'Klimaatsverandering bedreig openbare gesondheid'
Namibië moenie wag tot uiterste weerrampe toeslaan voordat daar gereageer word nie, aangesien klimaatsverandering toenemend openbare gesondheid, voedsel- en watersekerheid en noodsaaklike dienste bedreig.
“Klimaatsverandering is nie meer ’n omgewingskwessie in die verre toekoms nie,” het die adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste, Hambeleleni Ndjaleka, vandeesweek gewaarsku.
By die Universiteit van Namibië (Unam) se Hage Geingob-kampus in Windhoek, waar sy die internasionale konferensie oor gesondheid en uiterste weerstoestande amptelik geopen het, het sy gesê klimaatsverandering het reeds onder meer siektepatrone, voedsel- en watersekerheid en bestaansmiddele hervorm.
Ndjaleka het Namibië beskryf as een van die droogste lande in Afrika suid van die Sahara, met groot dele van die ekonomie en huishoudelike bestaansmiddele wat afhanklik is van klimaatgevoelige sektore soos landbou, visserye en natuurlike hulpbronne.
“Wanneer die reën wegbly, beweeg die gevolge vinnig van die landery en die waterpunt na die huishouding, die skool, die kliniek en die nasionale ekonomie,” het sy gesê.
Die adjunkminister het gewaarsku dat die gesondheidsgevolge van uiterste weer sowel onmiddellik as langtermyn is.
Uiterste hitte kan hitte-uitputting, hitteberoerte en kardiovaskulêre of respiratoriese komplikasies veroorsaak, terwyl vloede kan lei tot verdrinkings, ontheming, besmette waterbronne en siekte-uitbrekings.
Droogte kan intussen voedselproduksie verminder, wanvoeding vererger en huishoudelike inkomste ondermyn, terwyl dit ook bydra tot angs, depressie en sielkundige nood. Die las, het sy gesê, word nie gelyk verdeel nie.
BESERKMING VAN LEWENS
Kinders, ouer mense, swanger vroue, persone met gestremdhede, mense met chroniese siektes, inwoners van informele nedersettings, bestaansboere, buitelugwerkers en huishoudings met lae inkomste is onder dié wat die grootste blootstelling het, terwyl hulle die minste hulpbronne het om te herstel.
“’n Stelsel kan nie as veerkragtig beskryf word as dit net dié beskerm wat die maklikste is om te bereik nie,” het Ndjaleka gesê.
“Veerkragtigheid word nie net gemeet aan hoe vinnig ons reageer wanneer ’n ramp toeslaan nie. Dit word gemeet aan hoeveel lewens ons beskerm voordat dit gebeur.”
In ’n verklaring het die kantoor van die eerste minister se ramprisiko-span die waarskuwing beaam en aangevoer dat veerkragtigheid moet begin voordat ’n ramp plaasvind.
Die benadering vra vir sterker risiko-begrip, voorkoming, versagting, vroeë waarskuwing, voorkomende optrede en herstel, eerder as om oorwegend op noodreaksie staat te maak.
“Vroeë waarskuwings moet tot vroeë besluite lei,” lui die verklaring.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie