Polisie ondersoek self
Die Namibiese polisie het sy interne stelsel vir die ondersoek van wangedrag verdedig en gesê voorsorgmaatreëls is in plek om te verseker dat bewerings teen beamptes objektief hanteer word. Die versekering volg midde kommer dat polisielede wat hul kollegas ondersoek, ‘n beeld van vooroordeel kan skep.
Die waarnemende inspekteur-generaal van die polisie, majoor-generaal Anne-Marie Nainda het Vrydag aan Republikein gesê die direktoraat vir polisie-optrede en ondersoeke hanteer kriminele sake wat teen beamptes gemaak word, asook departementele dissiplinêre sake. Die beamptes en die direktoraat rapporteer direk aan die inspekteur-generaal.
Hoewel die direktoraat binne die polisie val, is dit volgens Nainda “heeltemal onafhanklik” omdat die inspekteur-generaal die gesag het om te bepaal hoe ondersoeke uitgevoer word en wie aangestel moet word om spesifieke sake te hanteer.
Nainda se kommentaar volg in die lig van ‘n oproep van die ombudsman Basilius Dyakugha vir 'n onafhanklike liggaam om optrede van die polisie te ondersoek. polisiegedrag te ondersoek. Volgens Dyakugha word soortgelyke stelsels in baie lande gebruik.
Hy het gesê die stigting van so 'n liggaam sal beleidsingryping deur die uitvoerende gesag en wetgewers vereis. Volgens hom moet die inspekteur-generaal egter nie vir politici wag om die saak aan te roer nie.
“Die voorstel om die polisiewet te wysig, kan van die inspekteur-generaal kom,” het Dyakugha gesê. Volgens hom moet die leierskap in die polisie die bespreking begin indien hulle glo dat veranderinge nodig is.
Nainda het egter gesê die huidige stelsel het waarborge wat daarop gemik is om te verhoed dat beamptes kollegas ondersoek waar daar 'n botsing van belange kan wees.
Sy het gesê die inspekteur-generaal oorweeg die aard van die saak en die range van die betrokke beamptes wanneer besluit word wie die ondersoek gaan doen en of ondersoekers uit ‘n ander streek ingebring moet word.
“As daar 'n saak in die Omusati is en die polisiebeamptesvan die streek is betrokke, sal die inspekteur-generaal 'n onafhanklike ondersoeker uit 'n ander streek aanstel,” het Nainda gesê.
Sy het gesê ondersoekers kan van 'n ander streek, of 'n kombinasie van streke en in veral in ernstige gevalle, aangestel word om objektiwiteit te versterk en die risiko van vooroordeel te verminder.
Die reëling is ook bedoel om te verhoed dat beamptes hul kollegas binne dieselfde streek of eenheid beskerm, het sy gesê.
Die polisie het volgens die inspekteur-generaal ook ‘n verdere hersieningsmeganisme om te verseker dat die direktoraat wat 'n saak ondersoek, nie ook sy eie werk hersien nie.
Volgens Nainda doen die regsdirektoraat die hersiening wat ‘n bykomende kontrole bied op ondersoek wat deur die ondersoekdirektoraat uitgevoer word. Verdere waarborge buite die regsdirektoraat sluit in sake wat deur die adjunk- inspekteur-generaal vir administrasie en vir operasies gaan.
Volgens Nainda het die polisie geen probleme met die huidige reëling ondervind wat die vervanging daarvan met 'n eksterne meganisme op hierdie stadium sou regverdig nie.
Nainda het gesê die ondersoekdirektoraat is ook toeganklik vir lede van die publiek, met eenhede wat in elk van die 14 streke teenwoordig is.
Lede van die publiek kan formele klagtes teen polisiebeamptes indien of inligting verskaf oor beweerde korrupsie en ander gedrag wat buite die wet val, het sy gesê.
Nainda het lede van die publiek aangespoor om vertroue in die stelsel te hê, en gewys op statistieke wat toon dat polisiebeamptes weens wangedrag ontslaan is, terwyl ander hof toe geneem is.
Sy het gesê dat sodra kriminele ondersoeke voltooi is, sake aan die aanklaer-generaal vir ‘n besluit voorgelê word. Volgens statistieke wat Nainda aangehaal het, sluit die meeste oortredings teen polisiebeamptes roekelose en nalatige bestuur terwyl hulle aan diens is, asook aanranding tydens die uitvoer van hul pligte in.
Hoewel sy erken het ernstige oortredings kom ook voor, is bogenoemde twee kategorieë volgens haar waar die meeste gevalle voorkom.
Nainda het egter nie ‘n eksterne meganisme vir ondersoeke in die toekoms heeltemal uitgesluit nie en die polisie beskryf as ‘n organisasie wat aanhou groei en ontwikkel.
“Miskien in die toekoms, sou daar 'n behoefte aan 'n onafhanklike eksterne liggaam wees, is die moontlikheid daar,” het sy gesê. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie