FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Geen efundja-vrese

-
-
Kenya Kambowe

Ten spyte van volgehoue ​​reënval wat oor die noordelike dele ervaar word, moes geen skool tot dusver weens oorstromings sluit nie. Die direktorate van onderwys in  Oshikoto, Ohangwena, Omusati en Oshana het by navraag deur Network Media Hub (NMH) bevestig geen onderbrekings is tot op hede in onderrig ervaar nie, terwyl geen skole ten spyte van stygende seisoenale water in opvangsgebiede gevra het dat klasse opgeskort moet word nie. 

Histories bring die tyd van die jaar die moontlike bedreiging van die efundja (vloede) mee, wat dikwels lei tot die verplasing van leerders en die opskorting van klasse lei.

Verwante owerhede sê egter die situasie is tans stabiel danksy hanteerbare watervlakke en verbeterde voorbereiding.

In die Oshikotostreek het die direkteur van onderwys Hilma Nuunyango-George by navraag gesê die situasie word noukeurig gemonitor en is onder beheer. 

Geen skool het nog gevra om te sluit nie, het sy gesê, met toegangsroetes tot verskeie skole wat steeds deur leerlinge en onderwysers gebruik kan word. Geen van die skole se infrastruktuur is ook tot op hede negatief deur neerslae of vloede geraak nie.

Die situasie is soortgelyk aan dié in Ohangwena wat dikwels een van die streke is wat die hardste deur vloede getref word weens die geografiese kwesbaarheid tot water wat vanaf die Angolese grens invloei. 

Die direkteur van onderwys Isak Hamatwi het vrese verwerp van 'n potensiële sluiting van skole weens die efundja. 

“Daar is geen versoeke vir die sluit van skole nie, alles is onder beheer,” het Hamatwi gesê.

Volgens hom bly die direktoraat in volgehoue verbinding met inspekteurs in die streek om te verseker 'n spoedige reaksieplan is in plek sou die situasie verander. 

In die Omusatistreek waar uitgestrekte vlaktes dikwels tydens swaar neerslae in watergevulde kanale verander, sê die waarnemende direkteur van onderwys Justina Amupolo geen skool moes tot dusver weens oorstromings sluit nie. 

Hoewel sommige gebiede verhoogde watervlakke in die oshanas (vloedvlaktes) het, sê Amupolo dit het nog nie die punt bereik waar dit kinders se veiligheid in gevaar stel of hulle verhinder om skool toe te gaan nie. 

Ook in die Oshanastreek beaam die direktoraat van onderwys skoolaktiwiteite gaan voort soos normaal. Terwyl die streek die opvanggebied vir baie van die waterafloop in die noordelike gebiede bly, het die huidige reënval nog nie die drastiese maatreëls genoodsaak soos gesien in vorige jare se hoë vloede nie.  

MONITOR

Die huidige reënseisoen is in teenstelling met vorige seisoene waar Maart en April 'n tydperk van rampbestuur was. Tydens vorige jare moes dosyne skole noodgedwonge weens die vloede sluit wat infrastruktuur beskadig het en leerlinge uit klaskamers gehou het. Die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur werk nou saam met die kantoor van die eerste minister se bestuurseenheid vir ramprisiko’s om reënvalpatrone deur die loop van die reënseisoen te monitor. - [email protected]





Kommentaar

Republikein 2026-04-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer