ECN tjoepstil oor luukse SUV vir oudvoorsitter

Kommissarisse verdeeld oor voertuig van N$2.2 m.
Die Verkiesingskommissie van Namibië het nóg bevestig nóg bewerings oor Elsie Nghikembua ontken.
Edward Mumbuu

Nuusredaksie

Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het nie bevestig of ’n luukse SUV-voertuig na bewering ter waarde van N$2,2 miljoen vir sy voormalige voorsitter, Elsie Nghikembua, aangekoop het nie en of die voertuig aan haar oorhandig is nadat sy die verkiesingsliggaam verlaat het. 

In plaas daarvan sê die ECN het hy sy interne bestuurs- en toesigmeganismes geaktiveer om die saak te ondersoek.

In ’n mediaverklaring wat Vrydag uitgereik is, het die ECN gesê hy het bewus geraak van sosialemediaplasings, openbare kommentaar en korrespondensie van derde partye wat aan die hoofverkiesings- en referendumbeampte, Peter Shaama, gerig is rakende die voertuig.

’n Bron wat met die saak vertroud is, het aan Republikein gesê die kommissie het aanvanklik oorweeg om ’n verklaring van ontkenning uit te reik dat ECN die voertuig aangekoop het. Die bron het verder beweer drie kommissarisse het gedreig om ’n afsonderlike verklaring uit te reik wat die aankoop bevestig, terwyl hulle hulself van die besluit distansieer.

Volgens die bron het die kommissarisse daarna ’n kompromie bereik, wat gelei het tot ’n verklaring wat nie die kernvrae rondom die beweerde transaksie direk aangespreek het nie. Die ECN se verklaring het nie duidelik gemaak of die voertuig verkry of oorhandig is nie, wat dit werd was, wie daarvoor betaal het en of enige onreëlmatighede geïdentifiseer is.

“Die nodige prosesse is tans aan die gang en dit sal deeglik, objektief en in ooreenstemming met die kommissie se statutêre en bestuursverpligtinge uitgevoer word,” het die ECN gesê.

Die bewerings is geopper in ’n eisbrief wat die Affirmative Repositioning (AR)-beweging onlangs uitgereik het.


AR SE BEWERINGS

In ’n brief wat aan Shaama gerig is, het AR se hoof van regsake, Maitjituavi Kavetu, duidelikheid versoek oor die beweerde aankoop en daaropvolgende oorhandiging van die voertuig.

“Dit het onder ons aandag gekom dat die kommissie ’n voertuig vir, of ’n voertuig toegestaan het aan, die voormalige voorsitter van die kommissie, Elsie Nghikembua, nadat sy die diens van die kommissie verlaat het.

“Ons verstaan dat die voertuig, na bewering gewaardeer op ongeveer N$2,2 miljoen, kosteloos aan haar gegee is, effektief as ’n skenking,” het Kavetu gesê.

Hy het aangevoer die verskaffing van ’n voertuig van só ’n waarde aan ’n voormalige ampsdraer op openbare koste, nie as ’n gewone administratiewe aangeleentheid behandel kan word nie.

Kavetu het bevraagteken of enige beleid of regsraamwerk ’n voormalige ECN-voorsitter gemagtig het om ’n voertuig te ontvang nadat sy die kommissie verlaat het.

Hy het ook bevraagteken of so ’n voordeel voorsien is onder die diensvoorwaardes wat op kommissarisse van toepassing is. Hy het aangevoer geen sodanige voorwaardes is in ooreenstemming met Namibiese reg of deur die Nasionale Vergadering goedgekeur nie, soos beoog onder artikel 20(1) van die Verkiesingswet.

“Die voormalige voorsitter se dienskontrak het nie vir so ’n voordeel voorsiening gemaak nie en die kommissie het hierdie besluit geneem op die aanwysing en aandrang van die president [Netumbo Nandi-Ndaitwah],” het hy beweer.

Die president se perssekretaris, Jonas Mbambo, het vrae na die ECN verwys en gesê die kommissie is die beste geplaas om te reageer. 

“Die brief is aan die Verkiesingskommissie van Namibië gerig en ek glo dit is net gepas dat ons die kommissie deur sy leierskap toelaat om op die aangeleenthede wat geopper is te reageer,” het Mbambo gesê.


KOMMER OOR ONAFHANKLIKHEID

Kavetu het gesê enige presidensiële betrokkenheid by die beweerde transaksie sou vrae laat ontstaan oor die ECN se grondwetlike onafhanklikheid.

Die AR voer aan indien die ECN ’n private voordeel aan Nghikembua op die president se aanwysing verskaf het, dit die verkiesingsliggaam se onafhanklikheid en die publiek se vertroue in die integriteit van die land se verkiesingsprosesse kan ondermyn.

Die beweging het die ECN gevra om te bevestig of dit ’n voertuig vir sy voormalige voorsitter aangekoop of geskenk het. Indien wel, wil die AR hê die kommissie moet die voertuig se fabrikaat, model, registrasienommer, aankoopprys en datum van oorhandiging bekend maak. Die AR het ook notules, of uittreksels daarvan, van die vergadering waar die besluit na bewering geneem is, versoek, tesame met die regsbasis vir die transaksie.

Kavetu wil verder weet of die ECN ’n beleid vir die wegdoening van bates het en of die Namibië Inkomstediens (NamRA) geraadpleeg is oor die moontlike belastingimplikasies van die beweerde voordeel. 

“Het die kommissie enige aanwysing, versoek of kommunikasie van die president of die kantoor van die president ontvang rakende hierdie voertuig? Indien wel, verskaf asseblief afskrifte,” het hy gevra.

Die AR het die ECN tien dae gegee om te reageer en gewaarsku hy kan verdere stappe neem indien die antwoorde nie bevredigend is nie.

Die AR sê hy sal nie ledig toekyk waar openbare hulpbronne as private belonings behandel word nie. 

“Sou die kommissie versuim om binne die genoemde tydperk te reageer, of sou dit bevestig word die voertuig is sonder wettige magtiging gegee is, sal die AR sodanige verdere stappe neem soos wat ons geadviseer word.

“Dit sluit in die teruggee van die voertuig of sy waarde te eis, die saak na die ouditeur-generaal en die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) te verwys en die hoërhof te nader vir toepaslike regshulp,” het Kavetu gesê. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer