’n Lugvoorstelling van die DRC-nedersetting in Swakopmund se nuwe polisiekantoor. Foto Rössing Uranium
’n Lugvoorstelling van die DRC-nedersetting in Swakopmund se nuwe polisiekantoor. Foto Rössing Uranium

Nedersetting spog met polisiekantoor

Teen ’n geraamde koste van N$24 miljoen
Die polisie het ook nuwe meubels en twee amptelike voertuie ter waarde van N$1,2 miljoen vir die nuwe polisiekantoor aangekoop.
Adam Hartman
Die informele nedersetting DRC in Swakopmund, die tuiste van sowat die helfte van die dorp se bevolking en ’n brandpunt vir misdaad, spog nou met sy eie polisiekantoor, wat teen ’n geraamde koste van N$24 miljoen opgerig is.

Die polisiekantoor is deur Rössing Uranium gebou op grond wat deur die Swakopmund-munisipaliteit geskenk is. Dit is die kusdorp se derde polisiekantoor wat aansluit by dié in die sentrale sakekern en Mondesa.

Die nuwe polisiekantoor is die meer gevorderde van die drie en sluit ’n aanklagkantoor, vier kantore, ’n kantoor vir rekords, sowel as vir wapens en onderhoude in. Dit huisves ook ’n kombuis vir die personeel, toilette en ’n parkeerterrein.

Die polisiekantoor het ook ’n aanhoudingsarea met vier aanhoudingselle, ’n konsultasiekamer vir ’n dokter, ’n identifikasie-area en ’n koelkamer. Die perseel word deur kringtelevisiekameras gemonitor.

Die polisie het ook nuwe meubels en twee amptelike voertuie ter waarde van N$1,2 miljoen vir die nuwe polisiekantoor aangekoop.

Tydens die inhuldiging het die hoof van die Namibiese polisie, inspekteur-generaal Joseph Shikongo, ’n beroep op DRC-inwoners gedoen om die polisie te ondersteun.

“’n Veilige gemeenskap vereis die aktiewe betrokkenheid van elke inwoner,” het Shikongo beklemtoon en inwoners gemaan om nie misdadigers te huisves of gesteelde goedere te koop nie.

Hy het verwys na die hoë misdaadsyfer in die DRC waar gesteelde goedere dikwels in inwoners se huise gevind word.

Shikongo het die behoefte vir voldoende kantoorruimte beklemtoon om die polisie se werk te verbeter. Volgens hom moes inwoners vroeër staatmaak op afgeleë stasies vir polisie-optrede.

“Hierdie polisiekantoor weerspieël ons toewyding om polisiebeamptes se werksomstandighede te verbeter en polisiedienste oraloor die land uit te brei. Gelukkige personeel lewer gehaltedienste," het Shikongo beklemtoon.

By dieselfde geleentheid het die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, Albert Kawana, Rössing se skenking as ’n “kritieke stap” beskryf om die veiligheid en welstand van die DRC-gemeenskap te verbeter.

Die minister het Shikongo se beroep vir ondersteuning van die gemeenskap beaam en het die belangrikheid beklemtoon om misdade aan te meld om ’n kultuur van wetteloosheid te bekamp.



VOLGEHOUE VERBINTENIS

Rössing Uranium se raadsvoorsitter, Steve Galloway, het die maatskappy se volgehoue verbintenis tot sosioëkonomiese ontwikkeling beklemtoon. Rössing het in gesondheid, onderwys en infrastruktuur oraloor Namibië belê.

“Dit is net reg dat winste wat deur myne gegenereer word, gebruik moet word vir die ontwikkeling van die Namibiese nasie,” het hy gesê.

Volgens Galloway was van die maatskappy se personeel ook slagoffers van misdaad, soos in baie gemeenskappe in die land.

Die besluit om die polisiekantoor te bou, was dus ’n direkte reaksie op gemeenskappe se kommer en weerspieël die maatskappy se verbintenis tot veiligheid. Die polisiekantoor is dus ook daar geleë waar dit die nodigste is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer