Steeds geen antwoorde oor Okahandja-moorde

Aurelia Afrikaner
Ná die onlangse dood van ’n 21-jarige man op Okahandja is ou wonde weer oopgekrap van familielede van drie jong meisies wat verlede jaar op dié dorp vermoor is.

Ongeveer ’n jaar ná die tragiese dood van Ingrid Maasdorp, Roswinds Ndinelao Fabian en Beyoncé !Kharuxas het die gebrek aan vordering in die ondersoeke hul families in wanhoop gelaat.

Die vyfjarige Ingrid, ’n graad 0-leerling aan die Gekombineerde Skool K.W. Von Marees, is op 20 Maart 2025 as vermis aangemeld nadat sy by die skool afgelaai is en nie daardie middag van die skool af teruggekeer het huis toe nie.

Haar liggaam is die volgende dag in ’n tonnel naby die nuwe brug langs die A1-pad in Veddersdal ontdek, ’n grusame ontdekking wat die familie en gemeenskap verpletter het.

Net meer as ’n maand later het Roswinds (6) op 24 April 2025 vermis geraak nadat sy ook nie van die Gekombineerde Skool K.W. Von Marees teruggekeer het huis toe nie. Haar liggaam is die volgende dag onder traumatiese omstandighede agter die Veddersdal-begraafplaas gevind.

Vier dae later is die liggaam van die 15-jarige Beyoncé op 27 April in Okahandja se Vyfrandkamp-nedersetting ontdek. Dié skokkende gebeure het die gemeenskap in rou gedompel en die vermoorde meisies se families het geregtigheid en antwoorde geëis.

Die gemeenskap het in April verlede jaar ’n klagskrif, wat deur 9 677 besorgde inwoners in en om Okahandja onderteken is, aan die adjunkminister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Dino Ballotti, oorhandig. Hulle het daarop aandring dat geregtigheid moet seëvier.

Die families van die vermoorde meisies het gister hul frustrasie teenoor die owerhede se gebrek aan kommunikasie uitgespreek.

Roswinds se ma het by navraag van Network Media Hub (NMH) die polisie se stilswye oor die vordering van die ondersoek betreur.

’n Familielid van Beyonce het ook gesê dat daar geen opdaterings was nie, wat die families in “’n toestand van angstige onsekerheid gelaat het”.

Wyle Ingrid se ouma, Dolly Maasdorp, het haar teleurstelling oor die voortgesette stilte uitgespreek.

“Daar word glad nie gekommunikeer oor hoe ver die ondersoeke gevorder het nie,” het sy gesê.

Sy sê die owerhede het haar in November meegedeel dat forensiese spanne besig was om DNS-monsters by die skool en koshuis in te samel.

“Hulle wou nie veel of enigiets sê oor die ander DNS wat geneem is nie,” het sy bygevoeg.

Ten spyte van die hartseer het Maasdorp haar dankbaarheid uitgespreek teenoor die twee onderwysers wat Ingrid se begrafnis bygewoon het. Sy het egter benadruk dat die skool haar steeds antwoorde verskuldig is.

“Ek gee nie om vir hoeveel die prokureur die skool dagvaar nie. Al wat ek regtig wil hê, is antwoorde,” het sy met ’n bewerige stem gesê.

Sy het die skool verder gekritiseer vir nalatigheid en gesê daar was geen WhatsApp-groep of ander kommunikasie om ouers in te lig nie.

“Mense blameer my dat ek haar [Ingrid] daardie dag skool toe gestuur het, al is sy met ’n motor afgelaai. Hulle kan my blameer, maar ek weet sy was veilig in die oggend,” het sy gesê.

Volgens Maasdorp het die skoolhoof geweier om kommentaar te lewer.

Terwyl die ondersoek voortduur, bly die families van Ingrid, Roswinds en Beyonce vasgevang in verdriet en onbeantwoorde vrae.

Die hartseer van die families word vererger deur die stilswye van beide die owerhede en die skool, wat die gemeenskap desperaat laat vir geregtigheid en verantwoordbaarheid.

JONGSTE VOORVAL

Intussen word die voorval waarin Benjamin Rukero (21), verlede Dinsdag in die Okahandja-staatshospitaal aan veelvuldige steekwonde beswyk het, steeds ondersoek, met geen verdagtes wat nog in hegtenis geneem is nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer