Conrad Lutombi. Foto verskaf
Conrad Lutombi. Foto verskaf

Munisipaliteit ’n politieke gedierte, sê werkersunie

Nalawu ontsteld oor stadsake
Die hoofstad se munisipaliteit ondervind 'n kommerwekkende afname in sy personeel se moraal en werkers voel onseker oor hul toekoms, sê die vakbond.
Jemima Beukes
Die Namibiese Munisipale Werkersunie (Nalawu) het sy voornemens vir eers laat vaar om Stad Windhoek (CoW) by die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) aan te meld vir beweerde korrupsie, insluitend die gebrekkige werwingsproses van mnr. Conrad Lutombi as die uitvoerende hoof.

Nalawu se bestuur het aan Republikein se susterkoerant Namibian Sun gesê hulle is vol vertroue die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Erastus Uutoni, sal ’n regverdige besluit neem rakende die werwingsproses.

Hulle het egter beklemtoon dat politieke gekibbel tussen raadslede en die bestuur die munisipaliteit ten gronde dryf met ’n oortrokke rekening van ’n beweerde N$200 miljoen, wat dui op growwe magsmisbruik en wanbestuur.

Uutoni het vandeesweek ’n demper op die munisipaliteit se voorneme geplaas om Lutombi as uitvoerende hoof aan te stel en het die raad gevra om die bevindinge van ’n ondersoek na ernstige bewerings van wangedrag rakende die werwingsproses aan hom te verskaf.

“Stad Windhoek is nou ’n politieke dier; dit is so verpolitiseer. Hulle [raadslede] wil die werk oorneem wat deur die bestuur gedoen moet word,” het die vakbond gesê.

Nalawu is ook gekant teen die verlenging van mnr. George Mayumbelo se kontrak as uitvoerende hoof van menslike hulpbronne en korporatiewe dienste, met nog ’n jaar. Volgens die vakbond is dit deel van ’n komplot om Lutombi in die uitvoerende hoof se stoel te kry.

Die unie beskou ook Mayumbelo se aanstelling as waarnemende uitvoerende hoof tot einde November as problematies.

“Iets vreemd is by die munisipaliteit aan die gang. So nou is Mayumbelo die waarnemende uitvoerende hoof, ’n pos waar hy die mag sal hê om Lutombi se aanstelling as die uitvoerende hoof te motiveer.

“Dieselfde Lutombi wat die verlenging van sy kontrak moet afteken. Dis ’n sameswering van raadslede en sommige uitvoerende lede om seker te maak die duo se aanstellings is verseker. Daarom is die voormalige bestuurskomitee uitgestoot, om plek hiervoor te maak,” het die unie gesê.

Nalawu het ook gesê die situasie het gelei tot ’n aansienlike afname in die moraal van die personeel wat onseker is oor hul toekoms en die volhoubaarheid van die entiteit, wat hulle glo op ’n ineenstorting afstuur.

Volgens Nalawu is sy lede bang dat die volgende uitvoerende hoof besuinigingsmaatreëls soos afleggings kan implementeer om die oortrokke rekening te verhaal.

LEER VAN ANDER

Intussen het die voormalige uitvoerende hoof, mnr. Vinson Hailulu, gesê die munisipaliteit se leierskap moet terugkeer na die tekenbord en kwessies takel wat nie behoorlik aangepak is nie. Hy sê daar is geen plek vir politieke inmenging in enige openbare instelling nie.

“Toe ek daar was, was die bestuur baie duidelik oor die prosedures en professionaliteit oor hoe kwessies getakel moet word. Sonder politieke inmenging sou ons onsself nie in hierdie situasie bevind het nie. Die huidige leiers moet teruggaan na die tekenbord en kyk na die optrede of gebrek aan optrede wat hierdie situasie geskep het,” het hy gesê.

Hy het verder beklemtoon dat professionaliteit en objektiwiteit hoekstene is van die benadering wat gevolg moet word om sleutelkwessies te takel, soos die aanstelling van ’n uitvoerende hoof wat die raad se grootste verantwoordelikheid is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer