Die ECN het minder as die helfte van die voertuie wat benodig sal word vir die verkiesings. Foto ECN
Die ECN het minder as die helfte van die voertuie wat benodig sal word vir die verkiesings. Foto ECN

ECN kort nog 2 195 voertuie

Die ECN het ministeries gevra om hul voertuie vir die komende verkiesings beskikbaar te stel.
Met net meer as ’n week oor voor stemdag, het die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) gesê hulle kort nog 2 195 voertuie om die presidensiële en Nasionale Vergadering-verkiesings te hou.

In ’n kennisgewing wat die naweek uitgereik is, het die ECN aangedui dat hy minder as die helfte (1 724 van 3 919) van die voertuie het wat benodig sal word. Daar is net genoeg voertuie in die Hardapstreek. Die voertuie sal gebruik word om verkiesingsbeamptes sowel as toerusting te vervoer.

Die ECN het voertuigeienaars gevra om hul voertuie vandag en môre vir inspeksie en padwaardigheidstoetse beskikbaar te stel.

“Voertuie wat vir die kiesersregistrasies gebruik is en dié wat vir die registrasie getoets is maar nie gebruik is nie en aangedui het dat dit beskikbaar sal wees, is ook by die voertuie gevoeg,” het die ECN gesê.



BEGROTING

Die ECN het vroeër vanjaar aan president Nangolo Mbumba gesê dat ongeveer N$60 miljoen kortkom om die verkiesingsproses vlot te laat verloop.

Die ECN het N$269 miljoen geoormerk om vanjaar se presidensiële en parlementêre verkiesings te hou.

“Dit was ’n voldoende [begroting]. Die [sensus] statistieke is bekend gestel nadat ons reeds van die registrasietoestelle bekom het en met die nuwe syfer moes ons bykomende toestelle kry.

“Dit beteken daar is ’n tekort, maar ons sal ons saak aan die ministerie stel... Die tekort kan sowat N$60 miljoen wees, maar dit is dalk nie die finale syfer nie. Daar was baie onverwagte uitgawes, meer spanne en die verkryging van meer voertuie van private eienaars,” het Elsie Nghikembua, die voorsitter van die ECN, gesê.

Sy het ministeries gevra om hul voertuie aan die ECN beskikbaar te stel sodat daar minder op private voertuie staatgemaak word.

“Gedurende die verkiesingstydperk het ons baie meer voertuie nodig. Dit mag dalk 900 of meer as 1 000 voertuie wees en dit kan beslis nie in een boekjaar aangekoop word nie.

“Ons het tans net 110 voertuie in ons vloot; sommige is by ons hoofkantoor en sommige by ons kantore. Seker sowat 60% van hulle is in ’n werkende toestand. Daarom het ons die ministerie genader om bykomende voertuie te kry,” het Nghikembua gesê.

#NamibiaDecides2024

Kommentaar

Republikein 2024-12-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 40° Rundu: 20° | 39° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 22° | 36° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 23° | 33° Gobabis: 24° | 34° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 18° | 32° Aranos: 21° | 36° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 17° | 31° Oranjemund: 15° | 22° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 24° | 41° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 19° | 38° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 23° | 36° Maputo: 24° | 41° Windhoek: 23° | 33° Cape Town: 16° | 21° Durban: 19° | 24° Johannesburg: 23° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 23° | 38° Harare: 21° | 36° #REF! #REF!