets Namibia in hul nuusbrief verduidelik wat met diere gebeur wat brandwonde opdoen: Diere wat brandwonde opgedoen het, moet so gou as moontlik geassesseer word om die omvang van die beserings te bepaal en dan, afhangende van die beserings, behandel of van kant gemaak word.

Wanneer \'n dier brandwonde opdoen, byvoorbeeld as gevolg van \'n veldbrand, het dit verskeie gevolge vir die liggaam. Die hitte veroorsaak ernstige velskade, wat, afhangende van die erns, daartoe sal lei dat die velselle afsterf. Skade aan die beskermende velbedekking het die volgende ernstige gevolge:

- Vloeistowwe en elektroliete gaan verlore. Dit kan lei tot \'n daling in bloeddruk en skok.

- \'n Ernstige inflammatoriese reaksie (beide plaaslik en sistemies) lei tot verhoogde deurlaatbaarheid van bloedvate. Dit verhoog of veroorsaak vloeistoflekkasie uit bloedvate, wat lei tot swelling (edeem).

- Verhoogde vatbaarheid vir brandwondinfeksie. Dit, tesame met \'n verswakte immuunstelsel, lei dikwels tot septisemie (sistemiese, dikwels noodlottige, verspreiding van infeksie via bloed na die liggaam).

Die sigbare brandwonde is nie die enigste gesondheidskwessies nie. Rookinaseming is nog \'n groot bekommernis by brandslagoffers. Rook en hitte kan die lugweg beskadig, wat veroorsaak dat die lugweg opswel. Dit kan ernstige lugwegverligting (klein koolstofdeeltjies) ophoping en inflammasie veroorsaak, wat asemhaling sal belemmer.

\'n Gebrek aan suurstof (hipoksie) gekombineer met moontlike koolstofmonoksiedvergiftiging, sowel as longontsteking, is algemeen, en dikwels is dit noodlottige komplikasies. Die volle effek van lugweg- en longskade by brandslagoffers mag eers twee tot drie dae ná die aanvanklike rook- of brandblootstelling duidelik word.

“Dit is dus noodsaaklik om sulke pasiënte vir \'n paar dae onder noue toesig te hou. Die longe, hart, brein en niere loop die hoogste risiko van skade wanneer daar nie genoeg suurstof in die liggaam is nie,” het Tubbesing gesê.

WILDE DIERE

Thubbesing gee meer raad oor veldbrande en wilde diere: Wilde diere, as gevolg van hul vermoë om oor die meeste veeheinings te spring, of onderdeur te kruip, is geneig om van \'n brand te ontsnap. Aangesien die meeste wildplase in Namibië slegs \'n wildbestande omheining het, sonder interne heinings, word wildlewe baie groter ontsnappingsgeleenthede in geval van \'n brand gebied. Ernstige brandwonde en sterftes kan voorkom wanneer wild teen \'n heining vasgevang word. Die risiko van brandbeserings word aansienlik verhoog waar duur wildspesies in klein wildbestande omheinde kampe aangehou word.

Tensy ernstig beseer en verswak, is dit onwaarskynlik dat wild wat brandwonde opgedoen het, kort na \'n brand geïdentifiseer sal word. Slegs die ernstig beseerde diere kan sonder voorafgaande immobilisering ondersoek word, maar in hierdie gevalle sal dit gewoonlik meer billik teenoor die dier wees om dit te genadedood. Indien prakties en ekonomies haalbaar, sal die kliniese evaluering en behandeling van wilde diere dieselfde riglyne volg as vir plaasdiere.

"Wanneer die beserings ernstig is, is genadedood die beste opsie. \'n Eenmalige behandeling sal baie onwaarskynlik enige effek hê. In die geval van wees- of mak diere, kan \'n mens, in oorleg met \'n veearts, probeer om hulle in \'n boma te plaas en te behandel," sê Thubbesing.

GEMEENSKAPPE

Verskeie lodges, boere en gemeenskappe naby en aangresend aan Etosha het ingespring en gehelp.

Die veldbrand het op 22 September ‘n plaas aan die suidwestelike kan van Etosha begin en selfs noord van die park gebrand wat ‘n erge impak op gemeenskappe gehad het.

“Vir die boere van die Hai//om Etosha San-gemeenskap, wie se beeste en lewensbestaan afhang van die grasvelde wat aan Etosha grens, was die verlies diepgaande,” het Rob Moffett van Ongava Lodge, aangrensend aan die park gesê.

In reaksie hierop het Ongava Lodge twee vragmotor- en sleepwavragte gras, meer as 80 groot bale, aan die boere geskenk.

Agter die skerms was Ongava Lodge ook deel van die gekoördineerde reaksie. "Ons spanne het skouer aan skouer met parkowerhede en naburige grondeienaars gestaan. Ons spanne het brandbestrydingspogings op die grond en in die lug ondersteun en saam met parkbeamptes gewerk om die vlamme te beheer en te herlei." - Bykomende bronne: NLU, Wildlife Vets Namibia

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer