President Hage Geingob het aan wêreldleiers gesê die planeet se gesondheid is in ernstige gevaar. Foto Namibiese presidensie
President Hage Geingob het aan wêreldleiers gesê die planeet se gesondheid is in ernstige gevaar. Foto Namibiese presidensie

Geingob spreek die wêreld toe

‘Inklusiwiteit voorspel vrede’
President praat tydens die 77ste sitting van die VN se algemene vergadering.
Augetto Graig
Die Namibiese staatshoof het Woensdag die wêreld toegespreek tydens die 77ste sitting van die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering in New York.

Pres. Hage Geingob het Namibië as ’n voorloper vir die redding van die aarde en voorstander vir vrede uitgebeeld.

Ter ondersteuning van demokrasie, het die staatshoof gesê sy regerende party is in die proses om ’n opvolger vir hom te kies. Hy het gesê Swapo se volgende presidentskandidaat sal heel moontlik ’n vrou, of ’n man van ’n generasie wees wat nie in ballingskap was nie.

Namibië spog met meer as 40% vroue-verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering en vroue is aan stuur van sake in 90% van die land se banke, sê Geingob.

Die staatshoof ondersteun die sekretaris-generaal van die VN, mnr. António Guterres, se beroep vir ʼn Beraad van die Toekoms, wat binnekort sal plaasvind.

“Ek sê altyd inklusiwiteit voorspel vrede en eksklusiwiteit voorspel konflik,” het Geingob gesê.

Hy het ook die belang van onderwys beklemtoon.

“In Namibië ontvang die onderwyssektor die grootste sny van die begrotingskoek, gelykstaande aan 8% van die bruto binnelandse produk (BBP) en byna ’n kwart van die totale nasionale begroting.

“Die Namibiese regering bied gratis primêre en sekondêre onderwys, wat ons verbintenis tot die prioritisering en uitbreiding van toegang tot onderwys vir almal demonstreer. Verder is ons trots op die onlangse landing van die Google Equiano ondersese kabel wat hom verleen om Namibië se digitale transformasie en ons digitale agterstand, te verklein, in ooreenstemming met ons toewyding om die Vierde Nywerheidsrewolusie te benut,” sê hy.

Verder het Geingob die standpunt herhaal dat Namibië se klassifisering as ʼn middelinkomste-land onregverdig is, en hy het weer eens ’n beroep gedoen vir ’n twee-staat-oplossing tussen Palestina en Israel, die onafhanklikheid van Westerse Sahara en die opskorting van sanksies teen Kuba en Zimbabwe.

Hy het verder ’n beroep gedoen op die hervorming van die VN se sekuriteitsraad om Afrika-verteenwoordiging te bied, en dat die VN ’n vreedsame oplossing in die Rusland-Oekraïense konflik moet lei.

“Die gesondheid van ons planeet is in ernstige gevaar. Ons huis is aan die brand. Ons ervaar ’n ongekende impak weens klimaatsverandering, insluitend ernstige droogtes en verwoestende veldbrande. Tyd is ’n luuksheid wat ons nie het nie. Ons moet beslissend optree om koolstofvrystellings te verminder as ons bydrae tot die bewaring van ons planeet en mense,” sê Geingob.

Hy het belowe dat Namibië by die komende COP27-klimaatberaad in November groot ontwikkelinge in dié verband sal aankondig.

Op 21 September was dit ook die VN se Internasionale Dag van Vrede, en is onder die tema “Beëindig rassisme, bou vrede” gevier.

“Vrede is meer as die afwesigheid van oorlog; vrede gaan oor inklusiwiteit en die ontwikkeling van alle nasies,” het Geingob afgesluit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer