Boere help met ramprisikobestuur
Die landbousektor staar voortdurend die toenemende impak van droogte en ander klimaatsverwante gevare soos veldbrande in die gesig staar.
Volgens die uitvoerende direkteur in die kantoor van die eerste minister (OPM), Shivute Indongo, het die droogte van 2024-’25 ongeveer 1,4 miljoen Namibiërs oor al 14 streke geraak en verwys na die moontlike sterk El Niño-verskynsel gedurende die 2026-’27-reënseisoen, met ondergemiddelde reënval en die risiko van misoeste en veeverliese.
Daarom het die OPM en Namibië Landbou-unie (NLU) verlede week ’n emorandum van verstandhouding (MOU) in Windhoek onderteken. Die memorandum is namens die NLU deur die hoofbestuurder Roelie Venter en uitvoerende raadslid, Gert Engelbrecht, onderteken.
“Die doel van die MOU is om ’n samewerkende raamwerk te vestig vir ’n gekoördineerde en gestruktureerde benadering tot die hantering van rampe wat Namibië raak, insluitend brande, droogtes en sprinkane,” sê die NLU.
Die ooreenkoms beoog om samewerking tussen die partye te versterk en om gemeenskapsgedrewe benaderings, die deel van hulpbronne en gekoördineerde optrede te bevorder.
Die NLU meen daar moet verseker word dat die realiteite en prioriteite van boere by die beplanning en besluitneming rakende rampe weerspieël word.
“Wat die omvang van die ooreenkoms betref, is ’n gesamentlike ramprisiko-bestuurstrategie ontwikkel om die OPM te ondersteun in die uitvoering van sy funksies en die verbetering van dienslewering aan boere en die breër gemeenskap.”
Die OPM sal in samewerking met die NLU, die implementering van die strategie fasiliteer deur die totstandkoming van ’n nasionale struktuur vir ramprisikobestuur.
Ingevolge die ooreenkoms moet die NLU op nasionale vlak met die OPM se direktoraat ramprisikobestuur skakel, die implementering van die strategie in elke streek fasiliteer en advies verskaf met betrekking tot veiligheidstegnologie.
Die MOU sal vir ’n tydperk van tien jaar vanaf die begindatum van krag bly.
Indongo het gesê deur saam te werk kan die regering en die boeregemeenskap bydra tot die beskerming van Namibiërs se lewensbestaan, die versterking van voedselsekerheid en ook die kwesbaarheid van boeregemeenskappe regoor Namibië verminder.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie