Vingerafdruk-agterstand belemmer polisiewerk
Vertragings in die verwerking van vingerafdrukke kniehalter die Namibiese polisie (Nampol) se pogings om herhaalde oortreders vinnig te identifiseer, met ondersoekbeamptes wat gedwing word om te wag vir uitslae van ’n enkele nasionale vingerafdrukkantoor wat al 14 streke bedien.
Die hoof van misdaadondersoeke in die Oshanastreek, adj.komm. John Matongwe, het Dinsdag gesê dat, hoewel die polisie oor ’n vingerafdruk-identifikasiestelsel beskik wat verdagtes met vorige kriminele rekords kan identifiseer, ’n toenemende agterstand beteken dat uitslae dikwels nie betyds beskikbaar is om ondersoekbeamptes tydens die vroeë stadiums van strafsake te help nie.
“Gewoonlik neem dit nie tyd nie, maar ons het agterstande. Ons het slegs een sentrale kantoor vir alle vingerafdrukke wat al 14 streke bedien,” het hy aan Republikein gesê.
Matongwe het verduidelik dat versoeke van oraloor die land deur dieselfde kantoor in Windhoek verwerk word, wat tot lang vertragings lei.
“As Oshana 300 versoeke vir vingerafdrukke indien, Windhoek 500 en Erongo 1 000, neem dit tyd vir die hoofkantoor om die uitslae te genereer,” het hy gesê.
Volgens Matongwe kan die vertragings dit vir ondersoekbeamptes moeiliker maak om onmiddellik vas te stel of ’n verdagte vorige sake in ander streke teen hom of haar aanhangig het – inligting wat van toepassing tydens ondersoeke en borgtogverrigtinge kan wees.
Ten spyte van die bottelnek, het hy gesê speurders bly proaktief deur inligting tussen die streke te versprei en verdagtes op te spoor wat vermoedelik oortredings in ander dele van die land gepleeg het.
“Ons kommunikeer tussen die streke en gaan na of verdagtes elders sake teen hulle het,” het Matongwe gesê.
Hy het gesê langdurige strafregtelike verrigtinge word ook deur faktore buite die polisie se ondersoeke aangedryf. Dit sluit in die ingewikkeldheid van sake, aansoeke vir regshulp en uitstelle wat deur verdedigingsprokureurs versoek word.
Matongwe het beklemtoon alle beskuldigdes is op ’n regverdige verhoor geregtig en word as onskuldig beskou totdat skuld deur ’n bevoegde hof bewys is.
Die agterstand in die verwerking van vingerafdrukke is weer onder die loep geneem nadat die polisie bevestig het dat Abner Mateus – wat van moord en bedrog aangekla word – agt hangende strafsake teen hom oraloor Namibië het, waarvan nog nie een tot ’n skuldigbevinding gelei het nie.
Volgens Matongwe is meer as vyf van die sake in die Oshanastreek geregistreer, met nog een in die Khomasstreek. Twee is in 2012 aanhangig gemaak en nog twee in 2013. In 2013 is hy in Oshana in hegtenis geneem in verband met bewerings van gewapende roof, huisbraak en ontvoering, terwyl hy as polisiebeampte gedien het.
Twee jaar later het hy weer in die hof verskyn saam met Albertus Kahembe, Lukas Nekwiyu en David Oiva Johannes, nadat hulle in hegtenis geneem is omdat hulle na bewering ’n Chinese sakeman op Oshikango wou beroof.
Dié vier sake is intussen saamgevoeg en dien voor die Ondangwa-streekhof, waar Mateus na verwagting weer op 5 November sal verskyn.
In 2021 is Matheus weer in hegtenis geneem nadat die polisie hom na bewering met vervalste dokumente in sy besit gevind het terwyl hy glo sonder ’n geldige rybewys bestuur het.
Die polisie beweer hy het ’n vervalste aanstellingsertifikaat van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië, ’n vals magnommer en dokumente met die beweerde vervalste handtekening van die destydse inspekteur-generaal van Nampol, luitenant-generaal Sebastian Ndeitunga, by hom gehad.
Ondersoekers het verder beweer dat hy in besit was van ’n ander persoon se bankstaat, wat hy volgens hulle van plan was om in ’n bedrogskema te gebruik.
Matongwe het gesê ’n afsonderlike saak wat op Omuthiya aanhangig gemaak is en ’n pensioenaris betrek, is die gebeurtenis wat volgens ondersoekers uiteindelik gelei het tot die beweerde komplot om die beheeraanklaer Justine Shiweda te vermoor.
Mateus is ook een van die beskuldigdes in die beweerde Sanlam-bedrogskema van N$2,1 miljoen, wat volgens die polisie die beweerde moordkomplot gefinansier het.
In 2016 het Nampol een van die eerste wetstoepassingsagentskappe in Suider-Afrika geword wat die Namibiese geoutomatiseerde biometriese identifikasiestelsel (N-ABIS) ingestel het – ’n geoutomatiseerde platform vir vingerafdruk- en gesigsherkenning wat ontwerp is om strafregtelike ondersoeke en identiteitsverifikasie te versterk.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie