77% van voetgangers opslag dood

Meeste tussen die ouderdomme van 25 en 29 jaar
Die aantal vroue wat in padongelukke sterf, het met 109% in vergelyking met die vorige jaar gestyg.
Nikanor Nangolo
Die Motorvoertuigongelukkefonds (MVAF) se senior bestuurder vir die voorkoming van ongelukke en beserings, Ruben Uupindi, sê 77% van voetgangers sterf op die toneel, 22% in die hospitaal en sowat 1% is deel van gevalle waar die plek van sterfte nie duidelik aangedui is nie. Volgens Uupindi wys dit duidelik hoe ernstig die ongelukke is.

"Die erns kan wees weens hoë spoed of ander bydraende faktore. Sommige slagoffers sterf in ambulanse, hoewel daardie syfers nie altyd duidelik in die data weerspieël word nie," het hy Vrydag tydens ’n mediakonferensie gesê.

Volgens Uupindi het die aantal vroue wat in ongelukke sterf met 109% in vergelyking met die vorige jaar gestyg.

"Teen hierdie tyd verlede jaar, het 11 vroue gesterf, hierdie jaar is dit reeds 23. Die opvatting dat 'net mans sterf', is dus besig om te verander. Mans wat in ongelukke sterf het egter ook gestyg van 52 tot 73 wat ’n styging van 40% is. Dis kommerwekkend en ons sal moet optree," het hy gemaan.

Vir die syfers tot dusver vir 2025, het sterftes van 63 tot 96 gestyg, ’n styging van sowat 52%.

"As ons nie ons optrede op paaie verander nie, kan ons eindig met ’n styging van 100%. Oor die algemeen het die totale syfers gestyg en wel met 52% vir sterftes, beserings met 8% en totale voorvalle met 13%," het Uupindi gesê. Sowat 70% van die voorvalle betrek mense wat paaie oorsteek sonder dat ag op enige verkeer geslaan word.

Volgens Uupindi was voetgangers 32% van ongelukke uit sowat 1 000 voorvalle in voetgangerverwante gevalle wat verlede jaar aangemeld is. Voetgangers was ook 32% van alle sterftes in 2024.

"Die meeste ongelukke kom in die aand voor en veral in die tyd 18:00 tot middernag. Daar is egter ook 'n kommerwekkende tendens van ongelukke wat tussen 02:00 tot 04:00 voorkom. Ons het 'n ontleding in Maart gedoen wat gewys het dat 70% van mense wat in ongelukke tydens hierdie ure betrokke is, voetgangers was," het hy gesê.

"As jy na die afgelope vyf jaar kyk, was daar 'n effense afname in die aantal voetgangerverwante ongelukke in 2023, maar die syfers het verlede jaar weer begin styg. In 2025, as niks verander nie, gaan ons waarskynlik 2024 se syfers verbysteek," het Uupindi gewaarsku.

Met verwysing na ouderdomsgroepe is daar volgens hom 'n merkbare styging in voetgangersterftes onder mense tussen die ouderdomme van 25 en 35 jaar.

"In 2024 veral is diegene tussen die ouderdomme van 25 en 29 jaar oud die meeste geraak. Hierdie is die produktiewe burgers waarvan ons praat, die werkende bevolking en die jong volwassenes," het hy gesê.

Per streek is Khomas uitgesonder as die streek met die hoogste getal voetgangergevalle en wel 439.

"Wanneer ons egter kyk na die gedeelte vir voetgangergevalle relatief tot die aantal ongelukke binne elke streek, is dit eintlik Kavango-Oos wat boaan die lys is. In daardie streek is voetgangergevalle 45% van alle ongelukke. Khomas volg met 39% en dan Ohangwena met 36%, met Zambezi op 34%. Interessant is dat hoewel Zambezi ’n lae aantal ongelukke oor die algemeen het, die persentasie waarby voetgangers betrokke is, baie hoog is," het Uupindi gesê.

Volgens hom sal byna die helfte van die kwessie landswyd opgelos word, sou die land die probleem in Khomas takel.

Hy het gemaan een van die grootste bydraende faktore bly spoed.

"Nog 'n faktor is onbedagsame bestuurders omdat baie nie werklik dink aan die behoefte om die pad met voetgangers te deel nie. Ons het ook 'n gebrek aan voetoorgange, insluitend sebrakruisings en ordentlike wandelpaaie langs baie paaie. In terme van infrastruktuur is ons ook daarvan bewus dat daar areas is wat beduidende verbetering nodig het. Swak sigbaarheid is nog 'n kommer, omdat die meeste ongelukke waarby voetgangers betrokke is, in die aand plaasvind. Laastens kon vanjaar se reënseisoen wat baie goeie reëns gebring het, ook bygedrae het tot bykomende gevare in terme van sigbaarheid en die toestand van paaie."

Uupindi het verwys na hoërisiko-gebiede en brandpunte soos die B1, die westelike verbypad, Onafhanklikheidslaan, Hosea Kutako- en Monte Christostraat wat as problematies beskou word.

"Ons het die publiek in daardie gebiede betrek en gewys hoe om veilig die pad oor te steek. Meer moet egter gedoen word. Ons het ook mediaveldtogte en werk saam met vennote om bykomende veiligheidsmaatreëls te ondersoek en wat spoedkameras by skole, in residensiële strate en op hoofweë insluit.

"Dit is ontstellende syfers. Ons moet nou ingryp as ons teen die einde van die jaar ’n verskil wil maak. Wat doen die fonds hieraan? Ons het verskeie ingrypings geïmplementeer, het veiligheidsprogramme vir skole en voetgangers en onderrig oor padveiligheid en wetstoepassingsbedrywighede in samewerking met ons vennote in wetstoepassing," het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer