Namandje bedank uit Swapo-verkiesingspos

Party oorweeg om regsfirma by proses te betrek
Vir die eerste keer in 18 jaar sal die Swapo-kongres 'n nuwe gesig hê wat as voorsitter in sy verkiesingsproses dien.
Yandi Du Plessis
Mathias Haufiku – Die regerende party skarrel om ’n nuwe voorsittende beampte te vind om onder andere toesig te hou oor die verkiesings by sy kongres volgende week.

Die kongres sal die party se topvierleiers vir die volgende vyf jaar verkies, waaronder moontlik die land se volgende staatshoof. Lede van die sentrale komitee sal ook daar verkies word. Die soektog na die voorsittende beampte volg nadat die prokureur, mnr. Sisa Namandje, die party in Julie 2020 ingelig het dat hy nie dié keer oorweeg wil word nie.

Daar is egter sprake dat Namandje te hore gekom het van die party se planne om hom te vervang en dus bedank het voordat Swapo dit kon bewerkstellig.

Hy was voorsitter by vier verkiesingskongresse nadat hy die rol ingeneem het tydens die omstrede kongres van 2004 wat gelei het tot die bedanking van die ontslape partystaatmaker mnr. Hidipo Hamutenya, wat daarna die Rally for Democracy and Progress (RDP) gevorm het. Namandje het by navraag geweier om kommentaar te lewer.

EENMANVERTONING

In hierdie stadium is partyamptenare soos mnre. Fillemon (Wise) Immanuel en Joshua Kaumbi onder diegene wat as opvolgers vir Namandje oorweeg word.

Gerugte doen die ronde dat Immanuel reeds as voorsittende beampte aangestel is. Die party het nie op vrae oor hierdie aangeleentheid gereageer nie.

Daar is sprake in Swapo-binnekringe dat die party se leierskap ’n prokureursfirma wil betrek om toesig te hou oor die stemproses by die kongres – en in die proses wegbeweeg van die eenmanvertoning waaraan die meer as 700 afgevaardigdes in die Namandje-era gewoond geraak het.

Namandje wil glo die rol vaarwel roep om op ander aspekte van sy regsloopbaan te fokus.

Kritici in partybinnekringe vra egter vir ’n plaasvervanger en sê Fishrot-verwante aantygings wat teen die bekende prokureur gemaak is, voorspel niks goeds vir die party se pogings om hom van die skandaal te distansieer nie.

Namandje, wat sy onskuld in die Fishrot-skandaal volgehou het, is ’n gevestigde in Swapo-kringe. Hy is die persoonlike prokureur vir president Hage Geingob en sy vrou, me. Monica Geingos, asook oudpresidente Sam Nujoma en Hifikepunye Pohamba.

ONTLEDER SE MENING

Die politieke ontleder mnr. Ndumba Kamwanyah het gesê die party moet verseker die interne verkiesings word geloofwaardig uitgevoer, selfs al moet hy ’n volwaardige regsfirma oorweeg om die proses te bestuur.

“Dit blyk die party wil seker maak dat die proses geloofwaardig is. Hulle sal selfs so ver gaan as om na ’n prokureursfirma te kyk om die proses te bestuur; dit sal duur wees, maar dit sal help om ander geskille te voorkom.”

Hy het gesê die geloofwaardigheid van die stemproses by die kongres sal afgevaardigdes se grootste rede tot kommer wees.

“Reputasie is baie belangrik, daarom het die party ’n persoon nodig met goeie aansien en wat deur alle kandidate en afgevaardigdes as onpartydig beskou word. Die voorsittende beampte moet ook geen persoonlike motiewe hê nie,” het hy bygevoeg.

Kamwanyah het ook ’n waarskuwing gerig aan diegene wat stemme koop en gesê dit is ’n kultuur wat nie in die politiek geduld moet word nie.

“Kandidate moet in elk geval ten alle koste geld in verkiesingsprosesse vermy, want jy sal in ’n situasie beland waar slegs mense met hulpbronne verkies sal word, ten koste van diegene met die bevoegdhede en vaardighede, maar nie noodwendig hulpbronne het nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer