Die medisyne is glo van die Otjiwarongo-staatshospitaal gesmokkel. Foto Otji FM
Die medisyne is glo van die Otjiwarongo-staatshospitaal gesmokkel. Foto Otji FM

Twee polisielede sterf in ongeluk

Naweek van tragedie, misdaad
Die polisie ondersoek verskeie voorvalle van noodlottige padongelukke, selfdood, rooftogte en diefstalle.
Elizabeth Kheibes

Die dood van twee polisiebeamptes in ’n ongeluk naby Rosh Pinah het ’n somber naweek ingelui, gekenmerk deur noodlottige ongelukke, vermoedelike selfmoorde, gewapende rooftogte en diefstalle wat tussen Vrydag en Sondag oraloor Namibië aangemeld is.

Sersant Ndondji Mandjoni (29) en konstabel Conny Petrus het Vrydag­aand hul lewens verloor toe ’n bakkie van die Namibiese polisie (Nampol) op die C-13-pad, sowat 77 kilometer van Rosh Pinah in die rigting van Aus, omgeslaan het.

Volgens Nampol se misdaadverslag van die naweek was die voertuig op pad na Aus toe die bestuurder na bewering beheer verloor waarna dit omgeslaan het. 

“Mandjoni, wat die voertuig bestuur het, en Petrus het op die toneel aan hul beserings beswyk. Twee ander insittendes het ernstige beserings opgedoen en is vir behandeling na Oranjemund Privaat Hospitaal vervoer,” het die hoofwoordvoerder van Nampol, adjunkkommissaris Kauna Shikwambi, gesê. 

Dié ongeluk was een van verskeie noodlottige voorvalle wat oor die naweek landswyd aangeteken is. Op Oshakati is ’n man, geïdentifiseer as Benhard Katana, kort ná middernag op Sondag dood toe ’n Toyota-bakkie van die pad af is, teen ’n sypaadjie gebots het en in ’n waterkanaal naby Fachas Bar in die Uupindi-gebied beland het.

Die polisie het gesê verskeie insittendes is tydens die ongeluk uit die voertuig geslinger. 

“Benhard Katana het op die ongelukstoneel aan sy beserings beswyk,” het Shikwambi gesê.

Die bestuurder het na bewering te voet van die toneel gevlug, maar is later opgespoor en sowat 600 meter verder agter die Eluwa Total-vulstasie in hegtenis geneem. Ander passasiers het matige tot ernstige beserings opgedoen.

Nóg ’n noodlottige ongeluk het Vrydag­aand in Katutura plaasgevind toe ’n Range Rover met ’n Suzuki by die kruising van Onafhanklikheidsrylaan en Hans Uirabstraat gebots het.

Die polisie het gesê die impak het veroorsaak dat die Suzuki verskeie kere gerol het voordat dit tot stilstand gekom het. Die Suzuki-bestuurder is by aankoms by Katutura-staats­hospitaal dood verklaar, terwyl twee vroulike passasiers en ’n driejarige meisie beserings opgedoen het en steeds onder mediese sorg is. 

Die bestuurder van die Range Rover en sy 14-jarige seun is ongedeerd. ’n Asemtoets wat op die bestuurder gedoen is, het geen tekens van alkohol getoon nie.

Vroeër Vrydag­oggend is die 26-jarige Haukena Lomboleni op slag dood nadat hy beheer oor sy Honda Fit verloor en teen ’n boom by Oshalumbu-nedersetting naby Okongo gebots het.

In ’n afsonderlike ongeluk Saterdag­aand is die 58-jarige Petrus van Wyk dood toe sy Isuzu-enkelkajuitbakkie op ’n grondpad tussen Rehoboth en Schlip omgeslaan het.


MINDERJARIGES PLEEG GLO SELFDOOD

Benewens die padsterftes ondersoek die polisie twee afsonderlike vermoedelike voorvalle van selfdood van minderjariges in die Omusatistreek. ’n Tienermeisie (16) is Vrydag­middag in haar kamer by die Oshoogolo-nedersetting in die Etayi-kiesafdeling gevind. 

Net ure later is ’n negejarige seun aan ’n mopanieboom voor sy familie se huis in dieselfde nedersetting gevind. Beide het hulself vermoedelik gehang en die polisie het gesê geen selfmoordbriewe is gevind nie.

Intussen het die polisie ’n geregtelike ondersoek geopen nadat die ontbinde liggaam van die 58-jarige Johanna Jagger, ook bekend as Karkies, Saterdag deur ’n bokwagter in die bosse naby Mariental ontdek is. Jagger is sedert 31 Mei as vermis aangemeld. 

“Familielede het die klere positief geïdentifiseer as inderdaad dié van hul familielid wat laas gedra is voordat sy vermis geraak het,” het Shikwambi gesê.

Die polisie ondersoek ook steeds ’n gewapende rooftog by ’n hardewarewinkel in Chinese se besit op Karibib, waar drie verdagtes na bewering twee Chinese met kabelbinders vasgebind het voordat hulle met ongeveer N$150 000 kontant en ander waardevolle items gevlug het.

Elders het drie mans (37, 35 en 25) Saterdagoggend na bewering op die plaas Reimhoogte in die Nauchas-gebied goedere ter waarde van sowat N$25 000 by hul werkgewer gesteel en met ’n wit Suzuki weggekom. Die voertuig met die gesteelde goedere is later op die plaas Laybank gevind. Die verdagtes is in hegtenis geneem en die ondersoek duur voort. 

Op Otjiwarongo is ’n 40-jarige Kongolese burger in hegtenis geneem omdat hy na bewering medisyne sonder die vereiste permitte verkoop het.

Gesondheidspersoneel wat die perseel besoek het, het

dit as ongeskik vir die berging van medisyne beskryf.

Die verdagte sou gister in die landdroshof op Otjiwarongo op aanklagte van die oortreding van medisyne- en aptekerswette en die diefstal van staatseiendom verskyn het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer