No Image Caption

Opposisie wil stemouderdom verlaag

Brigitte Weidlich
’n Opposisieparty het voorgestel om die stemouderdom van die huidige 18 jaar na 16 jaar te verlaag.

Die parlementslid en lid van die Affirmative Repositioning Party (AR), Tuhafeni Kalola, het ’n mosie in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê dat “16-jariges volwasse genoeg is om aan die land se demokratiese prosesse deel te neem”.

Volgens hom behoort hulle nie bloot as gevolg van hul ouderdom uitgesluit te word nie.

Kalola het ook algemene opvattings verwerp dat jongmense “te jonk, oningelig of maklik beïnvloedbaar is”, iets wat volgens hom nie wetenskaplik bewys is nie.

“Die 16-jariges in Namibië is reeds aansienlike verantwoordelikheid gegee. Hulle kan toestemming gee tot seksuele dade, ’n leerlinglisensie kry, bankrekeninge bestuur en selfs besluit of hulle met hul onderrig wil voortgaan,” het hy gesê.

Kalola het verwys na lande soos België, Malta, Oostenryk en Duitsland waar die verlaging van die stemouderdom tot 16 jaar burgerlike betrokkenheid oor die lang termyn verhoog en ook kiesersopkoms verbeter het.

Hy het die belangrikheid beklemtoon van die versterking van politieke onderrig in skole om jongmense te leer om krities te dink en die vermoë te hê om ingeligte politieke besluite te neem.

“Om jonger burgers die reg te gee om te stem, sal ’n generasie ingeligte en aktiewe deelnemers aan die land se politieke landskap skep,” het Kalola gesê.

Volgens hom sal die verlaging van die stemouderdom in Namibië in ooreenstemming wees met internasionale beginsels vir menseregte wat universele en gelyke stemreg sonder diskriminasie op grond van ouderdom bevorder.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer