'Katastrofe moenie herhaal word'

Drie veeartse in Etosha ontplooi
Francoise Steynberg
Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Indileni Daniel, het gister gesê “dit hartseer was om die verbrande Etosha Nasionale Park uit die lig te sien en die beste is om nou aan te beweeg en nie weer hierdie katastrofe in die toekoms te hê nie”.

Sy het erken: “Ons het te laat opgetree met twee brande binne in die park – die eerste wat buite die park uitgebreek en die tweede een by Ombika wat deur Etosha gewoed het. Dit is toe ons om hulp gevra het.”

Die totale gebied wat in die park gebrand het, is gister amptelik deur die minister tydens ‘n mediakonferensie in die hoofstad bevestig as 853 946 hektaar wat 38% van die park beslaan.

Sy het gesê tot dusver het die brand die lewens van een olifant, ses springbokke en drie duikers geëis.

“Met die brande binne die park wat nou onder beheer en geblus is, het ons vanaf Woensdag drie veeartse ontplooi om enige beseerde wild te assesseer en te versorg.

“Ons monitor watergate en belangrike dierekorridors noukeurig vir tekens van nood en ons doen 'n beroep op alle besoekers om waarnemings van beseerde diere aan parkbestuur te rapporteer vir onmiddellike reaksie,” het Daniel gesê.

Sy het beklemtoon dat Etosha nog nooit gesluit was nie. “Dit bly ten volle oop vir besoekers en toeriste.” Op ‘n vraag op die negatiewe impak van die brand op besoekersgetalle aan die park, het sy gesê alhoewel die park ná die brand nie aanloklik lyk nie, diere nou meer in groter konsentrasies gesien kan word, "maar die finansiële impak sal eers later gesien word".

Daniel het gesê 'n assessering is tans aan die gang om die volle omvang van die skade te bepaal, insluitend wildsterftes, met die proses wat 'n paar dae sal duur en deur senior ministeriële amptenare geverifieer sal word.

“As deel hiervan hersien ons ook die implementering van die Brandbestuurstrategie vir Beskermde Gebiede om enige gapings te identifiseer en die nodige regstellende optrede te oorweeg.

“Ons moet teruggaan na die tekenbord toe en die probleem in terme van stelsels identifiseer. Ons moet vasstel wat verkeerd geloop het en waar daar skuiwergate in die stelsels is.”

Die minister meen terwyl hierdie strategie 'n raamwerk bied vir die bestuur van veldbrande, vereis die volle uitvoering daarvan aansienlike belegging in beskermende toerusting, brandbestryding en kommunikasietoerusting.

Op ‘n vraag aan die omgewingskommissaris, Timo Mufeti, of die Helaas-hervestigingsplaas, waar die brand glo ontstaan het, ‘n permit gehad het om houtskool te brand, het hy geantwoord: “Ons is nie bewus van enige houtskoolprodusent wat nie ‘n permit het nie. Ons neem aan die plaas het ‘n permit.”

Hy het verseker die ministerie het ‘n goeie verhouding met die Houtskoolprodusente-vereniging van Namibië (CAoN), maar gesê die permitstelsel moet “waterdig wees sodat ons verseker dat hierdie nie weer gebeur nie.”

Adjunk- uitvoerende direkteur Colgar Sikopo het gesê hy is nie bekommerd oor die tydsberekening van die brand nie, maar sê die enorme gebied van 38% van die park wat gebrand het, is ‘n probleem. “As dit in Mei of Junie gebrand het, sou dit ‘n ramp gewees het. As dit binnekort begin reën, sal die gras weer groei en in November diere na die gebrande gebiede teruglok wat toeriste kan geniet.

“Die brandseisoen is in November en Desember. Die gebied moet nou beskerm word om te verseker dat geen nuwe brande uitbreek nie.”

Sikopo het bevestig geen bykomende voer is op hierdie tydstip nodig nie.

Uitvoerende direkeur Sikongo Haihambo is deel van die rampbestuurskomitee wat onder die kantoor van die eerste minister val. Vir enige hulp aangebied, kan hy by [email protected] of [email protected] gekontak word.

- [email protected]

Klik op die skakel https://q.my.na/OCA1

Kommentaar

Republikein 2025-12-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer