Kies ACC-leierskap ‘deursigtig’

Onpartydig, onafhanklik
Die aanstelling van die twee topposisies en die drie kommissarisse 'behoort op 'n objektiewe en deursigtige proses gebaseer te wees'.
Brigitte Weidlich
Die huidige prosedure vir die verkiesing en aanwysing van die leierskap van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) laat vrae ontstaan oor die onpartydigheid en onafhanklikheid van dié staatsinstelling.

Die parlementslid en lid van die Affirmative Repositioning (AR), George Kambala, het in die lig hiervan in die parlement gevra dat die huidige manier waarin die ACC-leierskap verkies word, verander behoort te word.

“Meer deursigtigheid is nodig,” het Kambala Dinsdag in die parlement beklemtoon.

Die kommissie is ’n onafhanklike agentskap van die uitvoerende gesag van die Namibiese regering en is ingevolge afdeling 2 van die Teenkorrupsiewet van 2003 gestig. Dit is op 1 Februarie 2006 deur die voormalige president Hifikepunye Pohamba bekragtig, met die doel om korrupsie in die land te bestry en te voorkom.

Sedert die ACC se ontstaan is Paulus Noa, die direkteur-generaal, en sy adjunk, Erna van die Merwe, aan stuur van sake by die owerheid met ’n matige sukseskoers.

Die ACC word herhaaldelik deur Jan Alleman daarvan beskuldig dat die kommissie na bewering net die “klein vissies” vang en weinig doen om ernstige voorvalle van beweerde korrupsie te ondersoek.

Volgens die Teenkorrupsiewet van 2003 is die kommissie ’n onafhanklike liggaam wat korrupsie moet ondersoek en verseker dat oortreders voor die gereg gebring word.

“Dié wet en die Namibiese Grondwet het ongelukkig nie ’n duidelik gedefinieerde prosedure vir die nominasie van kandidate vir die poste van hoof en adjunkhoof deur die president aan die Nasionale Vergadering nie,” het Kambala gesê.

“Die aanstelling van die twee topposisies en die drie kommissarisse moet gebaseer wees op ’n objektiewe en deursigtige proses en nie op subjektiwiteit nie,” het hy beklemtoon.

Volgens Kambala behoort ’n verkiesingspaneel bestaande uit sleutel- nasionale instellings, soos die kantoor van die ombudsman, saamgestel word.

“Die paneel sal aansoekers nooi en openbare onderhoude met die gekose kandidate voer en dan die name aan die president vir keuring voorlê.

“Gevolglik sal geskikte kandidate deur die Nasionale Vergadering goedgekeur word,” het Kambala gesê.

Die debat oor sy voorstel sal vandeesweek in die parlement gevoer word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer