'Verkies Nandi-Ndaitwah tot volgende president'

Kristien Kruger
Tuyeimo Haidula op Oneshoko – Die sekretaris-generaal van Swapo, Sophia Shaningwa, het ’n beroep op die inwoners van die Okaku-kiesafdeling gedoen om hulself gereed te maak vir die algemene verkiesing wat in 2024 in Namibië sal plaasvind.

Sy het gesê hulle moet seker maak dat die party se visepresident, Netumbo Nandi-Ndaitwah, as die volgende president verkies word.

Shaningwa het Sondag op Oneshoko in die Oshanastreek aan die skare gesê talle politieke partye sal aan die volgende nasionale verkiesing deelneem om toe te sien dat die volgende president verkies word.

“Al die Swapo-lede hier en elders, julle word geroep om toe te sien dat dit Netumbo Nandi-Ndaitwah is wat president Hage Geingob opvolg en niemand anders nie,” het Shaningwa tydens die byeenkoms gesê.

Sy het ook gesê Geingob het dit duidelik gemaak dat hy Nandi-Ndaitwah as sy opvolger ondersteun.

‘WINDHOEKERS IN HEL’

Nandi-Ndaitwah het tydens die geleentheid haar teleurstelling in Windhoekers uitgespreek omdat hulle glo stemme van die regerende party weggeneem het.

Volgens haar het die gebrek aan “behoorlike leierskap” in die hoofstad tot chaos gelei.

Nandi-Ndaitwah het verder gesê Windhoekers is “in die hel” weens die voortdurende bakleiery en gekibbel tussen stadsrade pleks daarvan om leierskap te verleen.

“Wanneer het jy al ooit gehoor dat Windhoek oorstroom [toe Swapo in beheer was]? Verlede jaar se min reën en die stad het oorstroom. Daar is niemand om die water te kanaliseer nie. Ons is in die hel. Die stad was onlangs so vuil, jy sou nie eens glo dis die hoofstad nie,” het sy gesê.

Nandi-Ndaitwah het die skare gevra of hulle al ooit so ’n “morsige situasie” onder Swapo se leierskap gesien het.

Die Okaku-kiesafdeling se tussenverkiesing vir ’n nuwe streekraadslid sal eerskomende Vrydag plaasvind. Dit volg ná die afsterwe van die voormalige streekraadslid, Gerson Hannu Kapenda.

Nandi-Ndaitwah het mense aangemoedig om seker te maak hulle stem vir die party se kandidaat Fillipus Taukondjele.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2023-03-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer