• Tuisblad
  • Polisie
  • Nampol: Eienaar het hond beveel Mufasa om polisieman aan te val
Petrus (Pepi) Christian saam met Mufasa wat die naweek deur u0027n polisiebeampte doodgeskiet is. Foto Donna Collins
Petrus (Pepi) Christian saam met Mufasa wat die naweek deur u0027n polisiebeampte doodgeskiet is. Foto Donna Collins

Nampol: Eienaar het hond beveel Mufasa om polisieman aan te val

Adam Hartman

Die Namibiese polisie (Nampol) sê die eienaar van ’n hond wat deur ’n polisiebeampte in Mondesa in Swakopmund, geskiet is, het die hond beveel om aan te val.

Volgens ’n polisieverslag oor die voorval het beamptes omstreeks 00:30 op 10 Oktober ’n lukrake stop-en-deursoek-operasie by die T-aansluiting van Tiras- en Ondjambastraat uitgevoer.

Volgens die verslag het die man, wat geweier het om saam te werk, die hond in die rigting van die beamptes losgelaat en in Afrikaans geskree het: “Vang hom, Mufasa!”

Die polisie sê die hond het ’n beampte agterna gesit, waarna die beampte sy dienswapen afgevuur en die hond getref het voordat dit hom kon bereik.

Die man se familie beweer egter dat Mufasa sy ketting gebreek en na sy eienaar toe gehardloop het en nooit aan enige beampte geraak het nie.

Petrus Christian (44), bekend as Pepi, is in hegtenis geneem. Hy word aangekla van die oortreding van artikel 6(a), saamgelees met artikels 1, 10.1 en 10.3, van munisipale verordening nr. 3019 van 15 Julie 2003.

Hy het Maandag in die landdroshof op Swakopmund verskyn en is op borgtog van N$1 000 vrygelaat. 

Die saak is tot 19 November uitgestel terwyl die polisie se ondersoek voortduur. 

Die polisie het ook ’n video gedeel wat volgens hulle wys hoe Mufasa ’n ander hond voor die skietvoorval aanval. Hulle het nie gesê wanneer of waar die video geneem is nie. 

Republikein het die video gesien, maar het besluit om dit nie te publiseer nie. In die video word gesien hoe ’n hond ’n ander hond aan die nek vashou en skud. Mense word gehoor wat sê die hond moet die ander een laat gaan, omdat hy reeds dood is. Iemand tel dan die hond wat se gesig met bloed bedek is, aan die nek op. 

Die polisie het ’n beroep op die publiek gedoen om tydens operasies met beamptes saam te werk en hulle nie te verhinder om hul pligte uit te voer of hulle in gevaar stel nie. 

 Linda Mupupa, woordvoerder van die Swakopmund-munisipaliteit, het by navraag gesê die raad was op die punt om Mufasa van die huis te verwyder. 

“Dit het ‘n ander hond doodgemaak en twee ander gebyt. Ons het voorwaardes gestel saam met ‘n waarskuwingsbrief, waaraan hulle nie voldoen het nie,” het sy gesê.

Christian het verlede week gesê hy was saam met Mufasa op pad na ’n vriend se huis toe die polisie hom voorgekeer het. Hy sê hy het gevra of hy die hond aan ’n paal kan vasmaak voordat hy deursoek word. ’n Polisiebeampte het volgens hom gedreig om sy hond te skiet. 

Sy vrou, Olivia, het in ’n Facebook-plasing beweer die beampte het haar man glo aan sy geslagsdele gegryp en hom glo verbaal mishandel. 

“Mufasa het nooit aan ’n polisiebeampte geraak of een gebyt nie, maar is nietemin geskiet terwyl hy probeer het om na my toe te kom,” het Christian gesê.

Volgens die gesin is Christian daarvan aangekla dat hy ’n aggressiewe dier op ’n polisiebeampte losgelaat het.

Donna Collins van die Township Doghouse Project, wat Mufasa geken het vandat hy ’n babahondjie was, het intussen gesê hy was goed afgerig en het met kinders gespeel. Die gesin sê hy het nog nooit ’n mens gebyt nie. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer