Twee 'beesslagters' vasgetrek
Dis soos ‘cowboys en crooks’ in die werklike lewe, maar dit was puik spanwerk.
Dit is die woorde van ’n boervrou van Gamsberg nadat twee uit vyf vermeende beesdiewe ná ’n jaagtog Donderdagaand vasgetrek is.
Dit volg ná uitstekende samewerking tussen lede van die Namibiese polisie, reserviste en boere en die Gamsberg-buurtwag wat ook op vier beeskarkasse, twee Volkswagen Polo-voertuie, ’n vuurwapen en messe beslag gelê het.
“Naby Vaalgras het die drie vermeende viediewe weggehardloop toe hulle afgetrek is. Die karre is op kameras dopgehou en daar is vir hulle gewag om terug te ry Windhoek toe met die vleis,” het die boervrou, gesê wat nou betrokke is by die Gamsberg-buurtwag.
“Die tweede Polo is daarna op erge spoed deur die Kupferberg-padblokkade waar boere, polisie en reserviste klippe in die pad gepak het om hulle af te trek.
“Die Polo het daarna ’n papwiel gekry en aangejaag tot naby die vullisgate waar boere se sekuriteitswagte hulle gevang en die polisie hulle gearresteer het.”
Boere prys veral vir adjudanktoffisier Ingo Burtze van die veediefstaleenheid wat ’n groot rol in die suksesverhaal gespeel het.
Daar word vermoed die vermeende veediewe het vanaf die plaas West Ende ver met vier beeste tot by die D1982-pad tussen Vaalgras en Hohenhorst gestap het waar die slagters in die Polo gewag en die beeste langs die pad geslag en gelaai het.
Een van die verdagtes is glo ’n ou kalant wat verlede jaar op die plaas Terra Rossa op die C28-pad bonsmara-stoetbees geslag en in hegtenis geneem is.
Die polisie het hom glo erken as ’n gewoontemisdadiger en hy het selfs Donderdagaand dieselfde baadjie as destyds aangehad.
Boere in die omgewing wes van Windhoek gaan erg gebuk onder vee- en wilddiefstal en talle klagtes is al oor die gebrek aan die doeltreffendheid van die Kupferberg-padblokkade by polisiehoofde gemaak. Intussen gaan daar weer ’n vergadering met hoëlui in polisie wees om kameras by die padblokkade te installeer nadat polisiemanne glo Woensdag weer geld van Duitse toeriste geëis het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie