Outjo Inwonersvereniging uit die blokke

Gemeenskap staan saam
Die organisasie is onlangs gestig om swak dienslewering en bestuur in die dorp aan te pak. Die groep wil politiek uit plaaslike sake hou en saam met die gemeenskap werk om die dorp weer op te hef.
Annemarie du Toit
‘n Nuwe inwonersvereniging is verlede week in Outjo bekendgestel, een van vele soortgelyke verenigings wat oraloor Namibië begin vorm aanneem ter voorbereiding vir die komende plaaslike owerhede- en streekverkiesings.

Die Outjo Inwonersvereniging bestaan uit ’n groep plaaslike inwoners wat meen dat dit tyd is om die dorp weer op te hef deur samewerking, kundigheid en beter bestuur.

Die span bestaan uit Pieter Mostert, Bartholomeus (Ole) !Aibeb, Pieter Praetorius, Desmond Hoeseb, Pinky Richter, Yvonne Gaingos en Adjani Passano. Hulle deel ’n gemeenskaplike doelwit: Om Outjo weer die energieke, goed bestuurde dorp te maak wat dit eens was.

Volgens Pieter Mostert, wat namens die groep gepraat het, het die besluit om die vereniging te stig gekom uit jare se frustrasie met swak dienslewering deur die munisipaliteit. “Daar’s baie kwessies wat ons kan noem soos onder meer wateronderbrekings, vuil strate, swak instandhouding,” sê hy. “Maar die doel is nie om die munisipaliteit te kritiseer of swak te maak nie. Ons wil eerder betrokke raak, kundigheid inbring en help om die dorp beter te bestuur.”

Mostert sê die hoofdoel van die vereniging is om doeltreffende plaaslike bestuur te bevorder en om die dorpsraad met kundige insette te ondersteun sonder om vasgevang te raak in party-politiek. “Wanneer jy politiekery en persoonlike agendas toelaat, gaan die dorp ten gronde,” verduidelik hy.

“Ons wil ’n verskil maak deur samewerking, nie deur verdeeldheid nie.”

Hy wys daarop dat politieke onenigheid dikwels die doeltreffende bestuur van kleiner dorpe lamlê: “Politiekery tussen partye lei daartoe dat die dorp se bestuur ten gronde gaan en dit is nie in die belang van die mense nie.”

Die vereniging wil fokus op beter administratiewe en finansiële dissipline binne die munisipaliteit. Volgens Mostert word baie geld nie ingevorder nie, bloot omdat die nodige stelsels en dissipline ontbreek.

KUNDIGES

“Ons glo daar is baie kundige mense in Outjo wat bereid is om te help, selfs verniet of teen verlaagde fooie. Ons wil daardie kennis benut om dinge te verbeter,” sê hy.

Die groep wil ook die moraal van werkers herstel en die plaaslike besigheidsgemeenskap nader trek om saam te werk aan ’n sterker, meer volhoubare dorp.

Mostert sê die vereniging is oop vir samewerking met alle politieke partye en plaaslike strukture. “Ons is teen niemand nie, ons wil saamwerk. Ons dink ons het die regte mense met die nodige ondervinding in ons groep. Ons is naby aan die besigheidsgemeenskap en glo ons kan weer trots en samewerking kweek.”

Outjo was enkele jare gelede genomineer as Dorp van die Jaar, maar baie inwoners voel daardie tyd se geesdrif het intussen verlore gegaan. “Ons wil terugbeweeg na daardie plek toe Outjo ’n dorpie was waarvan almal gepraat het,” sê Mostert. “Dit begin by goeie bestuur, goeie samewerking en die bereidwilligheid om politiek eenkant te sit.”

Die vereniging se boodskap aan die res van die land is duidelik: Staan saam en los kleinlike politiekery. “Ons wil nie hê politieke hoofde in Windhoek moet vir ons voorskryf hoe om dinge te doen nie,” sê Mostert. “Ons wil eerder plaaslike oplossings vind, saam met ander partye en met die gemeenskap, om Outjo ’n beter plek te maak.”

Hy sluit af met ’n boodskap wat die hart van hul missie vasvang: “As Outjo Inwonersvereniging wil ons vir ander dorpe sê werk saam, moenie in gevegte betrokke raak as dit nie nodig is nie. Ná die verkiesings moet ons almal saamstaan om die dorp op te bou. Los kleinlike politiekery laat die groot partye met mekaar baklei. Kom ons hou dit uit ons dorpe uit.”

[email protected]

#NamibiaDecides2025

Kommentaar

Republikein 2025-12-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer