• Tuisblad
  • Politiek
  • Swak kieseropkoms in plaaslike verkiesings 'belemmer demokrasie'
Prof. Johan Coetzee Foto Nust
Prof. Johan Coetzee Foto Nust

Swak kieseropkoms in plaaslike verkiesings 'belemmer demokrasie'

ECN moet werk om vertroue terug te wen
Iréne-Mari van der Walt
Politieke kenners meen die uiters lae aantal kiesers wat aan plaaslike owerheidsverkiesings deelneem, kan ’n rede tot kommer wees.

“As slegs 38% van die mense in die plaaslike verkiesings stem, beteken dit dat jy slegs 20% van die stemme in ’n totale streek nodig het om te regeer. So 80% van die mense, wat van hulle?

“Is dit wat ons demokrasie kan noem? Is dit ’n swak vorm van demokrasie? En daar is baie mense wat ongelukkig is, want as mense nie stem nie, kan jy nie ’n demokrasie hê waarvoor mense gestem het nie.

“Dis die huidige situasie,” het prof. Johan Coetzee van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) onlangs in ’n onderhoud met Republikein se program, Kletskompas, gesê.

Die politieke ontleder prof. Henning Melber meen dat ’n swak kieseropkoms in plaaslike verkiesings in vergelyking met nasionale verkiesings wêreldwyd ’n verskynsel is, maar sê hierdie verskil is merkwaardig onder Namibiërs.

“Die verskil in Namibië is relatief hoog. Dit kan ook weens plaaslike infrastruktuur wees. Toegang tot stembusse is nie altyd so maklik in landelike gebiede in Namibië nie.

“En dan moet ’n mens nie te veel van kiesers verwag om ekstra moeite te doen om daar te kom en te stem nie,” het hy aan Network Media Hub (NMH) gesê.



‘BELANGRIKSTE VERKIESING’

Coetzee meen kiesers se stemme in die verkiesing vir plaaslike owerhede sal hul onmiddellike omgewing baie meer beïnvloed as stemme vir die Nasionale Vergadering (NV).

“Ek dink plaaslike owerhede is beslis die belangrikste verkiesings. Dit gaan oor water, dit gaan oor elektrisiteit, dit gaan oor pype. . .

“So, ek dink dit is die belangrikste verkiesing. Die toestand van jou sakke hang daarvan af – jou sak wat al hoe leër word in die swak ekonomie wat ons het. En waar ongelykheid en mense sonder huise onder brûe slaap,” het hy gesê.

Melber meen dat die impak van leierskap in ’n kiesafdeling en ’n streek ook nasionale politiek kan beïnvloed.

“Die daaglikse ervarings van ’n kieserbasis het ’n impak op hul stemgedrag, nie net op plaaslike vlak nie, maar ook op nasionale vlak.

“Dus, as hulle [politieke partye] nie alles insit om plaaslik te presteer nie, loop hulle ’n belangrike belegging in kiesers se vertroue in die party mis,” sê hy.



VERTROUE IN ECN

Beide Coetzee en Melber is dit eens dat vertroue in die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) ’n bloutjie geloop het tydens verlede jaar se presidensiële en NV-verkiesings, maar hul menings oor die herstel van kiesers se vertroue verskil.

“As hulle geleer het uit die foute wat hulle in die nasionale verkiesing gemaak het, dan kan hulle vertroue opbou.

“En meer mense sal in die volgende verkiesing stem as hulle daardie vertroue kan bou. Dit is dus van uiterste belang vir ons as kiesers om te sê, kom ons kyk weer na die Verkiesingskommissie.

“Het hulle verbeter? Het hulle nie verbeter nie? Hoekom het hulle nie? Wat gaan ons doen?” sê Coetzee.

Melber glo egter dat die verbrokkeling in die verhouding tussen die ECN en plaaslike kiesers te lank voortduur.

“Ek dink die ECN het daarin geslaag om alle vertroue te verloor. Met een verkiesing na die ander het hulle regtig baie hard probeer en daarin geslaag om ’n gemors daarvan te maak.

“Al die opnames wat deur Afrobarometer gedoen is, het ’n bestendige afname in vertroue in die ECN getoon. En ek dink as die ECN nie fundamenteel hervorm word nie, miskien selfs herskep word as ’n selfregerende instelling, sal dit nie die geloofwaardigheid wat dit nodig het van die kiesers terugkry nie.

“Dus moet hulle baie versigtig wees met die manier waarop hulle werk, want mense is baie agterdogtig en hulle verwag nie van die ECN om neutraal en objektief te wees nie,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer