Wyle Norbert Neumann van die plaas Spesbona in die Hochfeld-omgewing in die Okahandja-distrik. Foto Facebook
Wyle Norbert Neumann van die plaas Spesbona in die Hochfeld-omgewing in die Okahandja-distrik. Foto Facebook

Tienermeisie verkrag, doodgeskiet op plaas naby Otavi

Boer sterf in kwadfietsongeluk
Polisieondersoeke na die tragiese voorvalle in die Otjozondjupastreek duur voort.
Phillipus Josef

’n Meisie (16) is Vrydagaand op ’n plaas sowat 62 kilometer van Otavi gverkrag en doodgeskiet, terwyl die polisie nou na ’n 26-jarige verdagte soek wat steeds op vrye voet is. 

Die hoof van gemeenskapspolisiëring van die Namibiese polisie (Nampol) in die Otjozondjupastreek, senior inspekteur Maureen Mbeha, het die voorval bevestig en gesê die oorledene het glo verlede Vrydag omstreeks 17:00 die huis verlaat om haarself in die bosse te verlig. 

Omstreeks 18:00 het haar huisgenote na bewering ’n skoot gehoor, maar het nie gaan ondersoek instel wat gebeur het nie. Die meisie het nie huis toe teruggekeer nie, wat die volgende oggend tot ’n soektog gelei het. 

Tussen 08:00 en 09:00 Saterdag het een van die mans op die plaas na bewering die rigting gevolg waarheen die meisie die vorige aand gegaan het. 

“Terwyl hy na haar gesoek het, het hy wat soos bloedvlekke gelyk het op ’n plaaspaadjie opgemerk. Die bloedspoor het hom na bewering na die meisie se liggaam gelei, wat op haar rug ongeveer 43 meter van die huis af gelê het,” het Mbeha gesê. 

Die man het toe terug huis toe gegaan en die polisie gekontak. 

“Toe die polisie op die toneel aankom, het beamptes moontlike bloedvlekke op die vrou se gesig en ander dele van haar liggaam waargeneem. 

“Twee moontlike skietwonde aan haar liggaam is ook opgemerk.” 

Mbeha het bevestig dat die tienermeisie verkrag is. 

Die polisie het gesê die slagoffer is gevind bedek met ’n wit kortbroek wat glo aan haar behoort, asook ’n groen hemp wat mense op die plaas vermoed aan die verdagte behoort. Voorlopige ondersoeke van die polisie het vasgestel dat die verdagte op dieselfde plaas woon, maar by ’n ander pos. 

Volgens die polisie het die verdagte glo Vrydag ’n ander boer by ’n ander pos op dieselfde plaas besoek. 

Die boer het na bewering sy huis verlaat om na ’n nabygeleë dam te gaan. Toe hy terugkeer, het hy glo ontdek dat die verdagte nie meer daar was nie en dat sy geweer weg is. 

Die polisie het gesê die geweer word bo-op ’n bed in ’n geweersak en met ’n kombers bedek in ’n sinkhuis gehou. 

Met die boer se terugkeer het hy glo net die geweersak gevind. Daar word vermoed dat die vuurwapen dieselfde geweer is wat in die moord gebruik is. 

Die verdagte, wat aan mense op die plaas bekend is, is nog nie in hegtenis geneem nie en is steeds voortvlugtig. 

Die polisie het ’n soektog na hom van stapel gestuur, terwyl ondersoeke na die omstandighede rondom die verkragting en moord, asook die vermiste vuurwapen, voortduur. 

Haar liggaam is deur patologiebeamptes na die Otjiwarongo-polisiehospitaal se lykshuis vervoer.


HOCHFELD-BOER STERF TRAGIES

Ook in die Otjozondjupastreek, is ’n bekende boer, Norbert Neumann (62) van die plaas Spesbona in die Hochfeld-omgewing in die Okahandja-distrik se ligaam omstreeks 080:00 deur plaaswerkers gevind.  

Volgens Nampol se misdaadverslag van die naweek dui “voorlopige ondersoeke en waarnemings op die toneel daarop dat die oorledene blykbaar ’n vierwielmotorfiets versnel het en ’n laaghangende horisontale boomtak het hom in die nek getref” 

Neumann se naasbestaandes is in kennis gestel en sy liggaam is na die Okahandja-staatshospitaal geneem en waar hy amptelik deur ’n dokter dood verklaar is. 

’n Nadoodse ondersoek sal uitgevoer word om die oorsaak van sy dood te bepaal en die polisieondersoek duur voort.

Uit die landbougemeenskap stroom huldeblyke vir wyle Neumann in: “Rus in vrede, Norbert Neumann, jy was ’n wonderlike mens, ’n gentle spirit, ’n ware gentleman. Innige simpatie aan die familie,” skryf Namib Chilli op Facebook. 

Henriëtte La Grange, boervrou en stigter van Droogtehulp Namibië skryf: “Norbert was ’n welbekende en geliefde persoon in ons boeregemeenskap en sy heengaan laat ’n groot leemte. Hy sal deur baie mense onthou en gemis word.

“Ons innige meegevoel gaan aan sy familie en vriende in hierdie baie moeilike tyd. Mag die Here julle vertroos, krag gee en julle dra in die dae wat voorlê.”

– [email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-09-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer