Die polisiebeampte en beweerde skieter, sersant Dimbulukeni Nhamila. Foto ARGIEF
Die polisiebeampte en beweerde skieter, sersant Dimbulukeni Nhamila. Foto ARGIEF

Polisie gedagvaar oor noodlottige skietery

Enigste broodwinner
’n Koeël het ’n vragmotorbestuurder in die maag getref en hy is op die toneel dood.
Staff Reporter

Nuusredaksie – Die familie van ’n man wat verlede jaar na bewering deur die polisie by ’n padblokkade doodgeskiet is, eis miljoene in skadevergoeding.

Die 38-jarige vragmotorbestuurder is by die Onhuno-padblokkade doodgeskiet. Sy familie het ’n siviele eis teen die regering ingestel vir die verlies aan finansiële ondersteuning, vir wat sy familie beweer ’n onwettige moord was.

Volgens dokumente wat by die hoërhof ingedien is, eis wyle Eliud Shilongo Hamukwa se minderjarige seun en sy ouers skadevergoeding van N$3,5 miljoen. Die familie beweer sy dood het hulle nie net van ’n broodwinner ontneem nie, maar ook ernstige emosionele trauma veroorsaak het wat sielkundige sorg vereis. 

Hamukwa se minderjarige seun eis N$2,3 miljoen, insluitend N$2 miljoen vir emosionele pyn en lyding en N$300 000 vir verlies aan onderhoud. Hamukwa se ouers eis elk N$600 000 vir emosionele nood en verlies aan finansiële ondersteuning.

Die regsgeding wat vandeesweek deur die menseregteprokureur Norman Tjombe aanhangig gemaak is, noem die regering as die enigste verweerder, wat verteenwoordig word deur die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit wat vir polisiëring verantwoordelik is.

Volgens ’n voorlopige polisieverslag was Hamukwa na bewering in ’n woordewisseling met ’n polisiebeampte betrokke, nadat hy met sy vragmotor by die padblokkade stilgehou het. Die polisiebeampte het glo vir Hamukwa en sy passasier meegedeel dat hul dokumentasie onvoldoende was.

Volgens die polisie het Hamukwa glo ná die onderonsie weer terug in die vragmotor geklim en in die rigting van ’n vrouepolisiebeampte gery wat die kontrolepunt beman het.

Nog ’n polisiebeampte, sersant Dimbulukeni Nhamila (43), het na bewering sy vuurwapen uitgehaal en skote op die vragmotor afgevuur. Een van die skote het glo vir Hamukwa in die maag getref en hy is op die toneel dood.

Die polisie het verlede jaar bevestig Hamukwa is na ’n onderonsie met polisiebeamptes geskiet nadat hy nie dokumentasie vir die weegbrug kon toon nie. 

Die polisie het beweer die situasie het geëskaleer toe Hamukwa met die vragmotor in die rigting van ’n polisiebeampte gery het, wat tot sy skietdood gelei het. 

Nhamila is na die voorval in hegtenis geneem en van moord aangekla en is borgtog in die landdroshof op Ohangwena geweier. 

Die voorval het wyd opslae gemaak, met Hamukwa se familie wat geregtigheid eis en kommer uitgespreek het oor die polisie se aanspreeklikheid en gebruik van geweld. 

Hamukwa was die enigste broodwinner vir sy gesin wat volgens sy familie die finansiële en emosionele impak van sy dood vererger het. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer