Familie loof beloning uit ná man se dood

Beweerde gebrek aan kommunikasie van Khorixas-polisie
Die familie vra die publiek om hulp nadat die ondersoek na 'n messteekvoorval op Khorixas sloer.
Desmarius Hansen
Die familie van ’n man van Khorixas wat verlede jaar in ’n steekvoorval gesterf het, het ’n beloning van N$10 000 uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming van die skuldige(s) sal lei.

Hulle sê ook dat die polisie sedert die voorval laat verlede jaar geen opdaterings aan die familie verskaf het nie.

Boykie Richard //Gowaseb (31) is op 29 November 2025 met ’n mes gesteek nadat hy sy suster se troue op Khorixas bygewoon het.

Volgens sy familie het //Gowaseb die onthaal verlaat en was hy op pad huis toe toe hy aangeval is onder omstandighede wat steeds onduidelik is.

Familielede glo dat ’n woordewisseling moontlik tot sy dood gelei het. Hulle sê egter hulle het nog geen amptelike besonderhede van die polisie ontvang oor wat gebeur het of wie moontlik vir sy dood verantwoordelik is nie.

//Gowaseb is na Windhoek gehaas vir dringende mediese behandeling, waar hy in ’n kritieke toestand opgeneem is. Hy het egter op 12 Desember 2025, byna twee weke later, aan sy beserings beswyk.

In ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) Dinsdag het //Gowaseb se suster, Allah Contesa Lukas, gesê die familie het nog geen antwoorde ontvang nie.

“Ons het geen inligting van die polisie ontvang nie – geen opdaterings, geen vordering, niks nie.

“Ons weet nie wat met die saak gebeur nie. Daar is geen verdagtes, geen arrestasies, geen opvolg met die familie en geen hofdatum geskeduleer nie,” het sy gesê.

Lukas het gesê die gebrek aan kommunikasie het die familie se hartseer en frustrasie vererger terwyl hulle oor //Gowaseb treur.

//Gowaseb se broer, Mathew Mike //Gowaseb, het haar mening beaam en die polisie se reaksie as nalatig beskryf.

“Tot nou toe is ons niks vertel nie. Daarom het ons besluit om ’n beloning aan te bied. Ons is desperaat vir antwoorde en geregtigheid vir ons broer,” het hy gesê.

Die familie het sedertdien plakkate versprei wat ’n beloning van N$10 000 uitloof aan enigiemand wat geloofwaardige inligting kan verskaf wat lei tot die identifisering en inhegtenisneming van die persoon of persone wat verantwoordelik is vir //Gowaseb se dood.

Lede van die publiek met inligting word versoek om die Khorixas-polisiekantoor of ondersoekbeamptes te kontak.

NMH het ondersoekbeampte Uupindi Dinsdag om kommentaar genader; hy het egter aangedui dat hy nie met die media oor die saak kon praat nie.

Verdere pogings is aangewend om kommentaar van polisiebeamptes te kry rakende die stand van die ondersoek en die familie se bewerings van ’n gebrek aan kommunikasie.

Volgens polisiewoordvoerder Kauna Shikwambi kan die polisie nie kommentaar lewer oor of hofverrigtinge reeds plaasgevind het nie en het NMH aangeraai om navrae aan die howe te rig.

Die voorval het kommer onder gemeenskapslede veroorsaak, met inwoners wat die tempo van ondersoeke na geweldsmisdade en die vlak van kommunikasie tussen die polisie en geraakte families bevraagteken.

“Ons wil net geregtigheid hê,” het Lukas gesê.

“Ons broer verdien dit.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer