Byna N$24 miljoen vir oudpresidente

Brigitte Weidlich

Die kantoor van die president beplan om byna N$24 miljoen aan twee voormalige presidente te bestee. 

Dit is deur eerste minister Elijah Ngurare bevestig toe hy verlede week die nuwe begroting vir die staatshoof aan die parlement voorgelê het. 

Die eerste minister het gefokus op president Netumbo Nandi-Ndaitwah se aktiwiteite en amptelike besoeke oor die afgelope twaalf maande en min inligting oor nuwe inisiatiewe gegee. 

Die kantoor van die president benodig N$1,21 miljard, waarvan N$152 miljoen vir ontwikkelingsprojekte nodig is. Verlede jaar het die kantoor N$1,46 miljard ontvang. 

“Die kleiner begroting vir die nuwe boekjaar wat op 1 April begin, is daaraan te wyte dat die Namibiese raad vir bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB) nou aan die ministerie van internasionale betrekkinge en handel toegewys is,” het Ngurare verduidelik. 

Volgens hom is ’n totaal van N$239,8 miljoen vir 2025-’26 aan beleggings- en instandhoudingsprojekte toegeken, hoofsaaklik vir “sleutelaktiwiteite soos die instandhouding van infrastruktuur, nuwe kantoortoerusting en om veilige en doeltreffende lugreise vir die president en ander hoë amptenare te verseker,” het Ngurare gesê. 

Daarbenewens is fondse toegeken vir die opknapping van die vierde presidensiële woning en kantoor, asook die gastehuis op Swakopmund en die konstruksie van ’n nuwe regeringsgastehuis op Oshakati en die presidensiële woonstel op die perseel van die kantoor van die president in Windhoek. Dit sluit ook haalbaarheidstudies en argiteksontwerpe vir die presidensiële vleuel by die gastehuis op Oshakati in. “Fondse is ook goedgekeur vir die tweede fase van die opgradering van lugversorging by Staatshuis,” het Ngurare bygevoeg.

Uitgawes vir voormalige presidente Hifikepunye Pohamba en Nangolo Mbumba word vir die nuwe boekjaar op N$23,7 miljoen beraam. 

Die kantoor van die eerste minister sal na verwagting N$535 miljoen in die nuwe boekjaar ontvang, waarvan N$50 miljoen vir ontwikkelingsprojekte geoormerk is. 

In sy begrotingstoespraak het Ngurare daarop gewys dat in 2025 sowat 1,4 miljoen Namibiërs – net onder 50% van die bevolking – droogtehulp ontvang het. 

Hy het ook ’n nuwe wet oor administrasie en bestuur in die openbare sektor aangekondig. Dit het ten doel om leemtes in bestuur te sluit en koördinering binne die regering te verbeter. 

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-03-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer