Voetpatrollies begin op Okahandja

Verhoog sigbaarheid, verskerp veiligheid
Die doel is om op grondvlak ’n duideliker begrip te vorm van die uitdagings waarmee gemeenskappe in die verskillende woonbuurte in Okahandja daagliks te kampe het.
Aurelia Afrikaner

Die polisie op Okahandja het hul teenwoordigheid in die dorp se strate verskerp. 

Gereelde voetpatrollies is vandeesweek van stapel gestuur in reaksie op inwoners se kommer oor veiligheid en polisiëring op die dorp.

Okahandja se stasiebevelvoerder, Mathias Tjarimba, het aan Windhoek Express (WE) gesê die patrollies is ingestel nadat inwoners hul kommer tydens ’n gemeenskapsvergadering op 15 Augustus geopper het. 

Die vergadering is deur generaal-majoor Anne-Marie Nainda, waarnemende inspekteur-generaal van die Namibiese polisie (Nampol), bygewoon. 

Tjarimba sê die patrollies sal op ’n meer gereelde basis uitgevoer word om die polisie se sigbaarheid te versterk en misdaad te voorkom. Die inisiatief vorm deel van voortgesette pogings om veiligheid op Okahandja te verbeter; met die polisie wat inwoners versoek het om met wetstoepassers saam te werk. Dit geld veral met betrekking tot die toename in dwelmmisbruik en die handel in dwelms op die dorp. 

Tydens Dinsdag se voetpatrollie het WE verskeie uitdagings waargeneem waarmee polisiebeamptes te kampe het. Dit was veral duidelik in informele nedersettings, waar swak straatbeligting dit moeilik maak om veilig deur sekere gebiede te beweeg.  

Die patrollie het ’n reeks maatskaplike probleme uitgelig.

Jongmense is laat in die nag op straat gesien waar hulle kapana verkoop het, terwyl die polisie klein sakkies dagga, sakmesse, e-sigarette en onwettig ingevoerde YES-sigarette gekonfiskeer het.

Beamptes het ook ouers teëgekom wat alkohol in die teenwoordigheid van hul kinders drink – ’n situasie wat beskryf word as deel van groter maatskaplike probleme binne gemeenskappe.

Die polisie het inwoners aangespoor om verdagte aktiwiteite aan te meld en met beamptes saam te werk om pogings te verskerp om dwelmmisbruik en ander vorme van misdaad te bestry.

Die patrollie is ook oorskadu deur ’n noodlottige voorval by Ekunde No. 2, waar ’n 26-jarige man gesterf het nadat hy na bewering met ’n spies aangeval is.

Volgens Tjarimba sal die voetpatrollies voortduur om gemeenskappe se veiligheid te verbeter. Die doel is ook om op grondvlak ’n duideliker begrip te vorm van die uitdagings waarmee gemeenskappe in die verskillende woonbuurte in Okahandja daagliks te kampe het. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer