Die eerste minister van Indië, Narendra Modi, sal môre die Namibiese parlement toespreek. Foto britannica.com
Die eerste minister van Indië, Narendra Modi, sal môre die Namibiese parlement toespreek. Foto britannica.com

Modi môre op staatsbesoek

Toespraak in parlement bevestig
Indië se eerste minister sluit sy toer aan vyf lande in Windhoek af.
Augetto Graig
Die eerste minister van Indië, Narendra Modi, sal môre die Namibiese parlement toespreek.

Hy is tans op toer aan verskeie lande in Afrika en Suid-Amerika. Hy het verlede week Ghana en Trinidad en Tobago besoek en is Vrydag hartlik in Buenos Aires, Argentinië, verwelkom. Modi het die naweek aan die Brics-beraad in Rio de Janeiro, Brasilië, deelgeneem.

Volgens newsonair.gov.in, die Indiese regering se nasionale openbare diensuitsaaier, sal Modi met president Netumbo Nandi-Ndaitwah vergader “om ’n nuwe padkaart vir samewerking uit te stippel tot voordeel van die mense, die streke en die breër globale Suide”.

Modi het op sy eie sosialemediaplatforms gesê: “Die besoek aan Namibië poog om betrekkinge met ’n vertroude vennoot te versterk met wie ons ’n geskiedenis van weerstand teen kolonialisme deel.

“President Netumbo Nandi-Ndaitwah en ek sal praat oor maniere om bande oor talle sektore te versterk. Dit sal ook ’n eer wees om die Namibiese parlement toe te spreek.”

Die parlement het bevestig dat sy toespraak vir môre om 16:00 geskeduleer is. Dis die tweede keer dat ’n sittende staatshoof van Indië die Namibiese parlement toespreek, nadat Shri Pranab Mukherjee ’n afvaardiging van top-Indiese politici op 17 Junie 2016 na Namibië gebring het.



BILATERALE HANDEL GROEI

Indië se ministerie van buitelandse sake het verlede jaar daarop gewys dat bilaterale handel tussen die twee lande positiewe groei beleef.

Tussen April en November 2023 het tweerigtinghandel US$654 miljoen bereik, na ’n groei van 178% vanaf die US$278 miljoen in waarde wat die vorige jaar bereik is. Indiese kundigheid in inligtingstegnologie, farmaseutiese produkte, hernubare energie en klein besighede is van belang vir Namibië, het Indië se regering gesê.

Die Bank of Namibia (BoN) het verlede jaar met International Payments Limited (NIPL), die internasionale arm van die National Payments Corporation of India (NPCI), ooreengekom om ’n onmiddellike betaalstelsels vir Namibië te ontwikkel.

Namibiese politici sal na Modi se formele toespraak kan luister, maar daar sal geen vraag-en-antwoordsessie wees nie, volgens die Nasionale Vergadering. Die geleentheid sal regstreeks uitgesaai word, op beide amptelike parlementêre kanale en deur die nasionale uitsaaier, het die parlement bevestig.



WêRELDLEIERS

Wanneer Modi, vir meer as ’n dekade die leier van een van die wêreld se grootste bevolkings, môre lede van Namibië se Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad sal toespreek, sal hy volg in die voetspore van ’n lys gesogte wêreldleiers wat voorheen ook in die Tintenpalast die hoofrede gelewer het.

Volgens die parlement het Angola se langtermynleier, José Eduardo dos Santos op 25 Oktober 2007 dieselfde geleentheid gehad, voordat die voormalige Suid-Afrikaanse president Thabo Mbeki dae later op 30 Oktober 2007 ook die twee huise van Namibiese wetgewers toegespreek het.

In Julie 2008 was Ellen Johnson Sirleaf, toe die president van Liberië en die eerste vrouestaatshoof van Afrika, ook aan die woord. Botswana se voormalige president Seretse Khama Ian Khama het in Junie 2012 die Namibiese parlement toegespreek. Nóg 'n voormalige president van Suid Afrika, Jacob Zuma, het dieselfde geleentheid in 2013 gekry.

Ander wêreldleiers wat in die Tintenpalast aan die woord was, sluit in ikoon Nelson Mandela van Suid-Afrika, asook Dennis Francis van Trinidad en Tobago toe hy in 2024 die president van die 78st sessie van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering was. Die Duitse minister van buitelandse sake, Heiko Maas, was in 2021 in die Namibiese parlement aan die woord.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer