Dit was ’n spanpoging, sê Dumbu

Phillipus Josef

Sonder direkte kommunikasie om hulle te lei en wolke wat laag oor dele van die Visrivier-canyon hang, moes polisievlieënier, komm. Florentina Dumbu, en haar lugvleuelspan vandeesweek stadig en laag deur die spoelkloof vlieg om 96 stappers op te spoor wat deur vloedwater gestrand was.

Dumbu is die Namibiese polisie (Nampol) se eerste vrouehelikoptervlieënier en bevelvoerder van NamPol se lugvleuel. 

In ’n onderhoud met Republikein het sy gesê sy het Sondag om 15:46 ’n oproep van ||Kharas se streekbevelvoerder, komm. Marius Katamila, ontvang. 

Katamila wou weet of die polisie se lugvleuel kon help om die stappers uit die kloof te ontruim. 

Sy sou die volgende dag (Maandag) met ’n sending van 18 dae begin, maar het dit uitgestel om die stappers te help.

“Ek het onmiddellik die lugwetstoepassingsbeampte, hoofinspekteur Elvis Nzwala, gebel om hom van die noodontruiming in kennis te stel en om versterkings in terme van brandstof vir die helikopter by die canyon te reël,” sê Dumbu.

Die span het Maandag om 07:30 uit Windhoek vertrek en om 09:30 in Hobas aangekom waar hul soektog afgeskop het.

Sy verduidelik die reddingsoperasie is beplan op grond van inligting wat van Katamila en veldwagters by Hobas ontvang is. Die beplanning het die verwagte vlugroete, hervulpunte, helikopterkonfigurasie en moontlike gebeurlikhede tydens die operasie ingesluit.

Volgens Dumbu moes die eerste deel van die plan noodgedwonge verander word toe lae wolke die beplande beginpunt bedek het.

“Ons kon glad nie toegang tot die beginpunt kry nie, want dit was met wolke bedek, so ons het ons soektog by die tweede oop punt begin,” verduidelik sy. 

Nadat die eerste groep stappers ontruim is, het die wolke opgeklaar en het Dumba na die oorspronklike beginpunt teruggekeer, waar 25 stappers gevind is. Die laaste vyf stappers is Maandag omstreeks 16:00 uit die canyon ontruim.

Sy het gesê die reddingspan het geen kommunikasie met die stappers gehad nie en het op ’n kaart van die canyon en opdaterings van die veldwagter by Hobas staatgemaak. Die helikopter moes laag en stadig vlieg om die groepe stappers in die canyon raak te kon sien, het sy gesê.

Die koue was ook ’n faktor, sê Dumbu, met temperature wat onder 10°C gedaal het, terwyl sterk vloedwater stappers verhinder het om die rivier oor te steek en baie gedwing het om tente op te slaan terwyl hulle gewag het vir die watervlak om te sak.

Sy erken dit was toestande wat sy nog nooit vantevore in die canyon ervaar het nie. Die vog het ook lae wolke geskep, terwyl oorstromings min plat gebiede vir die helikopter gelaat het om te land.

“Ons moes op ongelyke terrein land, baie naby aan die rante van die canyon,” verduidelik Dumba.

Sy is sedert 2011 by reddingsoperasies met die polisiehelikopter betrokke en sê elke ontruiming vereis dat die span op opleiding en vorige ervaring moet staatmaak.

Dumba sê die eerste groep stappers wat uit die canyon ontruim is, was sigbaar emosioneel toe hulle besef dat hulp opgedaag het.

Sy het beklemtoon dat die reddingsoperasie ’n spanpoging was. Die span het onder meer bestaan uit senior-inspekteur Gustav Isaaks, polisiebeamptes wat die hervulling van die polisiehelikopter behartig het, die Spesiale Reserwemag, personeel van Namibia Wildlife Resorts (NWR), veldwagters van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, Katamila en ook Court Helicopters, wat later twee helikopters as versterking gestuur het. 

“Elke enkele persoon en entiteit wat bygedra het, selfs op die geringste manier, het die operasie ’n sukses gemaak,” het Dumbu gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer