Nainda genomineer vir Interpol-presidentskap

Namibië soek steun vir kandidaat
Augetto Graig
Generaal-majoor Anne-Marie Nainda, die huidige uitvoerende komitee-afgevaardigde vir Interpol in Afrika en die adjunk-inspekteur-generaal van die Namibiese polisie (Nampol), sal op 27 November in Marrakesj in Marokko vir die Interpol-presidentskap meeding.

Sy is genomineer as die kandidaat van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) vir dié presidentskap en die verkiesingsproses sal volgende week tydens die 93ste sitting van Interpol se algemene vergadering plaasvind.

Die ander kandidate is Ethiopië se kommissaris-generaal en hoof van die Ethiopiese federale polisie, Demelash Gebremicheal Weldeyes; Frankryk se kontroleur-generaal en die Europese en internasionale sake-adviseur van die direkteur-generaal van die Franse nasionale polisie, Lucas Philippe; en die hoof van Turkye se nasionale sentrale buro by Interpol-Europol, Mustafa Serkan Sabanca.



WIL STEUN WERF

Die hoof van Nampol, inspekteur-generaal Joseph Shikongo; die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, Lucia Iipumbu; en die minister van internasionale betrekkinge en handel, Selma Ashipala-Musavyi, het Dinsdag die plaaslike diplomatieke korps by Nampol se hoofkantoor in Windhoek ontvang om steun vir die komende verkiesings te werf.

Volgens Shikongo is dit ’n geleentheid van groot nasionale betekenis om Namibië se kandidatuur vir die gerespekteerde posisie van president van Interpol te bevorder.

Nainda se kandidatuur verteenwoordig meer as net ’n persoonlike prestasie, volgens Shikongo “simboliseer dit Namibië se verbintenis tot wêreldwye veiligheidsamewerking, internasionale polisiëringsuitnemendheid en multilaterale samewerking”.

Hy sê die wêreld staar ontwikkelende veiligheidsbedreigings in die gesig wat grense oorskry – kubermisdaad, mensehandel, terrorisme, omgewingsmisdade en opkomende transnasionale sindikate.

“Gevolglik was die behoefte aan visionêre leierskap op globale polisiëringsvlak nog nooit so kritiek nie,” het Shikongo gesê.

Hy het verder gesê deur Nainda bring Namibië ’n “leier wat in staat is om vernuwing, inklusiwiteit en samewerkende sekuriteit na die wêreldgemeenskap te bevorder”.

“Generaal-majoor Nainda beliggaam die waardes waarvoor Interpol staan: Professionaliteit, integriteit, geslagsverteenwoordiging, Afrika-solidariteit en internasionale vennootskap,” volgens Shikongo.

Tydens haar toespraak het Nainda gesê: “Ons dra al meer as 30 jaar tot Interpol by en ons het die vaardighede, die leierskapsblootstelling en wat nodig is om Interpol verder te neem.

“Ons is so bewus daarvan dat Interpol se neutraliteit, binne die huidige geopolitieke ruimte, ten alle koste beskerm en gehandhaaf moet word.”

Volgens Nainda is sy gereed om die pos in te neem en hoewel sy die geloofwaardigheid van die ander kandidate waardeer, sê sy “ek sal buitengewone leierskap kan bied danksy my blootstelling en die mededingende voordeel wat ek bo my mededingers geniet”.

“Namibië sal verseker dat Interpol op ’n deursigtige, inklusiewe en verantwoordbare wyse bestuur word,” het sy gesê.

Ashipala-Musavyi het Namibië se bydrae tot die opheffing van die rol van vroue in veiligheid en sekuriteit wêreldwyd beklemtoon, en opgemerk dat president Netumbo Nandi-Ndaitwah ook verlede maand steun vir Nainda se Interpol-presidentskap uitgespreek het.

Nainda is die enigste vrouekandidaat, het sy benadruk.

Daar is reeds sterk steun vir Nainda vanaf SADC-lidlande en die samewerkingsorganisasie van die Suider-Afrikaanse streekpolisiehoofde (SARPCCO), sê Ashipala-Musavyi.

Sy het egter gesê steun van buite die vasteland is ook broodnodig.

[email protected]



Klik hier om na dele van die geleentheid te kyk asook Shikongo se openingstoespraak en luister na wat Nainda self gesê het: q.my.na/2JMQ

Kommentaar

Republikein 2025-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer