Meer oë vir veiliger hoofstad
Die Windhoekse stadspolisie beplan ’n groot uitbreiding van sy toesignetwerk met die aantal kameras oral die hoofstad wat na verwagting van sowat 500 tot tussen 3 000 en 5 000 sal toeneem.
Die stadspolisie wil sy gebruik van tegnologie versterk om misdaad te voorkom en openbare veiligheid te verbeter.
Die uitbreiding vorm deel van die stadspolisie se slim polisiëringstrategie wat daarop gemik is om polisiëring van ’n grotendeels reaktiewe benadering na proaktiewe en voorkomende misdaadbekamping te verskuif.
Die strategie is verlede week deur die stadspolisiehoof, Leevi Ileka, bekendgestel tydens ’n besoek deur die minister van inligting en kommunikasietegnologie, Emma Theofelus, en haar personeel aan die stadspolisie.
Die stadspolisie gebruik reeds ’n reeks tegnologiegedrewe hulpmiddels, insluitend toesigkameras, hommeltuie, lyfkameras, geoutomatiseerde verkeershandhawing en nommerplaat-herkenningstelsels.
Drie hommeltuie is tans operasioneel, met planne om die vloot uit te brei, terwyl paniekknoppie-stelsels en sensors ook gebruik word om kritieke infrastruktuur te beskerm. Volgens die slim polisiëringstrategie word tegnologie, data en doelgerigte toesig gebruik om potensiële bedreigings te identifiseer en die polisie in staat te stel om op voorvalle te reageer voordat dit vererger.
Die benadering is bedoel om misdaadvoorkoming te versterk, terwyl reaksietye en openbare veiligheid oraloor die hoofstad bevorder word.
Die minister en haar afvaardiging is amptelik deur die burgemeester van Stad Windhoek, Sakaria Uunona, ontvang en verwelkom.
Theofelus het die stadspolisie se gebruik van tegnologie verwelkom en waardering uitgespreek vir pogings om ’n veiliger en slimmer Windhoek te bou.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie