Netumbo vier Sondag 100 dae as president

Kritiek oor pensioentoelae
Een van die eerste groot hervormings wat die eerste vrouepresident van Namibië onderneem het, was om haar kabinet van 23 lede tot 14 te verminder.
Nikanor Nangolo
Politieke ontleders het president Netumbo Nandi-Ndaitwah se “regte toon” in haar eerste 100 dae in haar amp tot dusver geprys, maar het haar van besluiteloosheid en swak keuses in haar aanstelling van kabinetslede beskuldig.

Nandi-Ndaitwah, wat op 21 Maart as die land se vyfde president ingehuldig is, sal eerskomende Sondag 100 dae in die amp vier.

Een van die eerste groot hervormings wat sy onderneem het, was om haar kabinet van 23 lede tot 14 te verminder – met slegs drie ministers van die vorige kabinet wat behoue gebly het.

Onder diegene wat die trekpas gekry het, is die voormalige minister van finansies, Iipumbu Shiimi en Nandi-Ndaitwah se mededinger by Swapo se kongres in 2022, Pohamba Shifeta, die voormalige minister van die omgewing, bosbou en toerisme.

Skaars ’n maand later is haar administrasie geskud deur die beweerde omkoperyskandaal waarby een van haar verrassende kabinetaanstellings, die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Mac Hengari, na bewering betrokke was.

Hengari, wat daarvan beskuldig word dat hy die pa van ’n kind is van ’n vrou wat hom van verkragting beskuldig, is in April in hegtenis geneem nadat hy na bewering probeer het om die vrou met N$222 000 om te koop in ruil daarvoor dat sy die aanklagte terugtrek wat sy laat in 2024 teen hom aanhangig gemaak het.

Nandi-Ndaitwah is daarvan beskuldig dat sy nie beslissend teenoor Hengari opgetree het toe die verkragtingsklag amptelik deur die polisiehoof, Joseph Shikongo, bevestig is nie – ironies genoeg op ’n tydstip toe ’n vlaag moorde en verkragtings van skoolmeisies Okahandja geruk het.

Hengari het ná sy inhegtenisneming bedank, maar die presidensie het later beweer hy is ’n week tevore as afgedank beskou – hoewel daar geen aankondiging in dié verband was nie.



GOEWERNEURS

Die persepsie van besluiteloosheid is ook versterk deur Nandi-Ndaitwah se hantering van kontrakte van streekgoewerneurs, wie se termyne in Maart verstryk het.

Die president het sewe nuwe goewerneurs aangestel en die termyne van sewe dienende goewerneurs met drie maande verleng – tot 20 Junie.

Teen 20 Junie was die goewerneurs steeds in die duister oor hul toekoms – met sommige wat afskeid geneem het van hul inwoners namate die vervaldatums van hul kontrakte nader gekom het.

’n Dag nadat hul kontrakte geëindig het, is die goewerneurs meegedeel dat hul kontrakte met 10 dae verleng is, wat volgende week Maandag eindig.

“Die uitstel van die aanstellings van streekgoewerneurs is ’n bron van kommer, wat doeltreffende besluitnemingsprosesse in twyfel trek,” het die Namibiese akademikus in Swede, prof. Henning Melber, gesê.

Die kommentator en akademikus Ndumba Kamwanyah het ook kritiek gelewer oor die president se vermeende besluiteloosheid en hoe haar kabinetaanstellings gekeur is.

“Die keuring van sleutelministers soos [die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, Esperance] Luvindao en Hengari het ernstige vrae laat ontstaan, asook die feit dat sy nog nie haar span ambassadeurs en streekgoewerneurs gefinaliseer het nie, dui op besluiteloosheid,” het Kamwanyah gesê.

Hy het bygevoeg dat dit moeilik is om uit te vind watter beleidsrigting die land onder die nuwe administrasie inslaan.



‘KORRUPSIE IS VERRAAD’

In haar intreerede op 21 Maart het Nandi-Ndaitwah verklaar dat korrupsie gelykstaande is aan verraad en dienooreenkomstig hanteer moet word.

“Korrupsie in al sy manifestasies moet ten alle koste vermy word,” het sy gesê en ’n luide applous uitgelok.

Twee van haar ministers – Luvindao en Sankwasa James Sankwasa vir stedelike en landelike ontwikkeling – het reeds voorvalle van vermeende korrupsie by die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) aangemeld.

Tydens haar eerste kabinetsvergadering het Nandi-Ndaitwah die belangrikheid van prestasie en aanspreeklikheid onder staatsamptenare beklemtoon.

“Die teenstrydigheid tussen beloftes wat tydens die verkiesingsveldtog gemaak is, soos die reuseverhoging van maandelikse pensioene vir bejaardes, en die erkenning dat hulle onvolhoubare verbintenisse gemaak het en sodoende kiesers mislei het, was nie die beste begin in terme van die bou van vertroue nie,” het Melber gesê.

Hy het verwys na die regering se aanvanklike belofte om die maandelikse toelae vir pensioenarisse tot N$3 000 te verhoog. Uiteindelik is geen verhoging in dié toelaag gemaak nie, met die president wat gesê het sy sal eers daarop fokus om die jeug te help.

Nog ’n akademikus, Rui Tyitende, het gesê die nuwe administrasie vind dit moeilik om hul voete te vind.

“Die administrasie het teruggeval op die belofte van gratis onderwys op tersiêre vlak deur aan te dui dat dit slegs vir prioriteitsvelde sal wees.

“Daar is ook grootskaalse ophef oor kunsmatige intelligensie in die gesondheidsektor, terwyl die publiek met vervalde medisyne bedwelm word. So, wat het werklik verander?” het hy gevra.

“Dit was ’n wankelrige wegspring en ek hoop stabiliteit sal binnekort gevestig word sodat die beloftes wat gemaak is, nagekom word.”

Swanu-parlementslid Evilastus Kaaronda het gesê Nandi-Ndaitwah “het die regte toon aangegee, beide in openbare uitsprake en kabinetsprofiel”, maar het haar aangespoor om vinnig te werk om “al die onregte wat sy van vorige administrasies geërf het, te takel voordat sy aan baie van haar eie [onregte] begin werk.”

Kaarondo het gesê daar moet nog baie water in die see loop, “veral op die front van gratis hoër onderwys, die oorlogsveterane en die armes”.



BUITELANDSE BETREKKINGE

Gedurende die vroeë dae van haar presidentskap het Nandi-Ndaitwah die bevordering van internasionale betrekkinge geprioritiseer.

Op 1 April het sy ’n hoflikheidsbesoek van die adjunkpremier van Rusland, Yury Trutnev, ontvang, gevolg deur ’n besoek van die aangewese president van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), Kirsty Coventry, op 5 April.

Kort daarna het sy die uitgaande Britse hoë kommissaris in Namibië Charles Moore, die Chinese ambassadeur Zhao Weiping en verskeie ander diplomate verwelkom.

Hierop het Melber gesê: “Haar eerste stappe om die hoogste verteenwoordigers van China en Rusland, sowel as die Noord-Koreaanse ambassadeur, te ontmoet, het haar buitelandse beleidsverbintenisse en -voorkeure bevestig, wat reeds sigbaar was gedurende haar tyd as die minister van internasionale betrekkinge. Dit moet nog gesien word of sy die nodige balanseertoertjie in geostrategiese maneuvers in die beste belang van Namibië se verklaarde neutrale beleid slaag.”

Op 8 Mei het die president haar eerste reis in die buiteland afgeskop met ’n werksbesoek aan die Angolese hoofstad, Luanda, waar sy met president João Lourenço vergader het.

Daaropvolgende afsprake het bilaterale gesprekke met Botswana se president Duma Boko ingesluit, ’n werksbesoek aan Zambië se president Hakainde Hichilema, ’n besoek aan Mosambiek waar sy president Daniel Chapo ontmoet het, en vergaderings met Zimbabwe se president Emmerson Mnangagwa en die Tanzaniese president Samia Suluhu Hassan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer