Waar is Siegfried?

Vermis tydens ’n jagtog
’n Bedroefde ma van Ovitoto het twee seuns jare uit mekaar op onnatuurlike wyses verloor en beide se sake is onopgelos.
Desmarius Hansen

Vir Frieda Muyanga is haar brandende vraag wat nie beantwoord kan word nie, ondraaglik: Waar is haar seun?

Vyf maande nadat die 36-jarige Siegfried Muyanga tydens ’n jagtog in die Ovitoto-gebied verdwyn het, het sy haar kommer amptelik by die Namibiese polisie (Nampol) se bevelvoerder in die Otjozondjupastreek, kommissaris Philip Hidengwa, aangemeld en gevra dat die polisiebeampte verwyder word wat haar seun se saak hanteer. 

In ’n brief gedateer 24 Julie 2026 en gerig aan Hidengwa, het Muyanga versoek dat inspekteur !Gauxab en sy ondersoekspan vervang word. Die rede hiervoor is wat Frieda beskryf as ’n gebrek aan kommunikasie, vordering en kommer oor ’n moontlike botsing van belange.

Frieda beweer sedert sy haar seun se verdwyning aangemeld het, kommunikasie tussen die ondersoekbeampte en die familie onvoldoende was. Geen bevredigende vorderingsverslae is volgens haar ook nie verskaf nie.

Volgens Frieda het !Gauxab ’n persoonlike verhouding met een van die twee mans wat saam met Siegfried op die jagtog was. Sy glo dit kan ’n botsing van belange in die ondersoek veroorsaak. 

“Hulle is swaers,” sê sy. 

Dis om hierdie rede dat haar versoek aan die polisie is om te oorweeg om !Gauxab te vervang.

Nampol het egter haar beweringe van die hand gewys dat geen of trae antwoorde aan die familie verskaf word.

Volgens ’n vorderingsverslag van die polisie wat met Republikein gedeel is, het soektogte na Siegfried van 8 April tot 1 Mei vanjaar voortgeduur. 

Soekspanne het lede van Nampol, die Otjozondjupa-streekraad, tradisionele leiers van Ovitoto en gemeenskapslede ingesluit. 

Die soektog het volgens Nampol verskeie gebiede gedek wat die plase Monte Rose-Oos en -Wes, Oviumbo, Helpman, Walfrieden en Ondereka-kamp ingesluit het. Die gebied strek van die Ondamekondo-nedersetting tot by Okandjira.

Volgens die polisie is dit moeilike terrein, met swaar reënval wat spore vernietig het en digte plantegroei wat sigbaarheid beperk het. 

“Op 10 April is ’n formele versoek ook vir lugondersteuning weens die onherbergsame terrein gerig,” lui die vorderingsverslag. 

Ten spyte van die uitgebreide soektog op die grond en in die lug is Siegfried nie gevind nie en is daar volgens die polisieverslag geen bewyse van gemene spel gevind nie.

Hoewel die primêre soektog op die grond op 1 Mei afgesluit is, bly die insameling van geteikende intelligensie en opvolgsoektogte volgens die polisie steeds aktief. Plaaslike informante en omliggende plaaseienaars word ook steeds betrek, volgens Nampol. 

Hidengwa het by navraag die bewering verwerp dat geen soektogte na Siegfried plaasgevind het nie.  

“‘’n Soektog is van stapel gestuur en dit het lank geneem. Daar was kommunikasie met die ma,” het hy bevestig. 

Volgens hom het Frieda sy kantoor juis die vorige week besoek. Hidengwa het ook die relevansie van ’n beweerde persoonlike verwantskap met die ondersoekbeampte bevraagteken.  

“Of die twee mense verwant is of nie, wat het dit te doen met ’n vermiste persoon se saak? Wat is die probleem?” wou hy weet.

Die bevelvoerder het ook gemaan teen die verdwyning wat sonder bewys van sterfte as ’n saak van moord beskryf word. 

“Die saak van moord wat sy (ma) wil hê die polisie moet open, is onmoontlik. Wat as die persoon nog leef? Slegs wanneer oorskot gevind word, kan ’n ondersoek van stapel gestuur word.”

Volgens Frieda is Siegfried op Woensdag 8 April omstreeks 15:00 genooi om saam te gaan jag en het hy kort voor 16:00 die huis verlaat. 

Volgens haar het hy aanvanklik huiwerig voorgekom om saam te gaan. Sy onthou sy het hom hoor sê: “Ek weet nie”, maar sy vriend het hom oortuig om by die jagtog aan te sluit. Hy het die aand nie weer teruggekeer nie. 

Om 06:02 die volgende oggend het die vriend sonder Siegfried teruggekeer en gesê haar seun was naby in die omgewing en sou binnekort by die huis wees.

Frieda was bekommerd en het sy selfoon gebel, maar daar was geen antwoord nie. Sy het later ontdek die vriend het sy selfoon en flitslig by die huis gelos.

Volgens die polisieverslag het die vriend tydens ’n onderhoud gesê hy het Siegfried se selfoon en flitslig in ’n plastieksak gesit om dit teen die reën te beskerm. Siegfried se sak is gebruik om die vleis te dra.

Die polisie sê drie mans het op die jagtog gegaan - Siegfried, die vriend wat hom aanvanklik genooi het en nog ’n derde man. 

Volgens die polisieverslag het die drie mans twee vlakvarke gejag en geslag, voordat swaar reën met hul terugkeer uitgesak het. Volgens die ondersoekverslag het Siegfried van uitputting gekla. 

“’n Vuur is gemaak en vleis is gebraai sodat hy sy energie kon herwin,” lui die ondersoekverslag. 

Die ander twee mans het na bewering vervoer na Okahandja sonder Siegfried gereël. Een het later na sy huis teruggekeer met die gedagte dat Siegfried agter hulle is en uiteindelik sy eie pad huis toe sou vind, omdat hy die gebied ken het.

Die polisieverslag dui die dag en tyd van Siegfried se verdwyning as Dinsdag 7 April omstreeks 02:00 aan, terwyl die familie sê Siegfried het op Woensdag 8 April vir die jagtog vertrek. Sy verdwyning is volgens polisierekords op 8 April omstreeks 11:00 aangemeld.

Frieda beskryf haar seun as ’n stil man wat sy eie geselskap verkies. Hy is lief vir honde, maak saam met haar klere en het gehelp om sy twee seuns van onderskeidelik agt en 14 jaar oud te onderhou. 

“Hy is my regterhand en my steunpilaar,” het Frieda gesê en het ook ’n groot deel van die gesin se huis gebou. 

Volgens die bedroefde ma is dit nie haar eerste ervaring van verlies van ’n kind nie. Een van haar seuns het jare gelede verdrink toe hy vyf jaar oud was en na bewering in ’n dam ingestamp is. Die omstandighede rondom sy dood is ook steeds onopgelos. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer