No Image Caption

Verdagte vas ná aanval op vrou op Aroab-plaas

Francoise Steynberg
Terwyl ’n 61-jarige vrou se man op ’n jagtog was, is sy op hul plaas in die Aroab-omgewing in die ||Kharasstreek glo deur ’n Namibiese man oorval, beroof en verkrag, volgens die Namibiese polisie (Nampol).

Die koördineerder vir misdaadondersoeke in die streek, adjunkkommissaris Nicodemus Mbango, het gesê die verdagte het na bewering geld gesteel en van die plaas af in die bergagtige gebied op die vlug geslaan.

“Die slagoffer kon daarin slaag om hulp by die bure te gaan soek,” het hy gister aan Network Media Hub (NMH) gesê en Nampol en die streek se misdaadvoorkomingsforum is van die voorval in kennis gestel.

“Die Namibiese polisie, boere en gemeenskapslede het saamgespan en ’n soektog van stapel gestuur.”

Volgens ’n lid van die Aroab Boerevereniging (BV) het boere dadelik begin om spoor te sny en sowat 50 voertuie en selfs ’n girokopter is in die reusesoektog ingespan. Maatreëls is in die streek en by die Rietfontein-grenspos opgeskerp.

“Volgens die slagoffer was daar twee verdagtes” het die BV-lid aan NMH gesê. Mbango het egter die arrestasie van een verdagte gisteroggend vroeg bevestig.

“Die verdagte, ’n Namibiese man, is omstreeks 03:00 in die Aroab-dorp in hegtenis geneem,” het hy gesê.

Volgens Mbango sal die verdagte vandag of môre in die rondgaande hof op Aroab of in die Keetmanshoop-landdroshof verskyn.

Die BV-lid het gesê hulle het gereël dat die slagoffer na die distriksgeneesheer op Keetmanshoop geneem word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer