‘Swartbooi sal nooit president wees’

Sankwasa kap terug oor LPM-bewerings
Die kern van die politieke vete tussen die president van die LPM en die minister van stedelike en landelike ontwikkeling is 'n fundamentele meningsverskil oor die struktuur en verantwoordbaarheid van die regering.
Elizabeth Kheibes
Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Sankwasa James Sankwasa, het in geen onduidelike terme gesê die politieke ambisies van Bernadus Swartbooi, die leier van die Landless People’s Movement (LPM), is gedoem.

Sankwasa het Swartbooi se bewerings dat hy onbevoegd is om ’n ministerie van daardie omvang te bestuur, heftig verwerp.

“Ek weet hy begeer om die president te wees, maar hy sal dit nooit wees nie. Daardie een kan ek jou verseker, hy sal nooit ’n president van hierdie land word nie,” het Sankwasa gister tydens ’n eksklusiewe onderhoud met Network Media Hub (NMH) gesê.

Dit volg in reaksie op ’n mediakonferensie gister waartydens die LPM-leier die minister van oordrewe optrede, diktatoriale gedrag en wanbestuur van staatsgeld beskuldig het.

In sy toespraak het Swartbooi die minister se wetlikheid bevraagteken en hom daarvan beskuldig dat hy gedesentraliseerde regeringstrukture ondermyn het.

“Daar word niemand verkies in ’n struktuur genaamd sentrale regering nie. Daar is net ’n president wat as staatshoof verkies word.

“Maar selfs onverkose mense kan deur die president van die straat af opgetel, afgestof, gewas, gestort en dan in die Nasionale Vergadering geplaas word.”

Swartbooi het Sankwasa as ’n “blikpotdiktator” uitgebeeld wat losgemaak is van die realiteite van die mense en gesê die minister se fokus moet op werksgeleenthede, behuising en grondlewering wees – nie op die teistering van plaaslike rade nie.



‘SWARTBOOI SKYNHEILIG’

Sankwasa het egter die rolle omgekeer en Swartbooi van skynheiligheid beskuldig.

“Voordat hy adjunkminister geword het, was Swartbooi goewerneur van die ||Kharasstreek. Wat het hy gedoen om ontwikkeling daar te bring?” het die minister gevra.

“Toe dinge onder sy leierskap verkeerd geloop het, het hy die skip verlaat en ’n politieke party gestig.”

Hy het gewys op ’n “verdoemende” ouditverslag oor die ||Kharas-streekraad, nou onder LPM-administrasie, wat volgens hom hoë vlakke van finansiële wanbestuur onthul.

“As hy beweer dat hy ’n goeie leier is, kan hy verduidelik wat onder sy toesig gebeur het?

“Hierdie geld was vir ontwikkelingsprojekte geoormerk. Maar dit is misbruik. Ek gaan hulle steeds hiervoor aanspreeklik hou. Dis my plig. Of hy daarvan hou of nie,” het Sankwasa gesê.

Hy het ook sy toesighoudende rol verdedig en daarop aangedring dat plaaslike en streekowerhede kragtens die Grondwet nie onafhanklike entiteite is wat vry is van ondersoeke nie.

“Namibië is ’n eenheidstaat. Alle plaaslike en streekowerhede het ’n eed afgelê om die wette van die republiek te handhaaf.

“As hulle weier om aanspreeklikheid te aanvaar, moet hulle daardie eed terugtrek,” het hy gesê.



‘NIE HIER VIR ’N SALARIS’

Oor die bewerings rakende sy konsultasiefirma en sy regeringskontrakte, het Sankwasa gesê hy het ’n winsgewende konsultasieloopbaan prysgegee om in die regering te dien.

“Ek het nie hierheen gekom vir ’n salaris nie. As dit oor geld gegaan het, sou ek by my maatskappy gebly het.

“Ek het omtrent 70% van my inkomste verloor. Ek het vir Unicef en verskeie ministeries gekonsulteer. Ek is nie ’n klein seuntjie soos hy nie.”

Sankwasa was min gepla deur Swartbooi se voorspelling dat hy nie lank in sy huidige portefeulje sou oorleef nie.

Swartbooi het gesê Sankwasa is onbevoeg om ’n ministerie van daardie omvang te hanteer en het parallelle getrek met die voormalige minister, Erastus Utoni, wat hy as ’n “werklose voormalige iemand” beskryf het.

“Ek dink as ek noukeurig kyk na die geskiedenis van hoe ministers in hierdie ministerie was, sal Sankwasa na my mening nie eens 14, 18 maande as ’n minister oorleef nie. Hy sal nie,” het Swartbooi benadruk.

Sankwasa het ter verdediging gesê: “As sy veldtog is om Sankwasa te verwyder, is ek bereid om huis toe te gaan.

“Maar wat ek nooit sal doen nie, is om te buig en die verkeerde ding te doen. Kom wat wil, dit sal nooit gebeur nie.”



‘SELEKTIEWE GEHEUEVERLIES’

Die kern van hierdie politieke vete is ’n fundamentele meningsverskil oor die struktuur en verantwoordbaarheid van die regering.

Swartbooi dring daarop aan dat plaaslike en streekowerhede uiteindelik verantwoording moet doen aan die mense wat hulle verkies, nie aan ’n minister wat deur die president aangestel is nie.

“Sê vir my waar die minister die uiteindelike persoon is aan wie plaaslike en streekowerhede verantwoording moet aflê,” het Swartbooi teruggekap.

Hy het Sankwasa ook van “selektiewe geheueverlies” beskuldig en die lank verlate Masokotwani-ontwikkelingsentrum in Katima Mulilo as ’n simbool van die minister se vorige mislukkings aangehaal.

Sankwasa het dié argument weerlê en Artikels 40 en 41 van die Grondwet aangehaal wat hom direkte verantwoordelikheid gee vir die ministerie se prestasie, insluitend begrotingstoewysing en toesig oor plaaslike en streekowerhede.

Artikels 40 en 41 van die Grondwet bemagtig ministers om regeringsministeries te lei en daaroor toesig te hou, beleide te formuleer en verantwoording te doen vir die administrasie van hul portefeuljes. Spesifiek vereis dit dat ministers individueel en gesamentlik verantwoordbaar aan beide die president en die parlement moet wees.

Sankwasa het hierdie bepalings aangehaal om sy toesig oor plaaslike en streekowerhede te regverdig en aangevoer dat hy, as die een wat hul begrotings in die parlement ter tafel lê en verdedig, grondwetlik verplig is om verantwoordbaarheid te verseker.

“Die geld wat deur rade gebruik word, kom van die begroting wat ek in die parlement verdedig. Hoe kan enigiemand sê ek moet nie betrokke wees nie?” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer