Die afgetrede militêre bevelvoerder, Solomon (Jesus) Hawala. Foto verskaf
Die afgetrede militêre bevelvoerder, Solomon (Jesus) Hawala. Foto verskaf

Gawanas worstel om ‘Slagter van Lubango’ te vergewe

‘Laat pynlike herinneringe herleef’
Dekades na die beweerde gruweldade by Lubango het die dood van die 'Slagter van Lubango' ou wonde vir talle 'oorlewendes' weer oopgekrap.
Kenya Kambowe
Namibië se voormalige ombudsvrou, Bience Gawanas, ’n oorlewende van die berugte Lubango-slagting, sê die dood van die afgetrede militêre bevelvoerder Solomon (Jesus) Hawala het pynlike herinneringe aan die gruwels wat sy 36 jaar gelede verduur het, laat herleef.

Hawala, wat die bynaam “Slagter van Lubango” gekry het glo vir beweerde gruweldade tydens Namibië se vryheidstryd, is Maandag in die noorde van Namibië op 89-jarige ouderdom oorlede.

Ná die nuus van sy dood het diegene wat beweer dat hulle onder sy bevel gely het, nie teruggehou om hul ervarings te deel nie.

In ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) het Gawanas gesê dit is te moeilik om in die besonderhede van haar ervaring by Lubango te delf en het NMH verwys na ’n Facebookplasing waarin sy reeds haar gevoelens uitgespreek het. In dié plasing het sy openhartig haar ervarings gedeel en die huldeblyke aan Hawala as “diep kwetsend” beskryf.

“Om die huldeblyke aan Jesus die Slagter van Lubango te sien, bring die pyn en seer terug wat ek 36 jaar lank sedert my gevangenisstraf en vrylating uit die Lubango-gate ly,” het Gawanas geskryf.

“Ek sal nooit vergeet hoe ek hom van aangesig tot aangesig gesien het tydens my gevangenskap in Lubango en sy glimlag nie. Ek het hom weer by die militêre basis op Grootfontein ontmoet tydens 'n besoek met die Staatsdienskommissie en ek het geweier om sy hand te skud.”



‘ONDER SY TOESIG’

Gawanas het bygevoeg sy sou nie Hawala se dood vier nie, maar dat sy nie die vrae wat sy nalatenskap laat ontstaan het, kon ignoreer nie.

“Met alle respek aan die familie, kan ek nie anders as om te voel hy het soveel om antwoorde voor te verskaf nie. Daar kan geen vergifnis wees sonder verskoning of versoening nie,” het sy gesê.

Oor die talle wat nie oorleef het nie, het Gawanas geskryf: “Ek het lewend teruggekom om my storie te vertel, maar baie het nie. Toe hul families my vra waar hulle is, kon ek nie antwoorde gee nie, want slegs Swapo kon daardie vraag beantwoord. Vandag, terwyl ons treur oor die dood van Jesus, kan ons dalk ook diegene onthou en treur wat in die gate onder sy toesig gesterf het.”



PYNLIKE HERINNERING

NMH het onlangs berig staatsamptenare is verdeeld oor die vraag of Hawala ’n heldebegrafnis toegestaan moet word, gegewe die ernstige bewerings wat aan sy naam verbind word.

Hawala het as adjunkbevelvoerder van die People’s Liberation Army of Namibia (Plan) gedien en is as ’n sleutelfiguur in Namibië se gewapende stryd beskou.

Na onafhanklikwording in 1990 het hy ’n bevelvoerder in die Namibiese weermag (NDF) geword en in 2000 het hy Dimo Hamaambo as hoof van die NDF opgevolg. Hy het in 2006 afgetree en is deur Martin Shalli vervang.

Binne Swapo- en regeringskringe is daar ook verdeeldheid oor sy reputasie – hy is deur sommige as ’n vryheidsheld gevier, maar deur ander vir beweerde menseregteskendings beoordeel.

’n Senior amptenaar, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het voorgestel dat president Netumbo Nandi-Ndaitwah die huidige moratorium op staatsbegrafnisse kan gebruik as ’n manier om ’n polities sensitiewe besluit te vermy.

“As gevolg van Jesus se ingewikkelde geskiedenis, kan die president die huidige moratorium op staatsbegrafnisse gebruik as ’n maklike uitweg om hom nie een toe te staan nie,” het die amptenaar gesê.

“Daar is ook opregte vrae oor of Hawala, gegewe sy geskiedenis, steeds 'n held is. Om hom as sodanig te verklaar, sou net 'n pynlike herinnering wees aan die gruweldade wat die slagoffers – waarvan baie nog leef – verduur het.”

Hawala sou op 19 Augustus 90 geword het. Planne was glo aan die gang om dié mylpaal in sy tuisdorp Ohakweenyanga in die Oshanastreek te vier.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer