Werkloosheid dryf jeug tot dwelms, misdaad

Polisiehoof bekommerd
Sonder gestruktureerde geleenthede of ondersteuningstelsels word baie jong Namibiërs toenemend aan middelmisbruik en kriminele aktwiteite blootgestel.
Ndapandula Lilonga

Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie (Nampol), luitenant-generaal Joseph Shikongo, het ’n sterk waarskuwing uitgestuur oor die wanhopige gebrek aan ekonomiese geleenthede vir die jeug wat gekoppel word aan die groeiende dwelmkrisis. 

By die ‘Boys to Men’-seminaar in Windhoek het Shikongo aangevoer dat die land se jeug na misdaad en middelmisbruik gedryf word as ’n direkte gevolg van sistemiese werkloosheid. 

Hy het daarop gewys dat meer as 53 000 jong Namibiërs onlangs vir slegs 2 000 poste in Nampol aansoek gedoen het. Hierdie oorweldigende vraag na ’n beperkte aantal poste is nie ’n geïsoleerde tendens nie. 

Shikongo het gesê vorige werwingsiklusse het soortgelyke druk weerspieël, insluitend een geval waar sowat 40 000 aansoekers vir net 1 000 poste meegeding het. 

Die syfers, het hy aangedui, wys op ’n groeiende poel jong mense wat stabiliteit soek, maar met krimpende geleenthede binne die formele ekonomie gekonfronteer word. 

Hy het gewaarsku dat die afwesigheid van werksgeleenthede ’n toename in maatskaplike euwels aanwakker, veral onder die jeug. Volgens Shikongo word baie jong Namibiërs, sonder gestruktureerde geleenthede of ondersteuningsisteme, toenemend aan middelmisbruik en kriminele aktiwiteit blootgestel. 

“Op jul ouderdom – julle is 17 of 18 – kry julle ’n misdaadrekord. Waarheen gaan julle?” het Shikongo gevra. 

Hy het gesê vroeë betrokkenheid by misdaad lei dikwels tot langtermyn-gevolge, veral met ’n misdaadrekord wat deure na toekomstige werksgeleenthede toemaak en armoedesiklusse versterk. 

“Die toenemende aantal jong mense wat die strafregstelsel betree, weerspieël dieper strukturele uitdagings eerder as geïsoleerde voorvalle.” Die polisiehoof het ook op ’n verskuiwing in die land se dwelmlandskap gewys. Namibië, eens hoofsaaklik as ’n deurgangspunt vir internasionale dwelmhandel beskou, worstel nou met groeiende plaaslike verbruik.

Volgens Shikongo het die stryd teen dwelmmiddels verder as grensbeheer geskuif en die gemeenskappe, huishoudings en skole binnegedring. 

Hy het gesê om die krisis te takel, sal meer as net polisiëring verg. Die polisihoof het die behoefte aan breër maatskaplike en ekonomiese ingrypings beklemtoon om geleenthede te skep en jong mense van misdaad weg te lei. 


DATA TOON STYGING

Polisiedata toon dat die omvang van die krisis groei, met 2 259 verdagtes wat in die 2025-’26-boekjaar vir dwelmverwante oortredings in hegtenis geneem is, terwyl beslagleggings van N$49,3 miljoen in 2023 tot N$56,6 miljoen in 2024 gestyg het. 

Maandelikse operasies in 2025 alleen het honderde inhegtenisnemings en dwelms ter waarde van miljoene Namibiese dollars opgelewer, wat die verspreiding van dwelmmiddels oor gemeenskappe heen beklemtoon.

Intussen het die Namibië Inkomste-agentskap (NamRA) gesê hulle het onwettige dwelms ter waarde van meer as N$26,8 miljoen by die land se grense gedurende die 2024-’25-boekjaar onderskep.

Volgens Nampol se jongste dwelmverslag van Maart vanjaar, is altesaam 203 verdagtes in hegtenis geneem. Hulle sluit in 193 Namibiërs, drie Angolese en Tanzaniese burgers elk, twee van Portugal en een elk van Zimbabwe en die Kongo.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer